Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tito mis al weer sessie oor Mpati-verslag

Parlementslede was Woensdag vies omdat Tito Mboweni, minister van finansies, al weer nie opgedaag het vir ’n vergadering waar die Mpati-kommissie se aanbevelings oor die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) bespreek sou word nie.

Parlementslede was Woensdag vies omdat Tito Mboweni, minister van finansies, al weer nie opgedaag het vir ’n vergadering waar die Mpati-kommissie se aanbevelings oor die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) bespreek sou word nie. Foto: Jaco Marais

Mboweni was in ’n kabinetskomiteevergadering.

Hy het in Julie gevra die vergadering moet uitgestel word, maar hierdie keer het hy nie eens verskoning gevra dat hy nie die uitgestelde vergadering kon bywoon nie, het Joe Maswanganyi, voorsitter van die staande komitee oor finansies, gekla.

Abel Sithole, nuwe uitvoerende hoof van die OBK, was wel reg om die staande komitee oor finansies toe te spreek oor die implikasies van die Mpati-kommissie se aanbevelings, maar Maswanganyi het gesê dit help nie die politieke hoofde is nie teenwoordig nie.

’n Vergadering waar Mboweni of minstens dr. David Masondo, adjunkminister van finansies, ook teenwoordig kan wees, sal vir Donderdag of Vrydag gereël word.

Die Mpati-kommissie is al ontbind, die verslag is aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig, en die president het die taak aan Mboweni gedelegeer om te sorg dat Mpati se aanbevelings in werking gestel word, het Maswanganyi gesê.

Dit behels omvattende verbeterings in korporatiewe beheer by die OBK, asook die manier waarop beleggingsbesluite geneem word. Dit volg op ernstige bewerings van wanbestuur en onderduimse beleggingsbesluite wat by die OBK geneem is toe die vorige hoof, dr. Dan Matjila, nog in beheer was. Die OBK bestuur die beleggings van die staatspensioenfonds, waarvan Sithole tot onlangs die hoof was, asook die geld van die Werkloosheidsversekeringsfonds, die Vergoedingsfonds en ander kleiner staatspensioenfondse.

Mpati se ondersoek het bevind Matjila asook dr. Iqbal Survé, voorsitter van die Sekunjalo-groep, het hul posisies misbruik om beleggingstransaksies van die OBK in hul guns te beklink.

Die kommissie het aanbeveel forensiese ondersoeke word gedoen na alle transaksies tussen die OBK en Sekunjalo, en dat twee voormalige OBK-direkteure wat ook by VBS Mutual Bank as direkteure gedien het, deur die nasionale vervolgingsgesag ondersoek moet word.

Floyd Shivambu, EFF-lid van die komitee, het gekla die wysigingswetsontwerp oor die OBK word vertraag omdat die Mpati-verslag nog nie bespreek is nie. Die wetsontwerp is al meer as ’n jaar gelede deur die parlement goedgekeur maar is nog nie bekragtig nie.

Die nuwe wetgewing dwing die OBK om deursigtiger oor sy beleggings aan die parlement, die publiek en sy deposante verslag te doen, en ook dat daar vakbondverteenwoordigers op sy direksie dien.

Met die Nugent-kommissie van ondersoek na wanbestuur by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het regter Robert Nugent self in die parlement kom verslag doen oor sy werk, het Shivambu gesê. Hy meen dus regter Lex Mpati behoort ook self te kom verslag doen.

Adv. Frank Jenkins, regsadviseur van die komitee, het bevestig niks verhoed die komitee om wel vir Mpati te vra om te kom verslag doen nie, al is die kommissie al ontbind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.