Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tito raas en blaas, maar betaal self géén e-tol

Tito Mboweni, minister van finansies, sluk waarskynlik sy woorde nadat dit Woensdag aan die lig gekom het dat hy vanweë sy ministeriële voordele self nie e-tol betaal nie.

Tito Mboweni, minister van finansiesFoto: Argief

Mboweni vaar die afgelope paar dae op Twitter uit teen die sogenaamde “wanbetalers” van dienste soos e-tol.

Die minister het onder meer getwiet dat “alle gebruikers” vir e-tol móét betaal, ongeag wie hulle is.

Mboweni meen gebruikers van Suid-Afrika se padinfrastruktuur moet daarvoor betaal, want padagentskappe wat die infrastruktuur bou en in stand hou, verwag ’n opbrengs op hul belegging.

Ironies genoeg hoef Mboweni self nie ’n sent te betaal aan agentskappe soos die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap nie, want as minister is hy daarvan kwytgeskeld.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het bevestig dat die ministeriële handboek daarvoor voorsiening maak.

Die organisasie meen reeds ’n geruime tyd dat die e-tolstelsel ’n mislukking is en geskrap moet word.

Ministers se e-tolgelde word saam met ander instandhoudingsgelde en ’n brandstoftoelaag deur ’n “transversale kontrak” wat deur die regering – dus die staatskas – gedek word.

“Met ander woorde, belastingbetalers dok op, nie die amptenare nie,” het Outa Woensdag getwiet.

“Basta met die idee van ‘almal’ moet betaal.”

Mboweni het veral met David Makhura, Gautengse premier, vasgesit in ’n bekgeveg op Twitter nadat Makhura ook gesê het dat e-tol geskrap moet word.

Die bekgeveg tussen Mboweni, Makhura en ander senior ANC-lede in die provinsie het só uitgekring dat pres. Cyril Ramaphosa Saterdag moes ingryp.

Ramaphosa het dit as ’n “uiters onnodige en betreurenswaardige” openbare twis beskryf.

Mboweni het sedertdien van sy meer strydlustige twiets verwyder.

’n Skermgreep van een van Tito Mboweni se twiets die naweek wat hy sedertdien verwyder het. Foto: Twitter
Nog ’n skermgreep van een van Tito Mboweni se twiets die naweek wat hy sedertdien verwyder het, en waarin hy David Makhura oor dié premier se ondersteuning van die veldtog teen e-tol pak. Foto: Twitter

Dit sluit in ’n twiet waarin hy Makhura “waarsku” om nie met hom skoor te soek nie. Mboweni het die premier herinner dat die nasionale regering die bron van die provinsie se begroting is.

Die ANC in Gauteng wil wel hê dat die e-tolstelsel geskrap word.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Dinsdag in die parlement bevestig dat die plan nou amptelik aandag geniet.

Mbalula, Mboweni en Makhura werk nou op instruksies van Ramaphosa saam om teen einde Augustus met ’n oplossing vorendag te kom.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  David Makhura  |  Fikile Mbalula  |  E-Tol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.