Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Gaan boer,’ sê Tito aan dié wat Standard Bank aflê

Tito Mboweni, minister van finansies, het onder skoot gekom nadat hy in ’n twiet voorgestel het dat diegene wat Standard Bank aflê, moet gaan boer.

Standard Bank het Donderdag aangekondig hy wil 91 takke teen einde Junie sluit. Nagenoeg 1 200 werknemers gaan in die proses afgedank word.

In reaksie op dié nuus het Mboweni getwiet: “Op ’n positiewe noot moet afgedankte werknemers dalk hieraan dink. Dis net ’n gedagte. Ontbyt elke dag: eiers, spek, gebakte boontjies, brood! Sakegeleenthede: Kom ons gaan boer!”

tito

Die negatiewe reaksie op wat sommige beskou het as ’n baie onsensitiewe boodskap van die minister, het Mboweni genoop om die twiet spoedig uit te vee.

“Regtig? Afleggings is hartverskeurend. Is jy al daardeur? Ek weet nie hoe ek my rekeninge gaan betaal of kos op die tafel gaan sit vir my seun nie.

“Dis stresvol en emosioneel. Jy is regtig in die duister,” het Gina Blackburn getwiet.

Mboweni het die afleggings in ’n afsonderlike twiet as ’n “onwelkom gevolg van die vierde industriële revolusie” beskryf en gesê die bank is van blaam onthef.

“Hulle konfronteer die realiteit,” het hy gesê.

Dié twiet is ook intussen verwyder.

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer vroeër vanjaar sy begrotingsrede. Foto: Getty Images

’n Woordvoerder vir die bank het Donderdag verduidelik dat Standard Bank besig is om sy kleinhandel- en sakebankdienstemodel vanweë “die veranderende behoeftes van sy kliënte te midde van die vinnige aanvaarding van digitale bankprodukte en -dienste te hersien”.

Die afleggings is die gevolg van al minder kliënte wat takke besoek aangesien die meeste bankdienste aanlyn beskikbaar is.

Mense het ook in reaksie op Mboweni se voorstel gewonder waar hulle die grond vandaan moet kry waarop kwansuis geboer moet word.

“Regtig, Tito? Grond? As ’n mens afgelê is, kan jy nie eens só ’n heerlike ontbyt bekostig nie,” het Rabs Gundula getwiet.

Ander het weer gevra dat pres. Cyril Ramaphosa stappe teen Mboweni te doen.

“Ons kan jou nie meer ondersteun of vertrou as daar mense soos Tito Mboweni in jou kabinet is nie. Hy hou aan om neer te sien op en met die worsteling van mense te spot.

“Dis onaanvaarbaar,” twiet ’n ander persoon.

Volgens Eugene Ebersohn, assistent-sekretaris-generaal van die bankwerkersvakbond Sasbo, is die pakkette wat die bank aanbied, baie ruim.

“Die bank bied veel meer aan as wat die wet vereis. Boonop bied hy dan ’n ekstra 15% as aansporing aan vir mense wat bereid is om ’n vrywillige skeidingspakket te aanvaar.

“Ons hoop dat mense wat dalk al lankal die diens van die bank wou verlaat, ’n vrywillige pakket sal aanvaar, wat diegene wat nie die bank se diens kan of wil verlaat nie, in staat sal stel om aan te bly.”

Standard Bank het luidens sy resultate nou 629 takke landwyd. Ná die herstrukturering sal hy 538 takke hê.

Meer oor:  Standard Bank  |  Tito Mboweni  |  Afleggings  |  Twitter  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.