Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tito soek African Bank as staatsbank, maar hoekom?

Tito Mboweni, minister van finansies, is al jare lank ’n voorstander van ’n staatsbank en nou reken hy African Bank is ’n goeie platform daarvoor.

Mboweni het op Twitter gesê ’n staatsbank kan die finansiële stelsel ontwrig en die oproep daarna is “hard, duidelik en dringend!”

Dis onseker wat Mboweni se nuutste Twitter-stroom oor ’n staatsbank meegebring het, maar hy verwys wel na die onlangse bedanking van Basani Maluleke as uitvoerende hoof van African Bank en eis dat die direksie dit verklaar.

Dit kom ook nadat die Bankvereniging van Suid-Afrika die afgelope week toegegee het net ’n fraksie van die R100 miljard wat die regering wou hê banke moet uitleen aan ondernemings wat deur die Covid-19-pandemie geknou is, is wel uitgeleen.

Het SA staatsbank nodig?

Kenners is nie so seker of ’n staatsbank ’n goeie plan is nie.

African Bank het die afgelope jaar ’n verlies gely.

Nazmeera Moola, beleggingshoof van Ninety One, sê sy kan nie eens die nut aan enige staatsbank in Suid-Afrika sien nie, wat nog te sê van African Bank as die voertuig daarvoor.

“Die rede vir ’n staatsbank is steeds vir my onduidelik.”

Sy sê sy stem met Mboweni oor baie dinge saam, maar nie oor die staatsbank nie.

Sedert pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede in Februarie 2020 na ’n staatsbank verwys het en Mboweni in sy begrotingsrede dieselfde maand aanvanklik gesê het die voorkeuropsies vir die totstandkoming van ’n staatsbank is gereed, wou talle ekonome en ontleders weet waar die bank sal inpas en waar die kapitaal daarvoor gevind sal word.

Mboweni het gesê dit sal ’n kleinhandelbank wees wat op handelsbeginsels bedryf word. Die staatsbank sal onderhewig wees aan die Bankwet en die Omsigtigheidsowerheid, wat verantwoordelik is vir die regulering van onder meer banke en versekeraars.

Maar Mboweni raas en blaas al baie langer vir die skepping van ’n staatsbank as 2020.

In 2014 het hy as voormalige president van die Reserwebank ook uitgevaar oor die beweerde nood aan ’n staatsbank in die land.

Dit was juis toe African Bank se probleme begin het en hy onder kuratele geplaas is weens ’n opbou van swak skuld. Dit is duidelik al ’n geruime tyd in sy visier.

Basani Maluleke, wat pas as uitvoerende hoof van African Bank bedank het.

Die bedryf voel dat die meeste transaksiebank- en korttermyn-kredietbehoeftes van die lae-inkomstemark reeds voorsien word deur lae-kostebankdienste soos dié van Capitec en selfs African Bank self.

Dit sou sin maak om ’n staatsbank te begin as daar ’n finansieringsgaping in die mark was, byvoorbeeld waar ’n

deel van die bevolking kredietwaardig is, maar nie toegang tot finansiering het nie, of waar projekte wat

gefinansier behoort te word, nie die nodige geld kry nie, het Moola voorheen aan Rapport gesê.

Geeneen van dié situasies is egter van toepassing op Suid-Afrika nie en dit laat baie vrae oor die beplande staatsbank, reken sy.

Moola sê aan Netwerk24 die enigste gebied waar daar dalk ’n behoefte kan wees aan die dienste van ’n staatsbank is met die uitreiking van langtermynkrediet, soos huislenings, waartoe baie minder bevoorregtes nie toegang het nie.

Capitec het onlangs huislenings begin toestaan en Netwerk24 het van ’n ingeligte by African Bank wat naamloos wil bly, verneem dat dié bank wel beoog om binne die volgende jaar huislenings te begin uitreik.

Volgens Moola is die gaping met huislenings steeds nie ’n genoegsame rede om die bank in ’n staatsbank te omskep nie.

Hoe sal hy ’n mededingende voordeel hê? Gaan hy nog laer rentekoerse aanbied as die beste spelers in die mark? Hoe sal dít geld maak?
Nazmeera Moola van Ninety One

“Hoe sal hy ’n mededingende voordeel hê? Gaan hy nog laer rentekoerse aanbied as die beste spelers in die mark? Hoe sal dít geld maak?”

Die bank het volgens Moola nie eens veel van ’n bedryfsvoordeel in die mark nie.

Louise Brugman, woordvoerder van African Bank, sê dis kommerwekkend dat die regering African Bank sou wou oorneem, gegewe die ervaring met ander staatsondernemings onder sy beheer.

Wie besit African Bank?

African Bank is nie genoteer nie. Sy vorige moedermaatskappy, African Bank Investments Limited (Abil), was wel genoteer, maar is sedertdien gelikwideer.

Tito Mboweni, minister van finansies, is ’n voorstander van ’n staatsbank.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank besit tans die meerderheidsaandeel (50%) van African Bank, steeds ’n uitvloeisel van die kuratorskap.

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), die staatsbeheerde batebestuursfirma wat onder meer die staatspensioenfonds (GEPF) se geld belê, besit ’n kwart en nog ’n kwart word deur ’n konsortium van groot handelsbanke besit. Die banke is FirstRand, Standard Bank, Absa, Nedbank, Investec en Capitec.

Die kapitaalinspuiting van alle partye saam het in 2014 R10 miljard beloop. Die Reserwebank se gedeelte was R5 miljard; die GEPF s’n R2,5 miljard; terwyl die res deur die banke verskaf is. FirstRand en Standard Bank het onderskeidelik R655 miljoen en R595 miljoen verskaf, terwyl die ander minder as dit gegee het.

Die Reserwebank het in daardie stadium ook ’n lening van nagenoeg R3,3 miljard aan African Bank verskaf.

Die Reserwebank het ook ’n bankgerief en waarborg verskaf wat saam R3 miljard beloop het.

Die detail oor dié herstrukturering wat destyds uitgereik is, het getoon die duur van die lening is drie jaar en die bankgerief agt jaar.

Die Reserwebank wou Vrydag nie antwoord oor die skuld wat African Bank nog het by hom nie.

Hy het wel aan Netwerk24 bevestig dat die nasionale tesourie nog nie enige aanduiding aan die Reserwebank gegee het dat hy belangstel om sy aandeel oor te koop nie, al soek die Reserwebank al vir ’n jaar lank ’n koper vir sy 50%.

Hy sê hy werk wel tans met transaksie-adviseurs om sy aandeelhouding van African Bank binne die volgende jaar te beëindig.

Die naamlose bron binne African Bank sê die bank is opgewonde gewees om binnekort op sy eie bene te staan en die sogenaamde “training wheels” af te haal.

Verlies weens swak skuld

African Bank sê in ’n verklaring Vrydag hy is trots om ’n kommersiële handelsbank te wees.

“Ons glo dat African Bank ’n ongelooflik belangrike rol speel in die Suid-Afrikaanse bankbedryf,” sê Gustav Raubenheimer, finansiële hoof en tussentydse uitvoerende hoof van African Bank.

“Ons bankdienste en produkte is inklusief en toeganklik vir Suid-Afrikaners van diverse agtergronde.”

Vir die boekjaar tot einde September het African Bank egter ’n verlies van R27 miljoen gely.

Volgens talle gerugte is die bank steeds besig om geld te maak hoofsaaklik uit swak lenings, wat nou lei tot groot afskrywings en dus verliese.

Volgens ontleders sal die sprake oor ’n staatsbank eers ernstig opgeneem word wanneer Mboweni daarvoor voorsiening maak in die nasionale begroting.

Mboweni lewer op 24 Februarie sy begrotingsrede.

Meer oor:  African Bank  |  Tito Mboweni  |  Basani Maluleke  |  Banke  |  Staatsondernemings  |  Bankbedryf  |  Staatsbank  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.