Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Toe kom dit: Poging om Steinhoff te likwideer

Die jarelange vrese oor Steinhoff het ’n werklikheid geword met ’n likwidasie-aansoek wat Woensdagoggend in die hooggeregshof in Kaapstad ingedien is.

Steinhoff
Steinhoff was in 'n stadium die hoofborg van Maties-rugbyspan. Foto: Bloomberg

Die hofstukke is Woensdag op Steinhoff International Holdings N.V. en sy personeel by sy geregistreerde adres op Stellenbosch beteken.

Die hofaansoek word 24 Mei op ’n dringende grondslag gebring.

Die aansoek is deur vyf applikante gebring, wat beter bekend is as die voormalige eienaars van Tekkie Town wat in 2016 hul aandele in dié skoenwinkelmaatskappy aan Steinhoff vir aandele in die groep verruil het.

Die applikante voer aan Steinhoff is feitlik en kommersieel insolvent en dat sy laste sy bates oorskry.

Die applikante is onder die talle partye wat die afgelope jare Steinhoff vir skadevergoeding gedagvaar het gegrond op die bedrieglike wanvoorstellings wat aan hulle gedoen is voordat die transaksie gedoen is.

Die waarde van die regseise teen hom beloop R136 miljard.

Steinhoff het onlangs ’n skikkingsproses van stapel gestuur in Nederland om met sy internasionale krediteure te skik en het ’n parallelle proses in Suid-Afrika begin om met sy Suid-Afrikaanse krediteure te skik. Die twee prosesse is onderling afhanklik van mekaar.

Die voormalige Tekkie Town-eienaars word as krediteure van die internasionale groep beskou.

Volgens Paul Katzeff, voorsitter van hul regsverteenwoordigers C&A Friedlander Attorneys, gee Steinhoff met die skikkingsvoorstel voorkeur aan sekere krediteure bo ander.

Hy sê die bona fides van die skikkingsplan word daarom in twyfel getrek.

“Spesifiek, as die meerderheid van die krediteure die voorstel aanvaar, dwing dit die Tekkie Town-eisers om ’n fraksie van wat hul toekom, te aanvaar en hule moet alle litigasie teen die groep en sy filiale laat vaar.”

Katzeff sê die likwidasie-aansoek word gebring om te verseker dat die maatskappy op behoorlike wyse gelikwideer word en dat krediteure op ’n meer regverdige grondslag gehanteer word.”

Die sogenaamde finansiële krediteure (leners) van Steinhoff word in die skikking anders en meer gunstig behandel as die eisers wat hul aandele in die mark gekoop het en dié wat kontrakte aangegaan het met die groep (soos Tekkie Town) wat ’n onderneming of ’n bate vir Steinhoff-aandele geruil het.

Steinhoff se aandeelprys het einde 2017 ineengestort toe aangekondig is daar is ongerymdhede met sy boeke en dat sy voormalige uitvoerende hoof, Markus Jooste, bedank het.

Die maatskappy het in daardie stadium baie geld aan banke geskuld.

Die skuld is intussen deur ander partye teen afslag oorgekoop, maar hulle sal ten volle betaal word, hoewel later as waarop hulle geregtig is.

“Ons het ’n groot probleem hiermee,” sê Katzeff.

Boonop word hulle vergoed met kontant en Pepkor-aandele. Dié filiaal van Steinhoff besit Tekkie Town.

“Hulle kry waarde uit die maatskappy waaruit ons bedrieg is om die eise te help skik.

“Ons wil ’n behoorlik aangestelde likwidateur hê wat die likwidasie kan doen op terme wat billik is vir alle krediteure, en wat nie finansiële krediteure voorkeur gee nie.”

Behalwe vir die regseise teen Steinhoff, het sy netto skuld einde September R170 miljard beloop.

Steinhoff het nie voor die publikasie van die berig gereageer op 'n versoek om kommentaar nie.

Meer oor:  Steinhoff  |  Tekkie Town  |  Pepkor  |  Regsgeding  |  Likwidasie  |  Skikking  |  Hofaansoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.