Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Toerisme-eise: Versekeraars besig met ‘reklamefoefie’
Old Mutual se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg. Old Mutual is die jongste van die groot versekeraars wat aangekondig het dat hy sy polishouers verligting aanbied, maar nie hul eise gaan uitbetaal nie. Foto: William Horne

Versekeraars het onder druk van die owerhede begin om beperkte uitbetalings aan die toerismebedryf te maak ten opsigte van eise wat met die staat van inperking verband hou – maar dit is nie veel meer as ’n “reklamefoefie” nie.

Só sê Ryan Woolley, uitvoerende hoof van Insurance Claims Africa (ICA), ’n spesialisfirma wat versekeringseise hanteer en meer as 600 ondernemings in die toerisme-en- gasvryheidsektor verteenwoordig.

“Dis ’n druppel aan die emmer,” sê hy oor die verligtingsgeld wat die versekeraars nou begin uitbetaal in die plek van die volle sakeonderbrekingsdekking wat ondernemings gehad het.

Derduisende ondernemings in die toerismebedryf wat steeds nie mag sake doen nie, is etlike weke nadat die staat van inperking aangekondig is, deur hul versekeraars ingelig dat die pandemie-klousule in hul sakeonderbrekingsdekking nie van toepassing is nie. Dit omdat die staat van inperking tot die sakeonderbreking gelei het en nie die pandemie as sulks nie.

Volgens versekeraars soos Santam, Old Mutual, Guard Risk en Hollard het die staat van inperking in versekeringsterme niks met die pandemie te doen nie.

Maar weens onlangse druk deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het versekeraars die afgelope week begin om ondernemings finansiële verligting aan te bied – in plaas daarvan om ten volle uit te betaal.

LEES OOK: Santam betaal R1 mjd. – maar stry steeds oor eise

Die R1 miljard wat Santam wel bereid is om as deel van sy verligtingskema uit te betaal, kom neer op 70% van die waarde van twee maande van die versekerde bedrag.

Die maksimum uitbetaling is R1,5 miljoen en ondernemings met ’n omset van meer as R50 miljoen per jaar, soos die meeste groot hotelgroepe, “kry niks”, sê Woolley.

“Die meeste van die ondernemings is al vier maande toe. Nou kry hulle 70% van twee maande se dekking.

“Dis net ’n reklamefoefie!”

Old Mutual het Woensdag aangekondig dat polishouers met dekking ter waarde van R5 miljoen of minder vir ’n uitbetaling vir ’n jaar se bedrywighede in aanmerking kom.

Old Mutual sê dit sal waarskynlik die helfte van sy polishouers dek en hom R650 miljoen kos.

Guard Risk sê ook hy sal verligting gee, maar hou net soos die ander versekeraars vol dat hy nie volgens die polisooreenkoms daartoe verplig is nie.

’n Onbepaalde bedrag vir drie maande se onderbrekings sal sekere polishouers aangebied word, sê Guard Risk, maar hy sal bestaande premieverligting en ander inisiatiewe wat polishouers gehelp het, hierby inreken.

Hollard het besluit om polishouers met ’n omset van minder as R25 miljoen, wat van April tot Junie meer as ’n 30%-daling in inkomste gehad het, verligting van ’n maksimum van R200 000 aan te bied.

Die FSCA draai in sy verklaring nie doekies om nie en sê versekeraars ontduik hul plig.

Woolley sê die huidige “verligting” is te min. Volgens hom doen die versekeraars dit boonop onwillig en net om die skade aan hul reputasies te beperk.

Dekking vir sakeonderbrekings is veronderstel om die totale bedryfskoste te dek vir die ganse periode wat ’n onderneming nie kan sake doen nie, sê hy.

’n Ope brief aan Santam

Wynand du Toit, eienaar van Tented Adventures, het Donderdag in ’n ope brief aan Santam gepleit dat hy by dié versekeraar se verligtingskema ingesluit word.

Al is dit nie genoeg om sy onderneming te red nie, smeek hy vir die bietjie geld wat tans aangebied word.

Du Toit kon nie in Junie of Julie sy premie vir die sakeonderbrekingsdekking bekostig nie en daarom keur Santam hom vir die verligtingskema se klein uitbetaling af. “Toe ek die fynskrif lees, het dit my letterlik gebreek. Wat ek beskou het as ’n lig aan die einde van die tonnel, ’n verligting wat dit beter kan maak vir diegene om my – werknemers, krediteure en gaste – is nie meer vir my beskikbaar nie.

“Dit alles omdat ek nie meer kon bekostig om u te betaal nie, nie opsetlik nie, bloot omdat ek nie meer geld gehad het nie, die bankrekening is leeg.”

Woolley sê Du Toit sou nie ’n probleem gehad het om sy premie te betaal as hy sy dekking vir sakeonderbreking ontvang het soos wat hom toekom nie.

Du Toit sê in sy brief hy het niks oor nie.

Hy skryf ook aan die direksie van Santam in hul persoonlike hoedanigheid en lys sy “familie” (werknemers en vennote) se name as die rede waarom hy met die mense agter Santam se bestuur wil praat.

“Ek is g’n prokureur, geoktrooieerde rekenmeester of aktuaris nie, ek is net ’n passievolle sake-eienaar in die mees beskadigde bedryf in die land – toerisme.

“Ek moes seker al ons ooreenkoms 20 keer gelees en herlees het in ’n poging om net te verstaan . . .”

Vir Du Toit is daar nie eens tydelike verligting nie.

Woolley sê al help die geld wat nou betaal word, is dit doodeenvoudig nie genoeg om ondernemings te red nie.

Teen die tyd dat die versekeraars voor die hof gedaag word, sal daar nie meer baie ondernemings wees om die versekeraars aan te vat nie.

Die ICA het hom verbind tot ’n hofsaak deur die hotelgroep Ma-Afrika teen Santam wat op 1 September aangehoor word. Volgens Woolley verander die verligtingsgeld nie die situasie nie.

As ’n volslae regstryd of groepsgeding nodig is, kan dit twee jaar neem voordat ons antwoorde het.
Ryan Woolley

Hulle sal voortgaan met hul hofsaak teen Santam om ’n presedent te skep wat hopelik ander versekeraars sal dwing om uit te betaal.

Woolley is erg bekommerd oor die moontlikheid dat indien hulle wen, sal versekeraars die presedent ignoreer en besluit om te appelleer.

“As ’n volslae regstryd of groepsgeding nodig is, kan dit twee jaar neem voordat ons antwoorde het.”

Teen daardie tyd maak dit nie meer saak wie oorleef nie. Polisse vir sakeonderbrekings stipuleer dat geskille of litigasie binne ses maande van die aanvang van die vermeende onderbreking afgehandel moet word ten einde geldig te wees, en vier maande is reeds verby.

“Dít is geen skikking nie. Hulle weet hulle speel net vir tyd.”

Meer oor:  Insurance Claims Africa  |  Santam  |  Guard Risk  |  Old Mutual  |  Hollard  |  Ryan Woolley  |  Versekering  |  Restaurante  |  Hotelle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.