Die rasgegronde toerismefonds wat pres. Cyril Ramaphosa bekend gestel het, is “skadelik en onaanvaarbaar”.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga.
So het die Sakeliga Woensdag gesê nadat Ramaphosa en Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) bekend gestel het as ’n instelling wat finansiering verskaf aan toerismeondernemings in swart besit.
Die fonds het sowat R1,2 miljard om uit te leen of as toelae uit te deel. Dis daarop gemik om toerismeondernemings te help herstel ná die Covid-19-krisis, maar terselfdertyd om meer geleenthede vir swart ondernemings te skep. Slegs ondernemings wat 51% in swart besit is, kwalifiseer vir die lenings of toelae.
Piet le Roux, uitvoerende hoof van die sakeliggaam, sê dit druis teen die openbare belang in.
“Dat die staat selfs in ’n krisistyd sakelui probeer dwing om hul sakebesluite op grond van rasseklassifikasie te neem, is moreel en ekonomies onaanvaarbaar.”
Hy sê verder: “Wanneer dit by die insameling van belasting kom, is almal vir die regering goed genoeg. Selfs die rampspoedigste Covid-19-regulasies het ten minste nog nie ’n rassevoorskrif nie. Maar wanneer dit by hulp kom, dan sorteer die regering sakelui oop en bloot volgens ras.”
Volgens Le Roux word daar in die proses boonop van al die ander partye vergeet wat by ’n onderneming betrokke is en ook hierdeur geraak word.
“Hierdie toerismefonds is ’n onaanvaarbare voortsetting van ’n mislukte, verdelende en gedoemde politieke program. Dit verhef die ras van enkele sake-eienaars bo die belange van werknemers, verbruikers en verskaffers uit alle rasse,” sê Le Roux.
“Ons sien hier die kortstondige verryking van enkele politieke gunstelinge ten koste van openbare welvaart, werknemers- en verbruikersbelange, menswaardigheid en sakelui se selfstandigheid.”
Hy verwys daarna dat Ramaphosa 20 jaar gelede as voorsitter van die kommissie oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) instrumenteel was om die beleid te ontwikkel.
“Dit maak egter nie saak of dit toe met die beste bedoelings in die wêreld ontwikkel is nie: Ná twee dekades is dit duidelik dat SEB skadelik is – iets wat vandag wyd erken word. Dat die regering nou, in ’n krisistyd, sy verbintenis tot hierdie beleid verskerp, in plaas van hervorm, is onwys en afkeurenswaardig.”