Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tongaat: 2018-syfers dalk bekook

Die suikergroep Tongaat Hulett sal sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart 2018 moet heruitreik, want hy kan nie op die bestaande syfers staatmaak nie, het hy Vrydag gewaarsku.

Tongaat Hulett se suikerrietlande by Shongweni in KwaZulu-Natal. Die maatskappy se plaaslike suikerwins is deur verhoogde invoer geknou. Foto: Verskaf

Hy sal boonop sy ekwiteitswaarde in sy 2018-resultate met tussen R3,5 miljard en R4,5 miljard moet verlaag, en sal nie sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart vanjaar teen 30 Junie kan afhandel nie. Sy mikpunt is om dit teen Oktober uit te reik.

Dit kom nadat Tongaat in Maart en weer in April aandeelhouers gewaarsku het dat sy strategiese en finansiële hersiening sekere praktyke ontbloot het wat tot die heruitreiking van vorige finansiële inligting kon lei.

Tongaat het opdrag gegee vir ’n onafhanklike forensiese ondersoek om vas te stel of die foute in sy boeke met opset was of nie.

Peter Staude het in Junie verlede jaar op 65 ná 16 jaar as uitvoerende hoof afgetree. Sydney Mtsambiwa het hom as tussentydse hoof opgevolg, waarna John Gavin Hudson in Januarie as nuwe hoof aangestel is.

Die hersiening van die ekwiteitswaarde hou volgens Tongaat verband met die herwaardering van grondverkope gemeet aan die kriteria vir die herkenning van inkomste soos deur internasionale rekeningkundige praktyk gedefinieer. Dit hou ook verband met die verwante winsmarge van die grondverkope, die hersiening van die waardasie van suikerriet wat reeds aangeplant is, en die omkeer van gekapitaliseerde koste vir onder meer suikerriet-plantmateriaal, instandhouding, voorraad en projekte.

Die Tongaat-direksie waarsku dat hy nie meer kan staatmaak op die 2018-resultate nie.

Die feit dat Tongaat nie sy jongste jaarresultate binne die verpligte drie maande ná die jaareinde sal kan uitreik nie, hou die risiko in dat die JSE die verhandeling van sy aandele kan opskort. Maar Tongaat bevestig hy skakel met die JSE en alle ander relevante reguleringsowerhede oor sy rekeningkundige probleme.

Hy waarsku intussen die plaaslike suikermark en handelstoestande het versleg, wat tot laer as verwagte kontantvloei lei.

Tongaat het omvattende bates in suikerbedrywighede in Suid-Afrika, Swaziland, Botswana, Namibië, Mosambiek en Zimbabwe, asook ’n uitgebreide eiendomsportefeulje.

Die groep sê hy wil sekere bates verkoop om sy skuld te verminder, sy balansstaat te versterk en sy kontantvloei te verbeter.

Die bestuur is besig met ingryping om koste drasties te sny en die bedryfsprestasie te verbeter. Die maatskappy onderhandel steeds met banke vir ’n skuldstilstand om asem te kan skep met die terugbetaling van skuld.

Sy aandeelprys was Vrydag byna 3% laer op R17,56. Die aandeelprys was in Augustus verlede jaar nog bo R80.

Meer oor:  Tongaat Hulett  |  Suikerbedryf  |  Suikerriet  |  Suiker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.