Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tongaat Hulett gesluit weens onrus, reik resultate uit

Tongaat Hulett moes sy aanleg in KwaZulu-Natal Sondag as ’n voorsorgmaatreël sluit nadat grootskaalse onrus op plekke in die provinsie uitgebreek het.

Tongaat Hulett is veral bekend om sy bedrywighede wat op die verbouing van suikerriet fokus. Foto: Tongaat Hulett

Geen skade is aangerig nie, sê Gavin Hudson, Tongaat Hulett se uitvoerende hoof.

“Ons het egter twee dae se produksie weens die onrus verloor. Elke dag wat ons nie in bedryf is nie, verloor ons miljoene rande. Die impak op die gebied, mense en die ekonomie gaan enorm wees.”

Hy sê wanneer die aanleg weer in bedryf gestel word, kan dit dae neem om alles aan die gang te kry. Instandhoudingswerk sal ook aan sekere toerusting gedoen moet word voordat dit weer in gebruik geneem kan word.

“As ons gelukkig is, sal ons teen die naweek kan begin werk.”

Finansiële resultate

Die suikerreus het Dinsdag sy finale jaarresultate tot einde Maart uitgereik en sê hy kon nie die afgelope boekjaar ’n wins aanteken nie.

Hiperinflasie en ’n eiendomsmark wat getaan het, het ook sy planne geknou om sy skuld te delg.

“Ons is nie trots op hierdie finansiële resultate nie, al is ons in die proses om beduidende vordering te maak om ’n onderneming wat baie kwesbaar is, weer op te bou en te herstel.”

Sy wins uit volgehoue bedrywighede het met 3% van R15,382 miljard tot R14,918 miljard gedaal.

Die maatskappy het vir die afgelope boekjaar ’n wesensverlies van 631c per aandeel aangeteken, terwyl ’n wesensverlies van 90c vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar aangeteken is.

Sy bedryfswins het met 44% tot ongeveer R1,9 miljard gedaal, teenoor R3,25 miljard in die vorige boekjaar.

Skuldlas

Die suikergroep, met belange in Mosambiek en Zimbabwe, is geruk deur ’n boekhouskandaal in 2018 en vroeër waarby vorige topbestuurslede betrek is toe finansiële resultate opgejaag is.

In hul pogings om die maatskappy te red, het die nuwe bestuur onder die leierskap van Hudson begin met ’n strategiese plan om skuld te delg.

“Ons het aansienlike vordering hiermee gemaak en het die afgelope boekjaar ons netto skuldlas met 42% verminder van R11,354 miljard tot R6,570 miljard.”

Hudson sê hul planne om die skuldlas te verminder, is al meer as ’n jaar op die tafel en sluit die verkoop van eiendomme in.

“Ongelukkig het moontlike eiendomstransaksies die wind van voor gekry met die Covid-19-pandemie en sekere transaksies wat gekanselleer is, maar ons het weer potensiële kopers.”

Hy het ook aangekondig geen bonusse sal betaal word nie.

Tongaat het Dinsdag aangekondig sy Suid-Afrikaanse bedrywighede het ’n verlies van 27 000 ton suiker gely.

“Dit is die uitvloeisel van ons verhoogde vervaardiging om ons uitset te vermeerder, wat tot ’n styging in insetkoste bygedra het, en sekere tekortkominge in die vervaardigingsproses.”

Tongaat Hulett het die afgelope boekjaar 42% van sy suikerriet-voorraad van die plaaslike omgewing en kleiner boere gekry.

Meer oor:  Tongaat Hulett  |  Jacob Zuma  |  Suikerbedryf  |  Sluiting  |  Geweld  |  Plundery En Geweld  |  Resultate  |  Zuma-Betogings  |  Suiker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.