Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tongaat Hulett se aandeel opgeskort

Die suikergroep Tongaat Hulett se aandeelverhandeling op die JSE is Maandag op versoek van die maatskappy self opgeskort.

John Gavin Hudson (49), nuwe uitvoerende hoof van Tongaat.

Dit kom weens die vertraging in die bekendmaking van sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart 2019, wat nou eers teen Oktober verwag word. Die aandeel gaan tot met die uitreiking van die 2019-resultate opgeskort wees, sê die maatskappy in ’n Sens-verklaring.

Ingevolge die JSE-reëls moet ’n maatskappy binne drie maande ná die jaareinde sy resultate uitreik.

Dit kom ook te midde van ’n forensiese ondersoek deur die ouditgroep PwC na boekhou-onreëlmatighede by Tongaat nadat die groep se nuwe bestuur foute ontdek het in sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart 2018.

Tongaat het vroeër gesê hy kan nie meer staat maak op die 2018-syfers nie.

Die aankondiging kom ná onderhandelinge met die JSE, Tongaat se ouditeurs, Deloitte, die forensiese ondersoekspan van PwC, sy regsadviseurs en die bestuur.

Die verhandeling van sy aandele op die Londense aandelebeurs, waar hy ’n sekondêre notering het, is ook opgeskort.

Tongaat het PwC aangestel om ’n onafhanklike eksterne forensiese ondersoek na sy boeke te doen.

Die aandeelprys het die afgelope maande skerp gedaal tot rondom R16 teenoor hoogtepunte van bo R60 verlede jaar. Maandag voor die opskorting van die aandele was Tongaat se aandeelprys 5,3% laer op R13,21.

Tongaat sê hy gaan voort met ’n hersiening van sy sakestrategie, en is besig met ’n omdraaiplan wat afleggings, herstrukturering, die verkoop van sekere bates en verbeterings aan bedrywighede kan insluit.

Die vakbond Fawu het verlede week openbaar gemaak dat Tongaat planne het om te herstruktureer en dat sowat 5 000 werknemers, oftewel sowat 15% van sy totale werkmag, daardeur geraak kan word.

Tongaat waarsku in ’n Sens-verklaring die onbetroubaarheid van die 2018-syfers impliseer ook onsekerheid oor die halfjaarsyfers tot einde September 2018, en die handelsverklaring wat vroeër uitgereik is oor die resultate vir die jaar tot einde Maart vanjaar.

Die direksie sê die besluit om verhandeling te laat opskort, is geneem om beleggers te beskerm, om die bestuur meer tyd te gee om die forensiese ondersoek en heruitreiking van state af te handel.

Verskeie prosesse is nodig om die groep te herstruktureer en sy skuld te verminder, sê die direksie.

Volgens die direksie is die opskorting ’n tydelike maatreël om aandeelhouers se belange te beskerm, en hy hoop dit sal opgehef kan word teen die tyd dat die resultate vir die jaar tot einde Maart vanjaar uiteindelik wel uitgereik word.

Die suikerbedryf is tans onder druk weens mededinging van goedkoop ingevoerde suiker, lae internasionale suikerpryse en die belasting op suikerryke koeldrank wat in April verlede jaar ingestel is en wat suikerverbruik laat daal het. Die bedryf glo die regering kan meer doen om hom met invoertariewe te beskerm, en waarsku oor die duisende werkgeleenthede in die landbou en die suikerverwerkingsbedryf wat verlore kan gaan.

Meer oor:  Tongaat Hulett  |  Suikerbedryf  |  Suikerriet  |  Suiker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.