Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tongaat: Só is boeke bekook, toon verslag

Peter Staude, voormalige uitvoerende hoof van die suikerreus Tongaat Hulett, en nog agt topbestuurders of direkteure het na bewering geweet of moes na bewering geweet het dat dié suikerreus se boeke bekook is, het PwC in ’n forensiese ondersoek bevind.

Tongaat het na ses maande 'n kort opsomming vrygestel oor wat in die forensiese ondersoek na sy boeke gevind is.

Dit is luidens die opgesomde bevindings in die forensiese ondersoek na sy boeke wat Vrydag uitgereik is.

Die forensiese ondersoek spruit uit ’n aanvanklike ondersoek vroeër vanjaar nadat anonieme wenke van fluitjieblasers ontvang is en die nuwe uitvoerende hoof met die hersiening van die maatskappy se sake begin het.

Die direksie het Gavin Hudson ná sy aanstelling as uitvoerende hoof in Februarie opdrag gegee om ’n omvattende hersiening van die groep se finansiële sake en strategie uit te voer met die doel om die maatskappy te stabiliseer en sy berg skuld te takel.

Die hersiening het sekere sake- en boekhoudingspraktyke blootgelê wat die direksie bekommer het.

“Dit het gou duidelik geword dat bo en behalwe die bedryfsprobleme waarmee Tongaat gesukkel het, was daar nie behoorlike interne aanspreeklikheid en finansiële beheer nie.”

Die regsfirma Bowman Gilfillan het PwC op 13 Maart namens die direksie aangestel om ’n ondersoek na die beweerde ongerymdhede te doen.

Die volledige verslag is onderhewig aan regsprivilegie sodat Tongaat Hulett hom teen regsgedinge kan beskerm.

Die volledige verslag gaan dus – net soos wat Steinhoff gedoen het – nie gepubliseer word nie.

Die ondersoek is die afgelope ses maande gedoen nadat PwC versoek is om die beweerde ongewenste praktyke en die potensiële invloed op die finansiële jaarstate vir die 2018- en 2019-boekjaar te ondersoek.

“Hoewel die meeste mense wat PwC ondervra het hulself beskikbaar gestel het, was daar ’n aantal senior bestuurders wat die maatskappy verlaat het en nie ondervra wou word nie. Hulle het nie saamgewerk nie en voorwaardes gestel wat dit moeilik gemaak het om hul insette te kry.”

In die lig van die bevindings van die ondersoek het die direksie besluit om eise teen sekere individue in te stel wat na bewering vir die ongewenste praktyke verantwoordelik was.

“Hul betrokkenheid was van so ’n aard dat hulle ten minste moes geweet het of geweet het dat die 2018-jaarstate inligting bevat wat wesenlik verkeerd is,” lui die opsomming.

“Uit die PwC-ondersoek wil dit voorkom asof die persoonlike finansiële verryking van sleutel- senior personeellede grootliks beperk was tot die finansiële aansporings wat aan hulle betaal is wanneer hulle hul prestasieteikens behaal het.”

Die senior personeellede wat na bewering betrokke was, word in die opsomming geïdentifiseer wat in 'n openbare verklaring vervat is wat op die JSE se nuusdiens uitgereik is:

  • Peter Staude, voormalige uitvoerende hoof van die groep
  • John Chibwe, Hippo Valley Estates se finansiële direkteur Michael Deighton, voormalige besturende direkteur van THD
  • Steve Frampton, voormalige hoofbestuurder van Zimbabwe Sugar Sales
  • Shelton Nhari, ’n direkteur van Triangle Finance
  • Sydney Mtsambiwa, voormalige besturende direkteur van Tongaat se Zimbabwiese bedrywighede
  • Les Munro, voormalige finansiële hoof van Tongaat Hulett SA Sugar
  • Murray Munro, ’n voormalige finansiële hoof van Tongaat)
  • Raphael Pfunye, Zimbabwe Sugar Sales se finansiële hoof
  • Sean Slabbert, ’n voormalige finansiële hoof van Tongaat

Tugstappe is reeds gedoen of gaan gedoen word in verband met sekere van die individue.

Die direksie oorweeg dit om met siviele aksie teen die topbestuur te begin om onder meer:

  • Hul bonusse en voordele te verhaal.
  • Hulle tot misdadige direkteure te verklaar wat nie die vermoë het om hul fidusiêre pligte na te kom nie.

Die direksie skakel ook met die polisie en die vervolgingsgesag oor die moontlikheid van strafsake.

Die belangrikste bevindinge is:

  • Sekere senior bestuurders het ongewenste rekenkundige praktyke begin of deelgeneem daaraan wat tot gevolg gehad het dat inkomste vroeër erken is as wat dit moes gewees het en dat die uitgawes onvanpas gekapitaliseer is na die bates toe.
  • Dit het gelei tot winste wat oordryf is in albei jare en dat die waarde van sekere bates oordryf is.
  • Daar was ’n kultuur van oormatige eerbiedigheid en ’n gebrek aan vrae wat daartoe gelei het dat personeel instruksies oor rekenkundige praktyke gevolg het sonder om dit te bevraagteken.
  • Sekere interne beleid en riglyne is nie gevolg nie, wat ’n omgewing geskep het waarin die topbestuur aan die finansiële wanvoorstelling kon deelneem of dit kon begin.

Baie van die probleme hou met die aankoop van grond verband wat gelei het daartoe dat inkomste te vroeg erken is. Ten opsigte van die eiendomstransaksies het PwC gevind tussen 2013 en 2019:

  • ’n Aantal van die ooreenkomste se datums is aangepas sodat die kontrakte datums getoon het wat vroeër was as wanneer dit onderteken is.
  • ’n Aantal metodes is gebruik wat Tongaat in staat gestel het om verkope te toon voordat sekere goedkeuring vir sonering of oor die onderverdeling van die eiendom gekry is.
  • Die ondersoek het ook getoon dat die waarde van suikerriet-bates oordryf is onder meer deurdat uitgawes soos vir die hoofkantoor se oorhoofse koste en die koste van aanplanting oormatig gekapitaliseer is. Dit sluit ook in dat die “oormatige optimistiese beraming” van die suikerriet se waarde gedoen is.
  • Van die ander bevindinge is dat die verkope van suiker in Zimbabwe oordryf is. Sekere ooreenkomste wat in wese finansieringsooreenkomste was, is só gestruktureer dat dit gelyk het soos die verkoop van wesenlike voorraad. Baie van die suiker was onverwerkte suiker, maar is as verwerkte suiker getoon en die pryse is sodanig aangedui. Dit het veroorsaak dat die inkomste uit suikerverkope oordryf is.

Lees die opsomming op die maatskappy se webtuiste hier

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.