Tongaat Hulett se omkeerplan ná die bekendmaking van langdurige boekhoubedrog blyk op dreef te bly ondanks die Covid-19-krisis, aangehelp deur goeie suikerverkope die afgelope ses maande.

Tongaat Hullet is Suid-Afrika se grootste suikerprodusent. Foto: Bloomberg
Die suikerprodusent het in ’n handelsverklaring bekend gemaak sy bedryfswins het in die ses maande tot einde September met byna 70% tot R2,2 miljard gestyg .
Net in Suid-Afrika is die groep se bedryfswins R500 miljoen meer as ’n jaar gelede, selfs ondanks die druk op die produksie en verkope van drank tydens die streng fases van die staat van inperking weens die Covid-19-pandemie. Stysel en glukose, wat nog in die halfjaar deel was van Tongaat se bedrywighede, is bestanddele in die vervaardiging van baie soorte drank.
Die groep ly wel steeds weens hiperinflasie in Zimbabwe en hoër finansieringskoste.
Die groep se verdienste per aandeel gaan sowat 174c per aandeel beloop, teenoor ’n verlies van 235c per aandeel in 2019. Sy wesensverdienste gaan R189 miljoen beloop, teenoor 2019 se wesensverlies van R315 miljoen en die wesensverdienste per aandeel van 140c is teenoor die wesensverlies van 233c per aandeel.
Die syfers sluit steeds die groep se stysel- en glukose-afdeling in wat ná groot omstredenheid einde Oktober aan Barloworld verkoop is.
Barloworld het hom uit die transaksie probeer wikkel weens die impak van die Covid-19-krisis, maar bemiddelaars van die Rothschild-groep het in die guns van Tongaat beslis. Die R4,5 miljard wat die groep daaruit verdien, gaan gebruik word om sy skuld te verminder.
Die groep het ook voordeel getrek uit hoër suikerpryse op die uitvoermark en die swakker rand, asook uit sy eie interne kostebesparings.
Etanolproduksie en -verkope het in dubbelsyfers gegroei. Die groep het ook ’n groter persentasie etanol uitgevoer – 30% teenoor 21% verlede jaar.
Die groep se eiendomsafdeling het ’n verlies gely. Twee groot stukke grond is verkoop, maar verkope in die grond wat Tongaat in townships besit, is by die aktekantore vertraag.
Die groep gaan sy halfjaarsyfers na verwagting op 11 Desember uitreik.