Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tonne dagga gou buite Stellenbosch gekweek

’n Suid-Afrikaanse maatskappy gaan binnekort tonne medisinale dagga net buite Stellenbosch kan kweek, invoer en uitvoer – en dit is heeltemal wettig.

Felbridge, ’n maatskappy wat medisinale dagga kweek, het die eerste lisensie in die Wes-Kaap gekry om medisinale dagga op ’n plaas buite Stellenbosch te kweek. Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-reguleringsowerheid (Sahpra) het die lisensie uitgereik.

“Ons sal dit met integriteit en op ’n veilige en verantwoordelike manier kweek. Ons is daartoe verbind om daggaprodukte van hoë gehalte aan ons kliënte te voorsien in ooreenstemming met die regulatoriese raamwerk van Sahpra,” sê Leslie Zetler, ook die mede-eienaar van die Polkadraai-aarbeiplaas buite Stellenbosch, in ’n verklaring.

Volgens Barry Zetler, Leslie se broer en ook ’n direkteur van Felbridge en Polkadraai, het talle mense verkeerdelik aangeneem dis die Polkadraai-plaas wat nou ’n daggaplaas gaan word.

Felbridge beoog om die internasionale mark met farmaseutiese daggaprodukte van hoë gehalte te voorsien.

Barry en Leslie en hul ander broer, Julian, bestuur saam Felbridge en Polkadraai.

Barry sê die verbouingsterrein vir die dagga is op ’n ander plaas buite Stellenbosch. Luidens die verklaring is dié plaas “gerieflik 25 km vanaf die Kaapstad Internasionale Lughawe geleë”.

Die maatskappy verwag om sy eerste oes in die eerste kwartaal van 2020 te lewer.

“Felbridge beoog om die internasionale mark met farmaseutiese daggaprodukte van hoë gehalte te voorsien, en om sodoende beduidende uitvoerinkomste vir die ekonomie te genereer,” lui die verklaring.

“Ons mik ook daarna om werksgeleenthede en toekomstige beleggingsgeleenthede in dié sektor te bied. Die maatskappy het ’n bykomende kweekhuis-area van sowat 37 000 vierkante meter geïdentifiseer vir toekomstige uitbreiding.”

Luidens die verklaring sal Felbridge sterk klem lê op “navorsing oor die mediese voordele van daggaprodukte” en sal daarom saam met plaaslike instansies werk ter ondersteuning van navorsingstudies en die ontwikkeling van geregistreerde produkte.

“Die lisensie dek ’n bestaande kweekhuis-aanleg van 13 000 vierkante meter in die Wes-Kaap, en ongeveer 20 ton gedroogde daggaprodukte sal na verwagting per jaar geproduseer word,” lui die verklaring.

Meer oor:  Felbridge  |  Daggaplaas  |  Daggakwekery  |  Medisinale Dagga  |  Wettig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.