Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tot 5 000 mense by Tongaat kan hul werk verloor

Tongaat-Hulett se aandeelprys het Maandagoggend verder – met 1,2% tot R16,50 – gedaal te midde van die boekhouskandaal waarin die suikergroep gewikkel is.

John Gavin Hudson (49), nuwe uitvoerende hoof van Tongaat.

Tot 5 000 werkers van Tongaat kan boonop dalk hul werk verloor weens die groep se bedryfsprobleme.

Dit is byna 16% van sy totale werkmag van net meer as 31 300 mense.

Dit kom nadat Tongaat Vrydag gewaarsku het hy kan nie meer staatmaak op sy finansiële resultate vir die boekjaar tot einde Maart 2018 nie, en dat sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart vanjaar eers teen Oktober vanjaar uitgereik kan word.

Lees ook: Tongaat: 2018-syfers dalk bekook

Intussen meen ’n oudbelegger in die groep dat die vorige topbestuur van Tongaat hul bonusse behoort terug te betaal, want dit is op die beweerde opgeblase verdienstesyfers gegrond, het Business Day berig.

Tongaat het Vrydag gewaarsku hy sal die ekwiteitswaarde op die balansstaat vir sy boekjaar tot einde Maart 2018 met tussen R3,5 miljard en R4,5 miljard moet verlaag.

Die ouditgroep PwC is tans besig met ’n forensiese ondersoek na Tongaat se boekhouding.

Tongaat is ’n reuse-werkgewer in KwaZulu-Natal in die vorm van sy suikermeulens, en die provinsiale owerhede is besorg oor die impak van die maatskappy se probleme op werksekerheid vir duisende werkers.

Fin24 berig Nomusa Dube-Ncube, die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake in KwaZulu-Natal, het reeds met die maatskappy vergader in ’n poging om werkverliese te keer.

’n Gesamentlike taakspan is die naweek aangekondig wat bestaan uit verteenwoordigers van Tongaat en die owerheid wat sal probeer om die impak van die probleem op werknemers te beperk.

Dit kom nadat Tongaat aangekondig het hy het briewe aan werknemers gestuur ingevolge art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge. Dit is die artikel wat voorsiening maak vir aflegging van werkers in geval van bedryfsprobleme en herstrukturering by ’n werkgewer.

Die vakbond Fawu het volgens East Coast Radio verlede week gesê hulle is verras deur Tongaat se aankondiging dat hy soveel as 5 000 werkers kan aflê.

Volgens Tongaat kan permanente en tydelike werkers in ses van die lande waar hy sake doen geraak word.

In beleggingskringe word opnuut vingers gewys na ontleders en ouditeurs wat – soos met die Steinhoff-bedrogspul – nie die foute in Tongaat se boekhouding kon raaksien nie.

Die suikerbedryf in die breë het egter ook ernstige uitdagings in die vorm van droogte, dalende suikerpryse, swak beskerming teen goedkoop invoer, en die suikerbelasting wat sedert April verlede jaar groot suikerverbruikers soos gaskoeldrankvervaardigers noop om hul suikeraankope te beperk.

Peter Staude was die uitvoerende hoof in die oorsigtyd waarvan die finansiële resultate nou betwyfel word. Staude het in Junie verlede jaar afgetree.

Gavin Hudson, die nuwe uitvoerende hoof, het in Februarie aangekondig ’n omvattende oorsig oor die groep se sake word gedoen.

Tongaat het ook verlede week aangekondig Jenitha John, ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur wat voorsitter van die groep se oudit- en voldoeningskomitee was, het bedank weens ander werkverpligtinge.

Tongaat het in die 2018-boekjaar ’n daling in wesensverdienste van 37,2% tot R617 miljoen aangeteken. Toe het die groep beweer sy eiendomsbedrywighede het ’n bedryfswins van R661 miljoen opgelewer. Teen Maart verlede jaar het Tongaat se netto skuld gegroei tot R6,463 miljard teenoor die vorige jaar se R4,78 miljard.

Meer oor:  Tongaat Hulett  |  Tongaat  |  Pwc  |  Ouditfirmas  |  Suikerbedryf  |  Ouditbedryf  |  Droogte  |  Bedrog  |  Suiker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.