Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Winkels: 70% van besoekers weer in sentrums

Ten spyte van die groot getalle mense wat die naweek in sommige plekke beleef is toe klerewinkels weer geopen het, het net tussen 50% en 70% van winkelsentrums se normale besoekersgetalle die naweek teruggekeer, luidens aanvanklike aanduidings.

winkelsentrum
Klante wag Vrydagoggend buite die Ackermans in Canal Walk hul beurt af om ingelaat te word omdat getalle binne die winkel beheer word. Foto: Jaco Marais

Vlak 4 van die nasionale staat van inperking het Vrydag begin en sekere winkels kon vir die eerste keer in vyf weke hul deure open, waaronder die groot klerewinkelgroepe.

Volgens Amanda Stops, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Raad van Winkelsentrums (SACSC), is dié voorlopige aanduiding hoër as die internasionale tendens waar 30% tot 40% van besoekers ná streng inperkings na winkelsentrums terugkeer.

Sy sê besoekerstalle sal in die komende weke gemonitor moet word om ’n behoorlike prentjie van die tendens te kry.

Hulle samel ook nog inligting in oor hoeveel besteding die terugkeer van besoekers meegebring het.

Die reusewinkelsentrum Canal Walk in Kaapstad het die afgelope naweek 82 500 besoekers gehad.

Gavin Wood, uitvoerende hoof van die sentrum, sê besoekerstalle het sedert vlak 4 in werking getree het, toegeneem.

Op die vraag of dit moeilik was om dié getal te hanteer, het hy gesê dit is minder as normale besoekerstalle aan die sentrum en hulle het geen probleme ervaar nie.

Donald Kau, woordvoerder van die gewilde V&A Waterfront in Kaapstad, het by navraag gesê ’n “effense toename” is gesien en gemiddeld het 9 000 mense per dag die sentrum oor die drie dae van die langnaweek besoek.

Dié winkelsentrum se getal besoekers het in die eerste vyf weke van die inperking met 90% gedaal tot tussen 5 000 en 6 000 per dag. Normaalweg is daar gemiddeld sowat 70 000 besoekers met tot 180 000 per dag in die piekseisoen. Dié sentrum is gewild onder toeriste.

winkelsentrum
Inligting wat in die vertoonvenster van 'n Soda Bloc-winkel van TFG verskyn. Foto: Jaco Marais
winkelsentrum
Vrydagoggend het baie winkels nog voorberei om vir die eerste keer in vyf weke te open. Foto: Jaco Marais

Kau sê daar was nie probleme met skares mense nie en verbruikers het oor die algemeen riglyne oor maskers en sosiale distansiëring nagekom.

Die beskikbaarheid van water in die toiletgeriewe is herstel nadat dit vroeër te midde van die droogte in die Wes-Kaap verminder is.

Die winkelsentrum ontsmet ook openbare plekke deegliker en meer gereeld.

“Natuurlike ventilasie (soos om vensters oop te maak as die weer dit toelaat) word waar moontlik verhoog om oordrag van die virus te help verminder, hoewel die inligting oor die doeltreffendheid daarvan beperk is.”

Die winkelsentrum bied gratis parkering aan terwyl vlak 4 voortduur.

Deeglik ontsmet

Canal Walk het bykomende voorsorgmaatreëls ingestel, soos verbeterde skoonmaakprosedures. Dit sluit in meer skoonmaakpersoneel en die gebruik van ontsmettingsmiddels.

Die gemeenskaplike gebiede in die winkelsentrum word gereeld ontsmet, veral plekke waaraan baie mense vat, soos hysbakke en roltrappe. Plekke waar mense handreinigers kan gebruik, is ook dwarsdeur die winkelsentrum beskikbaar.

Charl Cronjé, uitvoerende hoof van Ackermans, wie se winkels ook die naweek heropen het, sê die verkope was “uiters positief”. “Klante het van vroegoggend af in die ry gestaan. Dit het vir ’n groot deel van die dag voortgeduur en veroorsaak dat van die winkels langer as beplan moes oopbly.”

Hy sê deeglike beplanning en opleiding voordat die winkels heropen het, het verseker die nuwe reëls vir veiligheid goed nagekom is en geen klagtes is ontvang nie.

Die produkte wat die meeste in aanvraag was, was babaklere, gevolg deur klere vir voorskoolse kinders en ouer kinders.

“Die meeste winterklere het goed verkoop, soos sweetpakbaadjies en -broeke, jasse, truie en ander basiese winterprodukte.”

Hy sê die voorraadvlakke van die meeste produkkategorieë is nog goed en die winkels sal van hierdie week af ekstra voorraad begin kry.

Pep sê hy het reeds in die eerste vyf weke van inperking onder vlak 5 – met die verkoop van babaklere en verbruikersprodukte wat toegelaat was – gesien dat sy winkels besig was. “Die naweek toe ons meer produkte begin verkoop het, was ons winkels uiters besig.”

Die winkelgroep sê verbruikers het hulle goed gedra en die veiligheidsreëls gehandhaaf.

“Alle produkte verkoop baie goed en kinderklere en selfone is baie gewild.”

Verskaffingsketting kom in bedryf

Die voorraad babaklere en verbruikersprodukte het onder druk gekom omdat verspreidingsentrums nie oop was tydens die eerste vyf weke van inperking nie. “Maar die probleem is nou opgelos omdat die verskaffingsketting nou heeltemal in bedryf is.”

Woolworths sê ’n toename in vraag na klere is die naweek in sekere kategorieë gesien. “Klante het aan die vereistes voldoen oor veiligheid en ons glo dit sal die week verder verbeter.

“Ons werk saam met ons verskaffers om die beskikbaarheid van voorraad te verseker.”

winkelsentrum
Die bekende restaurantsentrum in Canal Walk wat gewoonlik stampvol mense is, was die naweek leeg. Foto: Jaco Marais
In Pep Stores in die Bloemfonteinse sakekern was Maandag besig soos wat mense weer begin inkopies doen het. Foto: Mlungisi Louw

Meer oor:  Pep  |  Woolworths  |  V&A Waterfront  |  Canal Walk  |  Ackermans  |  Winkels  |  Veiligheidsmaatreëls  |  Winkelsentrums  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.