Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Toutrek oor wie SAL in lug sal hou

’n Toutrekkery oor die persoon wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakeredding moet bestuur, is Donderdag ontketen.

Solidariteit, wie se hofaansoek oor die saak waarskynlik aanleiding gegee het tot die staat se besluit om die SAL wel in sakeredding te plaas, het Donderdagaand gesê hy oorweeg regstappe oor die aanstelling.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Donderdagoggend vroeg bevestig die SAL word dadelik in sakeredding geplaas.

Dit volg op ’n verrassende aankondiging Woensdag deur pres. Cyril Ramaphosa oor dié besluit.

Solidariteit het die staat in effek daartoe gedwing met sy eie aansoek op 21 November in die hooggeregshof in Johannesburg dat die SAL in sakeredding geplaas moet word.

Gordhan sê die aangewese sakereddingspraktisyn sal die bestuur van die lugdiens in oorleg met die bestaande maatskappybestuur oorneem en sal die organisasie se rasionalisering bestuur.

Boonop kry die SAL ’n lening van R2 miljard as deel van die sakereddingsplan en die staat gaan self nog R2 miljard aan die lugdiens gee.

Die plan sal die SAL in staat stel om sy vliegtuie in die lug te hou, sê Gordhan.

Die aansoek om sakeredding is Donderdag by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) ingedien en kort daarna is aangekondig Les Matuson van Matuson Asso­ciates is as sakeredder aangewys.

Hoewel ons baie bly is dat die staat die besluit geneem het om die lugdiens in sakeredding te plaas, word dit nou heeltemal te oorhaastig gedoen.

Solidariteit sê nou hy oorweeg regstappe omdat die vakbonde nie oor sy aanwysing gekonsulteer is nie. Dr. Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit, het Donderdagaand gesê hulle is baie ontevrede oor dié verwikkeling.

“Hoewel ons baie bly is dat die staat die besluit geneem het om die lugdiens in sakeredding te plaas, word dit nou heeltemal te oorhaastig gedoen,” sê hy.

Hermann sê ’n week gelede het die departement van openbare ondernemings nog aangedui hy gaan die vakbond se hofaansoek teenstaan.

“Nou skielik word daar in die middel van die nag besluit om die SAL tog in sakeredding te plaas en binne ’n dag, sonder enige konsultasie, word die sakeredder aangestel,” sê Hermann.

“Ons is nou regtig bekommerd oor hoeveel beheer die staat wil uitoefen oor die sakereddingsproses.

“As die staat hom nie daaraan onttrek nie, gaan daar niks met dié proses uitgerig word nie,” sê Hermann.

Hy sê Solidariteit het die SAL reeds in kennis gestel dat hy teen 09:00 Vrydag ’n verduideliking wil hê hoekom Matuson aangewys is.

“Ons het ook reeds ’n senior advokaat gekry om ons opsies te bespreek.”

Volgens die webwerf van Matuson­ Associates is Matuson ’n sakeredder met 35 jaar ervaring. Hy is onder meer ’n geoktrooieerde rekenmeester en ’n goedgekeurde sakeredder van die CIPC.

Een van die onlangse sakereddings wat hy hanteer het, is dié van die Ellerines-meubelgroep.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing van Intellidex, sê by navraag wat hom bekommer, is dat dit uit Gordhan se aankondiging blyk die staat wil dikteer hoe die reddingsproses moet geskied.

Die SAL kan nie bestaan nie. Daar is geen vooruitsig dat die SAL verkoop kan word nie, want jy kan nie iets verkoop wat so ’n groot verlies ly nie. Wie wil met miljarde rande se skuld sit?

Hy wys daarop dat sakeredders net aan die hof verantwoording doen en nié aan die aandeelhouer – in dié geval die staat – nie.

Soos talle ander ekonome meen Montalto die sakereddingsproses is te laat en die SAL gaan steeds gelikwideer word.

Die SAL het intussen gesê­ hy gaan reeds sy vlugrooster aanpas.

Hy wys ook daarop dat die sakereddingsproses geen invloed op sy vennoot Mango se vlugrooster sal hê nie.

Die private streeklugdiens Airlink, waarin die regering ’n klein belang het, het ook laat weet sy vlugte gaan sonder enige ontwrigting voort.

“Die SAL kan nie bestaan nie. Daar is geen vooruitsig dat die SAL verkoop kan word nie, want jy kan nie iets verkoop wat so ’n groot verlies ly nie. Wie wil met miljarde rande se skuld sit?” sê Mike Schüssler­, ekonoom.

Meer oor:  Solidariteit  |  Sakeredding  |  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.