Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Transaksies tussen firmas deur Covid-19 geknou
Transaksies waarin maatskappye deur hul mededingers of private beleggers uitgekoop word, is besig om weens die Covid-19-pandemie tot stilstand te kners. Foto: iStock

Transaksies waarin maatskappye deur hul mededingers of private beleggers uitgekoop word, is besig om weens die Covid-19-pandemie tot stilstand te kners.

Volgens ’n verslag wat Mergermarket uitgereik het, het verkrygings en samesmeltings reeds in die eerste kwartaal van 2020 begin daal – en die ontledingsfirma verwag dat dit in die tweede kwartaal heeltemal in duie gaan stort.

Daarby is die les van die 2008-’09- finansiële krisis dit kan twee jaar of langer duur voordat verkrygings weer op die vlakke van voor die pandemie kom.

In die eerste kwartaal was die totale waarde van verkrygings en samesmeltings wêreldwyd $563,7 miljard, wat 39,1% minder is as die eerste kwartaal van 2019. Dit verteenwoordig 3 685 transaksies.

Slegs transaksies van meer as $5 miljoen elk word ingesluit.

Die grootste transaksie vir die kwartaal was die verkryging van die Britse versekeraar Willis Towers Watson deur Aon, ’n multinasionale versekeraar met sy hoofkantoor in Londen. Dié transaksie was $35,6 miljard werd.

Dis byna dubbeld die tweede grootste transaksie, die verkryging van die Duitse nywerheidsreus Thyssenkrup se afdeling wat hysbakke installeer aan die private-ekwiteitsfirmas Advent International en Cinven. Dié transaksie was $18,8 miljard werd.

Die insinking in die mark vir verkrygings en samesmeltings volg op tien jaar van groei.

Dis onwaarskynlik dat die rekordgetal van 38 megatransaksies van 2019 vanjaar gehaal sal word. Megatransaksies is dié wat meer as $10 miljard werd is. In die eerste kwartaal is net agt daarvan aangekondig, teenoor 11 in die eerste kwartaal van 2019 en 14 in die eerste kwartaal van 2018.

Volgens Mergermarket is vanjaar se eerste kwartaal vergelykbaar met die eerste kwartaal van 2008. In dié kwartaal moes die New Yorkse beleggingsbank Bear Stearns in Maart met ’n reddingsboei staande gehou word. Dit het die internasionale finansiële krisis voorafgegaan wat ses maande later tot die ineenstorting van Lehman Brothers gelei het.

2009 was toe die eerste jaar sedert 2004 waarin minder as $2 000 miljard se verkrygings en samesmeltings gedoen is.

Dit het tot einde 2010 – dus meer as twee jaar – geduur voordat die waarde van transaksies weer was wat dit voor die resessie was.

“Omdat dit terreinbesoeke en fisieke vergaderings beperk, sal die sosiale distansiëring wat nodig is om die Covid-19-virussiekte in bedwang te bring, veral vir die middelmark van verkrygings en samesmeltings ontwrigtend wees.

“Dosyne private-ekwiteitsveilings is af- of uitgestel en baie eienaars van familieondernemings gaan een of twee jaar later aftree as beplan.”

Een van die grootste Amerikaanse transaksies wat nóg vanjaar aangekondig is, Xerox se vyandige aanbod om HP teen $35,5 miljard te koop, is juis afgeskaf omdat die koronavirus-krisis die wêreldmarkte ontwrig het.

Die daling in die waarde én aantal transaksies het wêreldwyd plaasgevind, met die uitsondering van Europa en Japan.

In die VSA het transaksies se waarde met 57% tot $206 miljard geval, maar Mergermarket wys daarop dat 2019 reeds ’n insinking gesien het te midde van die land se handelsoorlog met onder meer China. Die VSA verteenwoordig steeds 40,6% van die waarde van alle verkrygings en samesmeltings.

Al vyf die grootste transaksies het in die eerste kwartaal uit Europa gekom en het gehelp om die vasteland se transaksies met 30,2% tot $199,4 miljard te lig teenoor die eerste kwartaal van 2019. Dié vasteland verteenwoordig die tweede meeste, oftewel 35,4%, van alle verkrygings en samesmeltings.

Mergermarket is egter erg pessimisties oor Europa in die tweede kwartaal, gegewe die staat van inperking wat in onder meer Frankryk, Duitsland, Italië, Spanje en Brittanje ingestel is.

Meer oor:  Ekonomie  |  Maatskappye  |  Koronavirus  |  Markte  |  Finansies  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.