Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Transnet hof toe oor lokomotiewe

Transnet het Dinsdag saam met die regering se Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ’n aansoek by die hof ingedien om die omstrede lokomotiefkontrak van 2014 tersyde te stel.

transnet
Een van die omstrede 1 064 nuwe lokomotiewe wat Transnet in 2014 bestel het.

Transnet het aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge gesê hy vra dat die kontrakte tersyde gestel word en dat ’n regverdige en billike remedie toegestaan word, op grond daarvan dat die kontrakte onreëlmatig was en deur korrupsie besmet is.

Die kontrak van 2014 het die bestelling van 1 064 nuwe lokomotiewe van vier verskillende vervaardigers behels. Dit het aanvanklik R38,6 miljard gekos, maar het uiteindelik soveel as R54 miljard gekos.

Transnet eis ook R1,4 miljard vir die verskuiwing van twee van die vervaardigers se bedrywighede van Transnet Engineering se perseel by Koedoespoort buite Pretoria na Durban. Dit is China North Rail (CNR) en Bombardier Transportation. Die ander twee verskaffers wat by die kontrak betrokke was, is China South Rail (CSR) en General Electric.

Die hoofargument in Transnet se aansoek is dat die vier verskaffers nie geregtig was op voordele uit die kontrakte nie omdat dit op onwettige en onreëlmatige wyse toegeken is. Veral CNR en CSR kan nie beweer hulle is onskuldig nie gegewe die terugbetalingsooreenkomste wat hul moedermaatskappy met die Gupta-verwante tussengangers Regiments en Tequesta beklink het. Maar General Electric en Bombardier kan ook nie beweer hulle het nie geweet die verkrygingsproses en gevolglike kontrakte was onreëlmatig en onwettig nie.

Die eis vir die verskuiwingskoste sal deel word van die hersieningsaansoek en is volgens Transnet ook die onderwerp van ’n strafsaak wat by die Hillbrow-polisiekantoor aanhangig gemaak is.

Die SOE en die nasionale vervolgingsgesag ondersoek ook nog die Gupta-verwante maatskappye Regiments en Trillian, asook die internasionale konsultantgroep McKinsey en Nedbank wat transaksie-adviesdienste rakende die lokomotiefkontrak betref.

Transnet sê hy werk saam met die SOE om verdere bewyse van wanbestuur, onreëlmatighede en aansienlike verliese vir Transnet te bekom, asook toekomstige verliese wat betref die rentekoers waarteen Nedbank die lokomotiefkontrak gefinansier het.

Siviele eise is by die hooggeregshof ingedien teen onder meer Regiments wat betref oormatige betalings vir die reël van ’n lening. Die eise betrek ook Trillian en onder andere die vorige uitvoerende en finansiële hoofde van Transnet – Siyabonga Gama en Anoj Singh.

general electric
'n Argieffoto van Thamsanqa Jiyane, destyds Transnet Engineering se uitvoerende hoof (regs), Siyabonga Gama, Transnet se destydse uitvoerende hoof, en Anthony Foxx, die VSA se adjunkminister van vervoer (agter), by een van die lokomotiewe wat by die Koedoespoort-fabriek gebou is as deel van die omstrede lokomotiefkontrak. Die Amerikaanse maatskappy General Electric was ook een van die verskaffers.

Volgens Transnet het hy ’n skikking met Regiments bereik vir R180 000 wat betaal sou word uit die verkoop van Capitec-aandele wat Regiments besit. Maar volgens Transnet het Regiments nog nie die bedrag betaal nie omdat hy gelikwideer is.

Transnet is ook in gesprek met Nedbank oor onreëlmatighede rondom die rentekoers-reëlings. Afhangende van die uitslag van dié gesprekke sal Transnet besluit of hy ook stappe teen Nedbank gaan doen, het die komitee Dinsdag verneem.

’n Amptenaar van Transnet is R18 miljoen betaal as geheime wins wat betref die nuwe brandstofpypleiding wat tussen Durban en Gauteng gebou is, het Transnet aan die komitee geopenbaar. Die maatskappy wat betrokke was, is IGS Consulting. Transnet was suksesvol met ’n aansoek om die kontrak met IGS tersyde te stel, maar IGS het appèl aangeteken. Die SOE het bevind daar was ’n korrupte verhouding tussen IGS en die betrokke Transnet-amptenaar, ene Msagala, wat intussen aan ’n tugverhoor onderwerp en afgedank is.

Transnet het in Mei 2019 drie werknemers uitgevang wat brandstof uit die pypleiding wou steel. Hulle is afgedank en die Valke ondersoek die saak.

Ander sake wat die SOE en die nasionale vervolgingsgesag ondersoek, hou verband met onder meer kontrakte vir kringtelevisiekameras met Neotel vir R228 miljoen en R843 miljoen, die instandhouding van lokomotiewe vir R6,1 miljoen, en die herbou en verlenging van houerkaai-vasmeerplekke in die Durbanse hawe ter waarde van R4,2 miljard.

Meer oor:  Transnet  |  Trillian  |  Mckinsey  |  Regiments  |  Spesiale Ondersoekeenheid  |  Lokomotiewe  |  Bedrog  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.