Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Transnet-hoë pleit armoede in saak van korrupsie

Herbert Msagala, voormalige hoof van kapitaalprojekte by Transnet, het homself Maandag verskoon van die verhoor oor die bewerings van finansiële onreëlmatigheid teen hom.

Msagala
'n Foto van Herbert Msagala wat in die 2015 jaarverslag van Transnet verskyn het toe hy groephoof van kapitaalprojekte was.

Msagala moes voor die spesiale tribunaal se verhoor in die Johannesburgse hooggeregshof verskyn.

Sy bates van sowat R18,4 miljoen is verlede jaar al bevries hangende siviele regstappe teen hom om geld terug te kry wat Transnet na bewering weens sy optrede verloor het.

Volgens die spesiale tribunaal het Msagala Maandag armoede gepleit en homself verdedig, want volgens hom het hy nie geld vir prokureurs nie. Toe Msagala vra dat hy van die hofsaak verskoon word, het regter Lebogang Modiba hom gewaarsku dat die saak in sy afwesigheid sal voortgaan en dat hy die geleentheid só verbeur om homself te verdedig. Dit is nadat Msagala se versoek dat die saak uitgestel word, van die hand gewys is.

Msagala word betrek by geheime wins van meer as R18 miljoen wat deur die maatskappy IGS Consulting (IGS) betaal is rakende die nuwe brandstofpypleiding wat tussen Durban en Gauteng gebou is. Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het vroeër bevind daar was ’n korrupte verhouding tussen IGS en Msagala, wat sedertdien aan ’n tugverhoor onderwerp en afgedank is. Transnet het ook die uitbetaling van Msagala se pensioen gestop.

Aiden Smith, ’n veiligheidsbeampte by Transnet, het vandeesweek getuig hoe hy as BBP-veiligheidsbeampte vir Msagala gehelp het om verskillende tjeks by banke vir kontant te gaan wissel. Dit was na bewering deel van die R18,5 miljoen se betalings deur IGS aan Msagala.

Een van Transnet Pipelines se pompstasies. Bewerings van bedrog word gemaak oor die brandstofpypleiding van Transnet tussen Durban en Gauteng, waarby die firma IGS Consulting betrokke was.

IGS is in Julie 2015 deur Transnet gekontrakteer.

Smith het getuig hoe hy Msagala moes vergesel om die eerste tjek van R350 000 by Standard Bank te gaan wissel. ’n Vrou met die naam Claudine het die tjek vir hom gewissel en hy en Msagala het daarna na Msagala se huis gery en die kontant in die huis gelos.

Die tjekbetalings het al in Oktober 2015 begin. Op 29 Oktober 2020 is ’n tjek van R100 000 deur IGS in die naam van Smith uitgereik in opdrag van Msagala, het Smith getuig. Tot soveel as R1 miljoen se tjeks is so gewissel.

’n Ondersoekbeampte van die SOE het getuig Transnet het die beweerde onreëlmatighede intern deur die ondersoekfirma Nexus laat ondersoek. Nexus het die verskeie kontrakte ondersoek wat Transnet aan IGS toegeken het, en het bevind Msagala was een van die ontvangers van geld via IGS. Die Nexus-verslag het getoon Msagala het ’n flambojante leefstyl gehandhaaf en die manier hoe hy die aankoop van sekere eiendomme gefinansier het, het agterdog gewek. Die SOE het daarna Nexus se bevindings nagegaan en transaksierekords is by banke verkry vir die verskillende betalings. Benewens Standard Bank, is dit ook gedoen via tjekrekeninge van Absa en Nedbank, en via kredietkaarte by Absa.

Die saak voor die spesiale tribunaal sal tot 21 Mei voortduur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.