Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Transnet-krisis: 450 000 liter wyn ‘iewers’ in hawe

Uitvoerders van sitrus, vleis en wyn is besig om ’n enorme kopseer te ontwikkel nadat ’n kuberaanval Transnet se hawens verlam het.

Lang rye vragmotors staan op die oomblik buite die hawens geparkeer en word toegang geweier, terwyl die aflaai van vrag met ’n slakkegang gebeur.

Tientalle vragmotors staan op Woensdag 27 Julie tou om by Kaapstad se hawe te probeer inkom nadat Transnet se IT-probleme die hawe se bedrywighede verlam het. Foto: Jaco Marais

Ondernemings met wie Netwerk24 gepraat het, sê die situasie kan katastrofiese gevolge inhou.

’n Verlies aan inkomste is nie die enigste werklikheid nie. Die skade wat die land se geloofwaardigheid berokken word, kan op lang termyn ook baie nadelig vir uitvoerders wees.

Uitvoerders sê die vragte begin ophoop, terwyl daar ook ’n tekort aan vraghouers is.

Baie uitvoerders begin reeds opsies ondersoek om buurlande se hawens te gebruik, waarsku Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging.

Hy sê indien Transnet nie vinnig met ’n oplossing vorendag kom nie, sal dit ’n wesenlike invloed op die sitrus-uitvoerbedryf hê.

“Omdat al Suid-Afrika se hawens deur die kuberaanval geraak word, begin sommige uitvoerders nou rondkyk om ander hawens, soos Maputo in Mosambiek, vir sekere uitvoerprodukte te gebruik,” sê hy.

Volgens hom het die sluiting van die N3-hoofweg en Durban se hawe in die onluste in KwaZulu-Natal die sitrusbedryf se logistieke kanaal uit die noorde van die land geraak.

“Goeie samewerking in die logistieke ketting het egter beteken dat die onderbreking vir dié boere minimaal was en dat die bedryf net weer begin inhaal het toe Transnet se kuberaanval gebeur en hawens opnuut verlam is.”

Sitrusuitvoer

Volgens Chadwick is die sitrusbedryf in Suidelike Afrika nou omtrent halfpad deur die 2021-uitvoerjaar.

“Die tweede helfte van die jaar se uitvoer word grootliks oorheers deur Valencia-lemoene, waarvan die oes nou eers begin.”

Dié vrugte moet ook uitgevoer word en hierdie keer is al Transnet se hawens ’n probleem en kan vrugte nie, soos toe Durban se hawe gesluit was, na ander hawens herlei word nie.

Só word wynuitvoer geraak

Wynuitvoerders met wie Netwerk24 gesels het, sê die situasie kan katastrofies eindig.

“Dis asof Transnet ons net die nodigste inligting gee, maar die sluiting van die hawens het ’n massiewe uitwerking op ons bedrywighede,” sê Nadia Engelbrecht, uitvoerende hoof van The Bulk Wine Centre.

Sy voer wyn deur Kaapstad se hawe uit, en omdat Transnet op die oomblik slegs vragte se administrasie met die hand hanteer, is daar geen manier om vas te stel waar die vragte grootmaat-wyn in die proses om uitgevoer te word trek nie.

“Ons weet nie waar ons vragte is wat reeds hawe toe gestuur is nie, die hawe (se hekke) is gesluit en ons het geen manier om vas te stel wat daar gebeur nie.”

Sy sê die een groot uitdaging is ook die beskikbaarheid van vraghouers, wat reeds ’n kopseer in Kaapstad se hawe was.

Engelbrecht sê in dié stadium word drie weke se uitvoer geraak en ongeveer 200 000 liter wyn is “iewers” in Kaapstad se hawe sonder enige aanduiding wanneer dit verskeep gaan word.

Volgens haar is uitvoerders is heeltemal uitgelewer aan Transnet, wat bitter min inligting uitreik.

“Ons het nog nie kansellasies vanaf kliënte ontvang nie en maak op die oomblik staat op goeie verhoudinge, maar ons weet nie hoe lank die situasie gaan aanhou nie.

“Suid-Afrika se wynuitvoer ding met groot rolspelers mee en in ’n stadium gaan lande ook begin opweeg hoe maklik, of moeilik, dit is om met Suid-Afrika handel te dryf.”

Gerhard van der Watt, uitvoerende hoof van Perdeberg en een van die groot uitvoerders van grootmaat-wyn, sê hoewel die kliënte tans rustig is, kan die situasie die vertrouensverhoudinge skade berokken indien dit uitgerek word.

Hy sê een vraghouer bevat 25 000 liter wyn. Hulle sou dié week 40 vraghouers uitgevoer het, maar kon dit nie doen nie.

Teen ’n verkoopsprys van R13 per liter beteken dit R13 miljoen se wyn wag om verskeep te word.

“Die bottelnek wat nou ontstaan en net erger word, gaan toekomstige beplanningsprogramme oor die volgende paar maande erg affekteer. Ons moet byvoorbeeld nou wyn in ons tenke stoor omdat dit nie uitgevoer kan word nie, en dit veroorsaak ook opeenhopings by ons.”

Van der Watt het reeds tien vraghouers op die hawe wat uitgevoer moet word.

Saam met The Bulk Wine Centre se wyn beteken dit dat minstens 450 000 liter wyn op die hawe wag om uitgevoer te word.

Die bedrywighede in Kaapstad se hawe gaan voort, maar bottelnekke begin opbou. Foto: Jaco Marais

Volgens Christo Conradie, Vinpro se bestuurder van wynkelders, is die situasie uiters frustrerend omdat kritieke verpakkingsmateriaal wat ingevoer word, ook nie by die produsente en die kelders kan uitkom nie.

“Bottels word reeds ingevoer omdat daar ’n tekort is daaraan en daar steeds uitdagings by Consol is, wat wynbottels vervaardig. Ons verloor geld, geloofwaardigheid en internasionale kopers kan begin rondkyk na ander lande vir wyn.”

Vleisbedryf

Suid-Afrika voer maar 5% van sy vleis uit, maar dié bedryf word ook deur die sluiting van die hawens en die opeenhoping van vragte geraak.

Volgens Dewald Oliver, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging, word bevrore en verkoelde vleis uitgevoer.

“Die onluste het klaar opeenhopings veroorsaak en tekorte aan verkoelde vraghouers meegebring. Dit word nou net weer vererger. Ons moet stoorplek kry vir die produkte wat nie nou uitgevoer kan word nie.”

Hy sê omdat daar nie nou ’n manier is om vas te stel waar in die hawens die vleis is of wanneer dit verskeep gaan word nie, skep dit nóg ’n groot uitdaging.

“Dan sit ons ook met spesifieke produkte vir sekere markte wat, hoewel ons dit plaaslik kan verkoop, nie dieselfde premie in prys sal inbring nie. Daar gaan dus verliese op dié produkte wees.”

Olivier verwys spesifiek na vleis waarvan die meeste vet reeds verwyder is en wat na lande soos Jordanië uitgevoer word.

Intussen het Transnet Dinsdag laat weet “vordering” word gemaak om weer op dreef te kom.

LEES OOK: Transnet vorder ná kuberaanval

Transnet het force majeure verklaar weens die probleem. Dit beteken hy beroep hom op omstandighede buite sy beheer as verweer vir die kontrakbreuk wat noodwendig nou plaasvind.

Meer oor:  Handel  |  Transnet-Kuberaanval  |  Vleisbedryf  |  Sitrus  |  Wyn  |  Kuberaanval  |  Hawens  |  Wynbedryf  |  Infrastruktuur  |  Kuberkrakers  |  Uitvoer  |  Wynuitvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.