Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Transnet kry dwarsklap van Fitch

Die kredietgraderingsagentskap Fitch het Transnet se skuldbriewe uit die bloute afgegradeer en ’n negatiewe vooruitsig daarop geplaas.

Die hoofkantoor van Fitch Ratings in Londen. Foto: Simon Dawson, Bloomberg

Dit is onder meer weens die invloed wat die regering se inperking op sy staatsvervoergroep gehad het, asook die feit dat Suid-Afrika se nasionale gradering in November afgegradeer is deur Fitch.

Die afgradering beteken in kort dat Transnet swakker sal meeding om finansiering te lok wanneer hy skuldbriewe of effekte wil uitreik op die kapitaalmarkte.

Transnet het Maandag op die JSE se Sens-nuusdiens laat weet Fitch het hom Vrydag van BB na BB- afgegradeer, grootliks weens Transnet se status as ’n staatsonderneming wat blootgestel is aan die gradering van staatseffekte.

Suid-Afrika se soewereine gradering is op 20 November deur Fitch afgegradeer na BB met ’n negatiewe vooruitsig.

moody's, fitch, s&P

Fitch wys op die groot uitwerking wat die regering se inperking op Transnet se bedrywighede gehad het, al is dit as ’n noodsaaklike diens geklassifiseer.

Fitch meen Transnet se alleenstaande kredietprofiel is nou laer as dié van die Russiese spoorgroep JSC Russian Railways, wat ’n meer konserwatiewe finansiële profiel het en wat geografies meer gediversifiseer is.

Transnet se nasionale skaalgradering van AA is ook laer as dié van NamPorts, die Namibiese hawe-owerheid. Fitch sê NamPorts het meer skuld wat deur die Namibiese regering gewaarborg word.

transnet
Die vasmeerplekke aan die noordkaai van die Durbanse houerhawe. Die inperking het vragvolumes by Transnet 'n knou gegee. Foto: TRANSNET

Transnet se inkomste het in die ses maande tot einde September verlede jaar met 17% gedaal weens die afname in die volume steenkool, ystererts, mangaan en ander algemene vrag wat hy moes vervoer.

Fitch het gewys op Transnet se hoë vaste koste, wat beteken die laer volumes het sy winsmarges onder druk geplaas. Danksy vinnige ekonomiese herstel in die derde kwartaal van sy boekjaar, verwag Fitch wel dat Transnet se inkomste vir die volle boekjaar tot einde Maart vanjaar sowat 12% laer as die vorige boekjaar sal wees.

Fitch meen Transnet kon wel die invloed op sy kontantvloei versag deur kapitaalprojekte uit te stel. Fitch verwag steeds ’n negatiewe kontantvloei van sowat R6 miljard vir die boekjaar weens onder meer laer verdienste en groter uitvloei van bedryfskapitaal.

Fitch wys verder op die gekwalifiseerde ouditopinie wat Transnet op sy syfers vir die 2020-boekjaar gekry het. Dit spruit uit hoe volledig Transnet oor onreëlmatige besteding verslag gedoen het. Fitch stem wel in dat Transnet verbeter het, met ’n afname in nuwe kontrakte wat onreëlmatig is.

Fitch waarsku Transnet se likiditeit is effe aan die knap kant. Hy het teen einde September kontant van R4,9 miljard in die bank gehad, maar het korttermynskuld van R14,3 miljard. Fitch verwag Transnet sal steeds finansiering op die kapitaalmarkte soek om sy bestedingsplan van R80 miljard tot 2024 te kan dek. In die eerste helfte van sy 2021-boekjaar het Transnet R16,3 miljard in die vorm van lenings, effekte en skuldbriewe ingesamel, en R17,7 miljard se skuld terugbetaal.

Meer oor:  Transnet  |  Fitch  |  Kredietgradering  |  Vervoer  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.