Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Transnet, Pravin gooi wal oor aanstel van nuwe hoof
Daar is konflik in Transnet oor die aanstelling van 'n nuwe hoof.

Daar is nie konflik tussen die Transnet-direksie en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, oor die aanstelling van ’n nuwe uitvoerende hoof vir die staatsvervoergroep nie.

Só sê Popo Molefe, voorsitter van Transnet.

Hy het reageer oor gissings in Sondagkoerante dat Gordhan en die Transnet-direksie nie saamstem oor die geskikte kandidaat vir die pos nie.

Volgens City Press is onderhoude met kandidate reeds ses maande gelede gevoer, maar ’n permanente aanstelling is nog nie gedoen nie.

’n Kortlys van die direksie se voorkeurkandidate is volgens City Press in Oktober aan Gordhan verskaf.

City Press se bronne beweer die direksie verkies Patrick Dlamini, uitvoerende hoof van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, as sy voorkeurkandidaat vir die pos, met Simo Lushaba, ’n vorige topbestuurder by Transnet, in die tweede plek.

Die naam van Portia Derby, ’n vorige direkteur-generaal van die departement van openbare ondernemings, is ook genoem. Bronne van City Press voer aan Gordhan wou Derby aangestel hê omdat hy ’n vrou met finansiële ervaring in die pos verkies.

Business Day berig op sy beurt dat Derby voorheen met Brian Molefe, vorige hoof van Transnet en Eskom, getroud was. Die Sunday Times het ’n bron aangehaal wat beweer Derby se vorige verbintenis met Molefe is in ag geneem voordat sy vir die pos aanbeveel is. Die Sondagkoerant berig Derby en Molefe se paaie het geskei weens Molefe se verbintenis met die omstrede Gupta-familie wat by bewerings oor staatskaping betrek is.

Maar die Transnet-direksie het Woensdag gesê hy neem met kommer kennis van die misleidende en onakkurate mediaberigte oor die aanstelling. Transnet het die media gevra om nie haastige gevolgtrekkings te maak wat die aanstellingsproses kan ontspoor nie.

Volgens Transnet is die proses nog nie afgehandel nie, en sal ’n aankondiging gemaak word sodra al die stappe afgehandel is.

Gordhan se kantoor het ook Dinsdag op die mediaberigte reageer en gesê baie van die medianavrae oor die aanstelling van ’n nuwe Transnet-hoof lyk asof dit op skinderstories, gerugte, saamgeflanste stories en dele van vertroulike inligting bestaan wat uit direksievergaderings uitgelek het, gewoonlik deur ’n “ongeïdentifiseerde” bron.

Die inligting van anonieme bronne is gewoonlik bedoel om een kandidaat bo ’n ander een te probeer bevorder, en probeer twyfel saai oor die integriteit van die direksie se proses, volgens Gordhan se kantoor.

Die bewerings in verskeie medianavrae sedert einde 2019 oor die aanstellingsproses is ’n poging om sonder geloofwaardige feite die proses te ontspoor of verdag te maak, terwyl dit ’n belangrike aanstelling is om korrupsie en wanbestuur by Transnet uit te roei, lui die verklaring van Gordhan se kantoor.

Vorige Transnet-topbestuurders word nou betrek by die bewerings oor staatskaping, onder meer wat betref die kontrak van R54 miljard van 2014 om 1 064 nuwe lokomotiewe te koop.

Transnet is al sedert Oktober 2018 sonder ’n permanente uitvoerende hoof nadat Siyabonga Gama afgedank is ná ’n tugverhoor. Hy is opgevolg deur Tau Morwe, ’n Transnet-veteraan wat uit die private sektor teruggeroep is om tydelik as hoof waar te neem. Morwe het vir ses maande uitgehelp tot Mei 2019, waarna Mohammed Mahomedy, waarnemende finansiële hoof, as waarnemende hoof aangestel is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.