Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Transnet-pypleiding: 40 diewe al gevang

Ons gaan jou vang, sê Transnet aan brandstofdiewe wat beplan om by sy brandstofpypleiding in te breek.

Brande langs die Transnet-pypleiding in die omgewing van Alberton in 2019 weens diefstal van brandstof. Foto: News24

Twee verdagtes is Woensdagaand in die omgewing van Umbumbulu wes van Durban in hegtenis geneem waar hulle aan Transnet Pipelines se pypleiding wou peuter.

Dit bring die getal mense wat die afgelope drie maande in hegtenis geneem is op 40 te staan.

Die staatsonderneming se belegging in beter veiligheid- en waarnemingsmaatreëls langs dié pypleiding tussen Durban en Gauteng begin vrugte afwerp, sê Michelle Phillips, uitvoerende hoof van Transnet Pipelines, in ’n verklaring.

Vandalisme en diefstal uit die brandstofpypleiding, asook die steel van kabels langs spoorlyne, het Transnet sedert die begin van die Covid-19-inperkings verlede jaar al miljoene rande gekos en het druk geplaas op brandstofvoorsiening in die binneland, asook op uitvoerders van minerale wat van Transnet Freight Rail se spoorvragdiens afhanklik is.

Die diefstal uit die pypleidings het tydens die streng inperking verlede jaar skerp toegeneem. Die sluit van die pypleiding vir die gevolglike herstelwerk het saamgeval met raffinaderye wat weens die inperking produksie afgeskaal het, en het tot dieseltekorte in Junie verlede jaar gelei.

Die skade en diefstal het Transnet in sy boekjaar tot einde Maart byna R600 miljoen uit die sak gejaag.

LEES OOK: Pyne met pype, diefstal kos Transnet R600 m.

Transnet is egter bemoedig dat die howe begin om van die oortreders te vonnis, sê Phillips.

In Junie is ’n 42-jarige man skuldig bevind en tot drie jaar tronkstraf gevonnis nadat hy by die pypleiding in die omgewing van Langlaagte in Johannesburg wou inbreek.

Michelle Phillips, uitvoerende hoof van Transnet Pipelines, die filiaal van Transnet wat verantwoordelik is vir die bedryf van die brandstofpypleidings tussen Durban en Gauteng wat verskillende petroleumprodukte vervoer.

Sy waarsku dat dit baie gevaarlik is om aan die hoëdruk-petroleumpypleidings te peuter, en die misdade van diefstal en vandalisme kan tot ontploffings en brande lei wat ernstige beserings of sterftes kan veroorsaak vir die oortreders of mense wat in die omgewing woon.

In Januarie is twee mans by Kendal in Mpumalanga dood toe hulle na bewering brandstof uit die pypleiding wou steel en daar ’n brand ontstaan het.

Transnet het weer eens beklemtoon dat die pypleidings as noodsaaklike infrastruktuur geklassifiseer word, en enige gepeuter of samespanning om daaraan te peuter word as ’n bylae 5-oortreding ingevolge die Wysigingswet op Strafregtelike Sake beskou.

Transnet het vulstasie-eienaars en die publiek gewaarsku dat hulle nie brandstof van ongeregistreerde handelaars moet koop nie.

Die publiek is aangemoedig om enige verdagte voertuie soos bakkies of tenkwaens in die omgewing van Transnet-pypleidings by die tolvry nommer 0800 203 843 of die naaste polisiekantoor aan te meld.

Meer oor:  Transnet  |  Hawens  |  Olie  |  Petrolprys  |  Brandstofbedryf  |  Infrastruktuur  |  Brandstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.