Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Transnet se greep op hawens ‘knou ekonomie’

Transnet se greep op die Nasionale Haweowerheid dra tot 1% van die totale koste in die ekonomie by en moet dringend verbreek word, sê die ekonoom Mike Schüssler.

’n Uitsig op die Kaapse hawe se houerkaai. Die departement van openbare ondernemings het in Februarie ’n tender geadverteer vir ’n konsultant om te bepaal of sowel die haweowerheid as Transnet steeds ’n lopende saak sou wees ná ’n skeiding. Foto: Transnet

Maar vir Transnet is die inkomste uit die haweowerheid broodgeld wat ’n wesenlike bydrae lewer tot sy jaarlikse inkomste.

Dit volg nadat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, die afgelope week in sy begrotingsrede gesê het hy gaan voorrang verleen aan die ondersoek na die korporatisering van die haweowerheid

Rapport het vroeër berig dat een ná die ander ministers van openbare ondernemings nou al 16 jaar lank versuim om uitvoering te gee aan die Nasionale Hawewet, wat vereis dat hulle die haweowerheid van Transnet skei.

Solank die haweowerheid deel van Transnet bly, is Transnet as’t ware “speler en skeidsregter” en dit word beskou as ’n demper op mededinging en beleggings in die hawens.

Tot 70% van Suid-Afrika se invoer kom deur die hawens, maar ons hawetariewe is hoër as dié van ander lande. Dié koste word bygevoeg by die koste van ingevoerde produkte en demp die ekonomie.
Mike Schüssler, ekonoom

Die departement van openbare ondernemings het in Februarie ’n tender geadverteer vir ’n konsultant om onder meer te bepaal of sowel die haweowerheid as Transnet steeds ’n lopende saak sou wees ná ’n skeiding en wat die implikasies sou wees vir finansiers.

Maar dié tender moes “weens prosedurele kwessies” van voor af geadverteer word, het Gordhan se woordvoerder, Adrian Lackay, Vrydag aan Rapport gesê. Dit het die hele proses vertraag.

Dít terwyl Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, ondersoek instel na Gordhan en sy voorgangers Barbara Hogan en Malusi Gigaba se versuim om die wet in werking te stel.

Hof gevra om in te gryp

Intussen vra ’n belegger die hooggeregshof in KwaZulu-Natal om die minister tot optrede te dwing.

Die hofaansoek is ingedien deur Siya­khuphuka Investment Holdings. Siya­khuphuka sou ’n houerterminus in die hawe in Richardsbaai bou, maar sy aansoek is afgekeur. En toe kry Transnet later die reg om dit te doen.

Transnet sê self in hofstukke sy skuld van miljarde rande is verkry op grond van die balansstaat met die hawebates ingesluit.

“Enige vermindering van die waarde van Transnet se balansstaat kan finansiers se gewilligheid om langtermynlenings toe te staan ondermyn en kan Transnet blootstel aan eise vir onmiddellike betaling. Dit kan Transnet, die land en die staat as enigste aandeelhouer finansieel skaad,” sê Peter Balfour, hoof van regsdienste en voldoening by die Transnet Nasionale Haweowerheid in ’n eedsverklaring in die Siyakhuphuka-saak.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, sê Transnet se ondoeltreffendheid knou die ekonomie. Foto: Wikus de Wet

Volgens Transnet se finansiële state vir 2017-’18 het die haweowerheid R11,7 miljard se inkomste verdien, wat 16% is van die groep se totale inkomste. Daarop was die voorbelaste wins R3,8 miljard, wat 32% is van die groep se totale voorbelaste wins.

Transnet se ouditeurs het spesifiek uitgewys dat die haweowerheid se beleggingseiendom ’n wesenlike deel uitmaak van Transnet se beleggingseiendom. Dít is eiendom waaruit die groep huurinkomste verdien.

Volgens Siyakhuphuka vereis die Hawewet egter bloot dat die haweowerheid ’n aparte maatskappy moet wees wat onafhanklik van Transnet se bedrywighede funksioneer. Dit kan steeds ’n filiaal van Transnet wees, wat sal beteken dat sy bates steeds deel van Transnet se balansstaat kan bly.

Lackay het aan Rapport gesê dit is presies wat Gordhan in gedagte het.

Daar is volgens Siyakhuphuka dus geen verskoning vir die gesloer nie. Die groep vra dat die hof die minister dwing om onverwyld met die proses te begin en elke drie maande aan die hof verslag doen oor die vordering.

Die hof het nog nie ’n datum vasgestel waarop die Siyakhuphuka-aansoek aangehoor sal word nie.

Só knou dit ekonomie

Intussen sê Schüssler sowel hoë hawetariewe as ondoeltreffende hawebedrywighede belemmer die ekonomie.

Hy sê die regering is reeds besig om die hawetariewe te temper, maar vragmotors staan tot 36 uur en wag om te laai in die Durban-hawe weens Transnet se ondoeltreffendheid.

Hy meen ’n onafhanklike haweowerheid kan lei tot groter doeltreffendheid en meer investering, soos die Siyakhuphuka-ervaring skynbaar toon. “Tot 70% van Suid-Afrika se invoer kom deur die hawens, maar ons hawetariewe is hoër as dié van ander lande. Dié koste word bygevoeg by die koste van ingevoerde produkte en demp die ekonomie,” sê Schüssler.

Volgens Lackay sal Gordhan die positiewe en negatiewe implikasies van die korporatisering van die haweowerheid oorweeg. “Dit sluit in wyses waarop dit doeltreffendheid, koste-effektiwiteit en betroubaarheid van hawebedrywighede kan bevorder. Die finansiële en kontraktuele implikasies moet ondersoek word, asook hoe dit personeel sal affekteer.”

Meer oor:  Transnet  |  Mike Schüssler  |  Gordhan  |  Pravin  |  Richardsbaai  |  Infrastruktuur  |  Staatsondernemings  |  Hawens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.