Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Transnet se monopolie by hawens bekyk

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), sê sy gaan ondersoek instel na die beweerde versuim van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en sy voorgangers om toe te sien dat die nasionale hawe-owerheid ooreenkomstig die Nasionale Hawewet onafhanklik funksioneer.

’n Argieffoto van die houerkaai in die Tafelbaaise hawe. Foto: Denzil Maregele

Die klag kom van Siyakhuphuka Investment Holdings en dek ook die termyne van Malusi Gigaba en Barbara Hogan.

Rapport het vroeër berig die nasionale hawe-owerheid beheer al 15 jaar lank onwettig die land se agt kommersiële hawens en dat alle kontrakte wat sedert 2006 aangegaan is, aanvegbaar is. Dit is bevestig in ’n verslag van die hawereguleerder wat in 2016 aan die minister van vervoer oorhandig is.

Die verslag het aan die lig gekom tydens litigasie tussen Siyakhuphuka en die hawe-owerheid, wat tans ’n afdeling van Transnet is.

Die maatskappy se direkteur, Jan Scheepers, sê in sy skrywe aan die OB die Hawewet het ten doel om die eienaarskap van die hawens te skei van die hawebedrywighede en ’n einde te maak aan Transnet se rol as “speler en skeidsregter”.

Hy sê die minister van openbare ondernemings as verteenwoordiger van die regering wat die aandeelhouers is, moes sorg dat die wetsbepalings oor die hawe-owerheid se struktuur tot uitvoering kom, en die versuim om dit te doen, kom neer op pligsversuim.

Só kon Transnet die hawe-owerheid kaap, sy markaandeel vergroot en mededingers uit die mark hou.

Siyakhuphuka se regstryd gaan daaroor dat die maatskappy se voorstel om ’n houerterminus in Richardsbaai te bou, deur die owerheid afgekeur is, net om Transnet later die reg te gee om dit te doen.

Scheepers het korrespondensie met sowel Hogan as Gigaba by die klag aangeheg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.