Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Transnet se onreëlmatige miljarde ‘walg’ vakbond

Transnet het Vrydag “gespog” dat hy nie so afhanklik is van staatswaarborge as ander staatsondernemings nie, maar bykans ’n kwart van sy totale besteding is opgeslurp deur onreëlmatige besteding – en sy grootste vakbond sien rooi daaroor.

Bykans ’n kwart van Transnet se totale besteding gedurende die 2019-’20-boekjaar was onreëlmatig. Foto: Getty Images

“Ons is gewalg dat Transnet aanhou om belastingbetalers se geld onreëlmatig te bestee,” sê Steve Harris, hoofsekretaris van die vervoervakbond Untu, in ’n verklaring.

Dit blyk uit Transnet se resultate vir die boekjaar tot einde Maart dat daar R9,9 miljard se onreëlmatige besteding in die boekjaar was – 23% van sy totale besteding.

LEES OOK: Transnet se wins val met 35%

Volgens Harris is dit onaanvaarbaar, veral “aangesien dit al drie jaar gelede aan die lig gekom het dat Transnet sentraal staan in staatskaping in Suid-Afrika”.

“Dit is eenvoudig nie goed genoeg om te sê dat pogings om nakoming te verbeter, gelei het tot ’n aansienlike vermindering in onreëlmatige besteding in nuwe kontrakte nie,” sê Harris.

“Daar behoort glad nie onreëlmatige besteding te wees nie. Dit is geld wat gebruik kon word om meer werk in Transnet te skep en armoede te verlig in hierdie uiters moeilike tye.”

Transnet sê die meeste van sy huidige onreëlmatige besteding is ’n regstreekse nalatenskap van vorige jare.

Hy is besig om elke tender en verskaffer-verhouding sedert 2012 met ’n fynkam deur te gaan en dít word nou as onreëlmatige besteding in sy boeke weerspieël.

Die meeste van vanjaar se onreëlmatige besteding is volgens Transnet die gevolg van sy besluit om tender-verhoudings te wysig onder ’n nuwe raamwerk, wat talle tenders wat in 2018 en 2019 toegestaan is, “onreëlmatig” maak.

Maar weens die enorme onreëlmatige besteding kon Transnet net ’n gekwalifiseerde ouditmening kry en word IFRS-standaarde nie nagekom nie.

Popo Molefe, voorsitter van Transnet, het met die bekendmaking van die jaarresultate gesê die ouditmening dui nie op ’n swak finansiële prestasie nie, maar is hoofsaaklik weens die onreëlmatige besteding en onvolledige verslagdoening.

Untu wys daarop dat nog 12 800 kontrakte beoordeel moet word.

Nonkululeko Dlamini, finansiële hoof, sê Transnet het ’n vorige finansiële hoof van die nasionale tesourie gewerf om te help om sy boekhouding te verbeter. Van die uitdagings met onreëlmatige besteding is wel nou al agt jaar lank aan die gang.

Sy het beklemtoon dat Transnet steeds ’n lopende saak is ondanks ’n insinking in sy geldsake weens die pandemie se impak.

Meer oor:  Transnet  |  Untu  |  Onreëlmatige Besteding  |  Korrupsie  |  Resultate  |  Vakbonde  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.