Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Transnet verklaar force majeure by hawens

Transnet het force majeure verklaar by sy houereindpunte in die hawens van Durban, Kaapstad, Gqeberha en Ngqurha.

Pres. Cyril Ramaphosa het die Durban-hawe nie lank terug nie besoek en groot gewag gemaak van nuwe toerusting by die hawe. Foto: GCIS

Dit volg op die kuberaanval wat sy Navis-stelsel sedert 22 Julie lamlê en omvangryke ontwrigting in vraglogistiek veroorsaak het.

Force majeure is ’n klousule in kontrakte wat ’n maatskappy kan aktiveer as ’n onverwagte en onbeheerde gebeurtenis plaasgevind het. Die klousule vrywaar die maatskappy van die kontraktuele verpligtinge in die kontrak.

Die verklaring van force majeure weens “veiligheidsindringing en sabotasie” is aan Transnet-kliënte gestuur, het Bloomberg berig, wat die kennisgewing gesien het.

Volgens Transnet word die oorsaak van die kuberaanval nog ondersoek, asook die omvang van die data-sekuriteitsbreuk en sabotasie. Transnet “pas alle beskikbare en redelike maatreëls toe om die impak van die ontwrigting te beperk”, volgens die kennisgewing aan kliënte.

Hoewel die houereindpunte by die betrokke hawens werk, is dit teen ’n stadiger pas.

LEES OOK: ‘Chaos’: Krisis in hawens weens krakers kring uit

Die kuberaanval volg op die week van plundery vroeër in Julie, wat ook diensvlakke in die hawens van Durban en Richardsbaai ontwrig het, met paaie na en van die hawens wat gesluit was.

Transnet is gekraak, wat hawens beïnvloed, maar nie treine nie. Foto: Getty Images

Volgens ’n bron van Freight & Trade Weekly (FTW) is die Navis-stelsel wel deels in bedryf in Durban. Volgens die bron werk die stelsel binne die hawe self, maar nie by die ingang nie.

Die Navis-stelsel is ’n digitale stelsel waardeur alle houervragbewegings deur die hawestelsel gemonitor kan word.

Dit blyk wel Transnet bied verligting aan vragversenders deurdat oorlêgeld (demurrage) sedert die oggend van 23 Julie afgeskaf is totdat die hawens weer ten volle in bedryf is. Oorlêgeld is ’n tarief wat Transnet vra wanneer ’n vraghouer langer as ’n sekere tyd in die hawe moet wag voordat dit deur ’n invoerder verwyder word.

FTW berig ook dat skeepsrederye sedert verlede week alternatiewe reëlings tref om vragversenders by te staan. Dit blyk die skeepsredery Maersk het byvoorbeeld van sy hourskepe wat Durban toe moes gaan na die hawe van Maputo in Mosambiek laat herlei, waar vrag oorgelaai word op skepe op koers na die Midde-Ooste en Asië.

Meer oor:  Tnpa  |  Durban  |  Transnet-Kuberaanval  |  Hawens  |  Vragskepe  |  Infrastruktuur  |  Kuberkrakers  |  Logistiek  |  Vragvervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.