Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Transnet-webwerf nou Indonesiese dobbelblad
Die Durbanse hawe wat deur die Nasionale Haweowerheid bestuur word. Foto: Getty Images

Pleks van inligting oor die agt kommersiële hawens wat hy bestuur, bevat die Nasionale Haweowerheid (NHO), ’n afdeling van Transnet, se webtuiste nou oënskynlik inligting oor dobbelspeletjies in Indonesies.

Hoewel Transnet sy eie webwerf – transnet.net – bestuur, het elkeen van die staatsonderneming se afdelings ’n afsonderlike webwerf.

Volgens die Wayback Machine, ’n argief van die internet, het die NHO se webtuiste nog in Julie verlede jaar behoorlike inligting oor sy doen en late bevat. Hierdie weergawe van die webtuiste het egter reeds verouderd gelyk.

Die domeinnaam transnetnationalportsauthority.net se sekerheidsertifikaat het in April verlede jaar verval, wat dit daarna kwesbaar vir aanvalle deur kuberkrakers gemaak het.

Volgens inligting op Icann Lookup het Transnet die domeinnaam in 2007 geregistreer. Die registrasie is deur ’n Amerikaanse maatskappy, Network Solutions, behartig.

Die domeinnaam word egter nie meer as aktief aangegee nie, maar is steeds geregistreer.

Die status daarvan is “client transfer prohibited”, wat beteken dit kan nie van een kliënt, in dié geval Transnet, na ’n ander oorgedra word sonder die toestemming van die registrateur van die domeinnaam nie.

Ironies genoeg is dit veronderstel om te help keer dat ’n onaktiewe domeinnaam soos hierdie deur ’n ander entiteit gekaap word.

Webblaaie word gereeld gekaap deurdat besoekers na ’n ander, kwaadwillige webblad herlei word in plaas van die blad wat hulle wou besoek.

’n Webwerf waarvan die sekerheidsertifikate reg is, is egter meer bestand teen sulke aanvalle.

Die kaping van die NHO se webblad blyk beperk te wees tot daardie enkele Transnet-blad. Die webblad vir Transnet Port Terminals en sy hoofblad, transnet.net, werk byvoorbeeld nog.

Hoewel die blad vir die NHO reeds in April verlede jaar verval het, gee Transnet dit steeds op die haweowerheid se amptelike Twitter-blad.

Dié blad blyk ook nog aktief te wees. Die laaste inskrywing is op 23 Januarie gedoen.

Transnet is vir kommentaar oor die skynbare oorname van een van sy webblaaie genader, maar het nog nie gereageer nie.

Meer oor:  Transnet  |  Kuberaanval  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.