Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Treine loop eers later oor pandemie, vandale
Pendelaars drom saam op die Kaapstad-stasie om te wag vir inligting oor ’n trein wat hulle huis toe kan neem. Prasa sê hy beoog om kommunikasie op stasieplatforms te verbeter. Foto: Francois Williams

Die stedelike treinpendeldiens Metrorail se sentrale lyn in Kaapstad en die Mabopane-lyn in Gauteng sal nou eers laat volgende jaar gedeeltelik in bedryf wees en eers teen 2022 in volle bedryf, volgens die jongste verwagtinge van die Passasierspooragentskap (Prasa).

Prasa-amptenare het Woensdag aan die nasionale raad van provinsies se gekose komitee oor vervoer ’n droewige prentjie geskets van die vernietiging wat vandale en diewe oor die afgelope maande aan Prasa se spoorinfrastruktuur aangerig het.

Prasa het by die nasionale tesourie aansoek gedoen vir ’n sogenaamde herbegroting van sowat R900 miljoen om op kort termyn te kan ingryp om Prasa se bates teen misdadigers en vandale te beskerm, het Badisa Matshego, tussentydse administrateur van Prasa, aan die komitee gesê.

Herstelwerk duurder en neem langer

Hishaam Emeran, uitvoerende hoof van Prasa se tegniese afdeling, het verduidelik die sentrale lyn sou aanvanklik in November met ’n tussentydse busdiens hervat word, teen Maart 2021 met ’n beperkte diens en teen Augustus 2021 met ’n volle diens.

Maar vertragings weens die koronavirusinperking, ’n gebrek aan tegniese vermoë op onder meer ingenieursvlak, probleme met verkrygings, en die skerp toename in vandalisme en diefstal tydens die inperking, het veroorsaak dat die vereiste herstelwerk nou meer is, langer gaan duur en meer gaan kos.

Die Mabopane-diens sal dalk eers vroeg in 2022 in volle bedryf wees.

Plakkers op spoorlyn

Wat oorgebly het van sitplekke in ’n werkende passasierstreinwa van Metrorail in Kaapstad. Foto: Francois Williams

’n Ekstra probleem by die sentrale lyn in Kaapstad is onwettige nedersetters wat tydens die inperking hul wonings op en langs die spoorlyn by Langa, Philippi en Nonkqubela by Khayelitsha opgerig het. Nou moet eers saam met die betrokke owerhede gewerk word om alternatiewe grond te vind waarheen dié mense verskuif kan word.

Volgens Emeran het Prasa tans 280 treinstelle, maar net 80 daarvan is in werking. Meer as 80% van die Prasa-netwerk se sinjalering is uitgediende tegnologie. Dis duur en moeilik om die vaardighede te kry om dit in stand te hou.

Nosipho Damasane, uitvoerende hoof van Prasa se spoorafdeling, het gesê 12 uit die 34 spoorkorridors van Metrorail is wel al in bedryf en nog nege sal vandeesmaand in bedryf kom.

Op die sentrale lyn in Kaapstad sal ’n hibridiese stelsel teen Januarie volgende jaar in bedryf wees waar ’n beperkte treindiens met diesellokomotiewe bedryf word, en busse van Prasa se filiaal Autopax sal gebruik word as voederdiens. Op die Mabopane-lyn in Gauteng sal van 3 November af met diesellokomotiewe begin word, want die elektriese oorhoofse kabels en ander elektriese infrastruktuur moet eers reggemaak word nadat dit gesteel en gevandaliseer is.

Werf eie veiligheidswagte

Dié soort vandalisme wat alledaags is in MetroPlus-treinwaens van Prasa. MetroPlus is die nuwe benaming van eersteklas-treine. Foto: Francois Williams

Volgens Matshego het Prasa in Julie begin om 3 100 veiligheidswagte te werf wat heeltydse Prasa-werknemers sal wees. Dit is nadat hy einde verlede jaar kontrakte met private veiligheidsdienste op aanbeveling van die ouditeur-generaal en die openbare beskermer gekanselleer het omdat dit onreëlmatig en onwettig was.

Vandalisme, diefstal en brandstigting van Prasa-infrastruktuur het tydens die inperking ongekende vlakke bereik. Van die gevalle word as sabotasie bestempel, en die omvang van die skade is so erg dat ’n treinstasie byvoorbeeld letterlik platgevee is – selfs die teëls is afgekap.

Gewapende misdadigers en goed georganiseerde groepe is betrokke, sê Matshego.

Geen rehabilitasie van kraglyne word gedoen totdat veiligheidsplanne in werking gestel is nie. Dit is om vermorste besteding te vermy, want dit het gebeur dat kraglyne die een dag herstel word en dan is dit die volgende dag weer verrinneweer.

Hommeltuie

Brig.genl. Tebogo Rakau, hoof van Prasa se veiligheidsafdeling, het ’n oorsig gegee oor wat alles gedoen word om bates te beveilig. Dit sluit in die groter gebruik van moderne tegnologie soos hommeltuie, kringtelevisie, lugballonne met kameras wat permanente sig oor ’n radius van 5 km tot 6 km op kritieke infrastruktuur bied, en vroeëwaarskuwingstelsels.

Meer oor:  Metrorail  |  Prasa  |  Vandale  |  Vervoer  |  Treindienste  |  Treine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.