Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Treinryers boet vir flop met e-tol

Die regering gaan R2 miljard by die Passasierspooragentskap (Prasa) vat om te vergoed vir Gautengse motoriste wat e-tol boikot.

Drie waens van ’n Metrorail-trein brand in 2015 by die Muizenberg-spoorwegstasie. Foto: John Hishin, Drumbeat Photography

Dié nuus, vervat in ’n wetsontwerp oor toewysings, ontstel selfs ANC-LP’s wat vra hoekom die sukkelende treinstelsel wat die armes en werkersklas moet vervoer moet boet vir die regering se besluiteloosheid oor e-tol.

Ook dr. Mampho Modise, adjunk-direkteur-generaal in die tesourie, het teenoor LP’s in die parlementêre komitee oor toewysings opgemerk: “ ’n Mens moet jouself afvra: Is dit ’n billike begrotingsbeleid?”

Dikeledi Magadzi, ANC-LP, het in antwoord daarop gesê: “Ons kan nie toelaat dat armes ly as gevolg van so ’n besluit nie.”

Dipuo Peters, voormalige minister van vervoer, het beswaar gemaak.

Die wetsontwerp is nog nie gefinaliseer nie en die nasionale tesourie het gesê hy sal hom oor die kwessie laat lei deur LP’s.

Pres. Cyril Ramaphosa belowe al jare lank duidelikheid oor die e-tolstelsel. Sanral skuld reeds byna R11 miljard vir die projek.

Die afgelope week het David Makhura, Gautengse premier, in sy provinsiale rede gesê e-tol sál geskrap word.

Tito Mboweni, minister van finansies, het egter op Twitter teruggekap na Makhura en in hoofletters getik: “DIE GEBRUIKER MOET BETAAL!”

Niemand is nog strafregtelik vervolg weens wanbetaling van e-tol nie en Sanral het vroeër aangekondig dat hy ook eers alle siviele eise terugtrek hangende ’n besluit van Ramaphosa oor die toekoms van die e-tolprojek.

Slegs sowat 30% van motoriste betaal tans hul e-tol, het Sanral Vrydag aan Rapport gesê.

Treinpendelaars gaan dalk selfs nog meer ly omdat Gautengers nie hul e-tol betaal nie.

Geld rondgeskuif

In verlede jaar se Oktober-begroting is daar reeds R3 miljard van Prasa na Sanral oorgeplaas.

In die vorige boekjaar het Sanral R5,75 miljard van sy nie-tol-portefeulje na die tolportefeulje verskuif om die e-tol-gat te vul. In die huidige boekjaar sal dit R2,53 miljard beloop.

Dit beteken dat geld wat die regering aan Sanral gee om die oorgrote meerderheid van die padnetwerk in die land te onderhou en nuwe paaie te bou, gebruik word om die skuld te betaal wat eintlik deur die Gautengse padgebruikers deur tolgeld vereffen moes word. In die vorige boekjaar is 143 projekte benadeel deur dié stap.

Dr. Joachim Vermooten, ’n vervoerekonoom, sê dit lyk of die regering toenemend krisisbestuur toepas en geld oorplaas na waar die dringendste nood is. Daar is skynbaar ’n tekort aan beplanning op mediumtermyn, sê hy. Dit is egter noodsaaklik dat die regering ook op Prasa se probleme moet fokus en projek vir projek die agentskap heropbou.

“Daar is geen rede waarom ons nie ’n wêreldklas-spoorstelsel kan hê nie,” sê hy.

In syfers

Prasa het in sy 2017-’18-jaarverslag gesê:

  • Treine is net 68,3% van die tyd betyds.
  • Gemiddeld 13% van die treine word gekanselleer en die gemiddelde vertraging is langer as ’n halfuur.
  • Die agentskap het daardie jaar 269 miljoen betaalde passasiersritte verskaf, ’n skerp afname van 543 miljoen in 2013-’14.

Vakbond se beswaar

Volgens die United National Transport Union (Untu), die grootste vakbond met verteenwoordiging by Prasa, is dit nie die einde nie.

Sonja Carstens, Untu-woordvoerder, sê ’n senior amptenaar van die departement van vervoer het in samesprekings oor die stand van Prasa by die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) gesê die regering gaan altesame R9 miljard oor drie jaar by Prasa vat vir Sanral.

Prasa het glo nie die vermoë om die geld te bestee nie en die Prasa-raad het volgens Carstens Woensdag aan Untu erken dat die organisasie die afgelope vyf jaar slegs R3 miljard van sy toegekende R15 miljard kon bestee.

Dít terwyl tientalle treine die afgelope paar jaar deur vandale vernietig is en daar ’n chroniese tekort aan spoorwaens en lokomotiewe is.

Volgens Untu is mondelinge magtigings aan masjiniste, wat ’n noodprosedure is vir wanneer die elektroniese sinjale nie werk nie, tans die norm. Dit skep egter die teelaarde vir menslike foute – en al sewe ernstige treinongelukke in Gauteng die afgelope drie jaar was weens sulke foute.

Untu beoog op 26 Julie landwye protesoptrede om aandag op die benarde toestand by Prasa te vestig.

Die vakbond vra dat Rama­phosa Prasa verskuif van die departement van vervoer na die department van openbare ondernemings.

Meer oor:  Sanral  |  Gauteng  |  E-Tol  |  Gfip  |  Treine  |  Staatsondernemings  |  Untu  |  Openbare Vervoer  |  Spoorweë
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.