Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aantal treinryers in SA halveer oor swak diens
Pendelaars hang by ’n oop treindeur uit op ’n oorvol trein van Metrorail by De Grendel-stasie in Parow, Wes-Kaap. Foto: Francois Williams

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se diensvlakke is tans die laagste wat dit nóg was, het Sibusiso Sithole, uitvoerende hoof, Dinsdag erken.

Passasiersgetalle het vanjaar van 543 miljoen in 2014 tot 269 miljoen vanjaar gedeel. Dit beteken die helfte soveel mense ry tans trein as vier jaar gelede.

Tot 68,3% van alle treine is laat en 13% van alle treine word gekanselleer.

Daar is 175 treinstelle landwyd, terwyl 258 treinstelle op die minste nodig is.

Die oop aard van die stelsel maak dit kwesbaar vir vandalisme en sabotasie.

Sithole sê hulle het die proses versnel om stukkende en beskadigde treinwaens te herstel. Dit vat twee tot drie maande om ’n treinwa te herstel.

Passasiersgetalle het vanjaar van 543 miljoen in 2014 tot 269 miljoen vanjaar gedeel. Dit beteken die helfte soveel mense ry tans trein as vier jaar gelede.

Interne werkwinkels sal deur die beskikbaarheid van onderdele verbeter word.

Werk word gedoen om die Nyanga-substasie te herstel sodat die sentrale treinlyn op die Kaapse Vlakte weer volledig in bedryf kan kom, het Sithole belowe.

Die werk behoort teen Junie volgende jaar voltooi te wees.

’n Betonmuur gaan gebou word om die spoorlyn te beskerm. ’n Kontrakteur is reeds aangestel en die mikpunt is om dit teen Oktober volgende jaar te voltooi.

Die Bonteheuwel- en Kapteinsklip-substasies sal teen einde volgende jaar herstel word. Elektroniese sinjaalstelsels sal gebou word, met ’n mikpunt om dit einde volgende jaar te voltooi.

Sithole sê daar is ’n ooreenkoms met die provinsiale regering in die Wes-Kaap en die Stad Kaapstad om veiligheid te verbeter.

In Gauteng het Metrorail die grootste aantal lyne waarop treine per hand pleks van elektronies gesinjaleer word. Dit veroorsaak dat daar snelheidsperke op baie spoorlyne moet wees. ’n Projek deur Siemens is aan die gang om elektroniese sinjale in te stel en die projek is 71,9% voltooi.

In KwaZulu-Natal het ’n spoorlyn in 2017 weggespoel. Daar is ook snelheidsperke op spoorlyne wat aan Transnet behoort. Die werk om die verspoelde spoorlyn te herstel sal teen Julie volgende jaar voltooi wees, het Sithole onderneem.

Lees ook: Prasa-hoof wil vertroulik met parlement praat

Die veiligheid van pendelaars word in gevaar gestel weens treine wat oorvol is. Aanvalle en rooftogte op pendelaars op treine en op die stasies kom ook voor.

Sithole belowe Prasa wil teen die einde van die lopende boekjaar alle stukkende veiligheidskameras vervang.

Tot 175 bykomende veiligheidswagte sal in Kaapstad aangestel word, en 88 gewapende wagte sal treinpersoneel in Kaapstad op treine vergesel.

In Gauteng sal meer as 200 bykomende veiligheidswagte aangestel word, en 144 bykomendes in KwaZulu-Natal.

In Kaapstad word hommeltuie gebruik om die sentrale lyn te patrolleer, en daar is agt gewapende reaksie-eenhede en twee panstervoertuie beskikbaar gestel.

Volgens Sithole behaal Prasa nou groter sukses om mense in hegtenis te neem wat sy toerusting steel of beskadig. In Augustus is meer as 60 mense in hegtenis geneem.

Afbrand van treine:

Die uitbrand van treine het ’n groot geldlas op Prasa, met byna R636 miljoen se verliese in die afgelope 3,5 jaar. In die Wes-Kaap alleen is die verlies R451,6 miljoen, het Sithole gesê. Dit sluit nie die skade van R150 miljoen aan die Kaapstad-stasie in nie.

Prasa ondersoek die herontwerp van treinsitplekke om materiaal te gebruik wat nie so maklik brand nie, want ’n treinwa kan binne minute uitbrand.

Voorwaardes vir veiligheidspermit:

Prasa se veiligheidspermit is vir 2019 toegestaan met sekere voorwaardes, insluitend ’n menslikehulpbronplan om 286 kritieke poste te vul, en goedkeuring deur die Spoorveiligheidsreguleerder om nuwe treinwaens vir betaalde treinritte te gebruik.

’n Derde voorwaarde is dat Prasa ’n beramingsverslag oor al sy infrastruktuur moet indien. Die eerste verslag is in Augustus ingedien. Dit word maandeliks bygewerk.

’n Vierde voorwaarde is dat Prasa ’n instandhoudingsplan moet indien. Prasa mik om teen einde November die plan in te dien.

Voorwaarde 5 is om ’n verkrygingsplan met spertye in te dien, en die teikendatum is einde Oktober.

Voorwaarde 6 is om afdelingsbestuurders in streke aan te stel.

Voorwaarde 7 is die indien van ’n veiligheidsverbeteringsplan, en voorwaarde 8 is om ’n diensleweringsplan in te dien wat verduidelik hoe Prasa samewerking tussen afdelings en Transnet gaan verbeter.

Sithole sê Prasa werk saam met die Valke, die nasionale tesourie, die nasionale vervolgingsgesag en die openbare beskermer om te identifiseer waar ondersoeke en strafregtelike klagte versnel kan word in al die gevalle waar Prasa by ondersoeke en bewerings van korrupsie betrek is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.