Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
TRESemmé-herrie: Clicks, Unilever nog haaks

Sewe maande ná die rasherrie oor ’n sjampoe-advertensie is Clicks die enigste groot kleinhandelaar wat steeds nie TRESemmé-haarprodukte op sy winkelrakke het nie.

Vikesh Ramsunder, Clicks se uitvoerende hoof, sê hy is heeltemal bewus daarvan dat sommige klante dalk ongelukkig daaroor is dat hulle steeds nie TRESemmé op Clicks se rakke kan vind nie.

Daarby weet hy dat Clicks se mededingers bevoordeel word.

Ramsunder verkies egter om ’n “sterk morele standpunt” oor die vraagstuk in te neem.

Lede van die EFF het mense verlede jaar verhinder om by sekere Clicks-winkels inkopies te doen. Foto: Reuters

Ramsunder verwag wél dat TRESemmé weer na Clicks sal terugkeer, maar Clicks is nog besig met gesprekke met die sjampoe se moedermaatskappy, Unilever.

Unilever het ná die herrie sekere beloftes gemaak en Clicks is nog nie tevrede dat daaraan voldoen is nie.

“Ons het nog ’n meningsverskil. Ons wil seker maak hulle het die verbintenisse nagekom wat hulle gemaak het en gee aan ons terugvoering daaroor.”

Unilever het intussen op 7 Maart stil-stil ’n veldtog, Positive Beauty, bekend gestel wat ooglopend voortvloei uit die herrie. Hy het onder meer belowe om die woord “normaal” van alle verpakking en advertensies van sy skoonheidsprodukte te verwyder en ’n meer inklusiewe beeld van skoonheid te bevorder. Lees meer daaroor hieronder.

Clicks het in September 2020 TRESemmé-produkte verwyder ná ’n advertensieveldtog met vier foto’s, twee met swart vroue op en twee met wit vroue op. Die swart vroue se hare is onderskeidelik as “droog en beskadig” en “kroes en dof” beskryf, teenoor die wit vroue se hare wat “fyn en volumeloos” en “normaal” genoem word. Swart mense het gereken die terme vir swart hare was meer negatief.

clicks
Die vier foto’s wat deel was van ’n TRESemmé-advertensieveldtog op Clicks se webwerf. Skermgrepe is verlede jaar deur verskeie mense gemaak voordat dit verwyder is.

Dit het tot betogings onder leiding van die EFF gelei en byna álle winkelgroepe het TRESemmé-produkte oombliklik van hul rakke verwyder. Dis egter stil-stil weer teruggeplaas.

Netwerk24 het TRESemmé-produkte by Dis-Chem, Makro, Checkers, Woolworths en Pick n Pay opgespoor, hetsy in winkels of aanlyn of albei.

Ondanks die feit dat TRESemmé nie by Clicks verkoop word nie, het Clicks se verkope van haarsorgprodukte met 22% opgeskiet in die ses maande tot einde Februarie.

“Dit wys jou verbruikers kán skuif. Daar is ’n enorme verskeidenheid produkte te koop,” sê Ramsunder.

Wat Unilever belowe het

Net ná die hare-herrie het Luc-Olivier Marquet, uitvoerende hoof van Unilever, aan die departement van kleinsakeontwikkeling die volgende belowe:

  • Unilever sou ’n adviesraad saamstel oor hoe haarsorgprodukte in Suid-Afrika verbeter kan word.
  • Unilever sou steun aan swart haarstiliste en klein salonne verskaf.
  • Unilever sou met die departement saamwerk om plaaslike verskaffers te ontwikkel, met ’n fokus op ondernemings wat deur swart mense, vroue, jong mense en gestremdes besit word.
  • Unilever sou ook spazawinkels help ontwikkel.

Dié beloftes is nie noodwendig wat aan Clicks belowe is nie. Netwerk24 het ’n navraag aan Unilever gerig en sal kommentaar bywerk indien dit ontvang word.

Niemand is meer ‘normaal’ nie

Die woord “normaal” gaan nooit weer gebruik word in verpakking of advertensies vir skoonheidsprodukte wat deur Unilever besit word nie.

Dit sluit in TRESemmé-sjampoe, wat juis met die verwysing na die woord “normaal” by ’n foto van ’n wit vrou – teenoor “droog en beskadig” by ’n foto van ’n swart vrou ’n rasherrie ontketen het. Veral Clicks het dit ontgeld omdat dié advertensieveldtog op Clicks se webwerf gebruik is.

Ons weet net om ‘normaal’ van ons produkte en verpakkings te verwyder sal nie die probleem oplos nie, maar dis ’n belangrike stap vorentoe.
Sunny Jain van Unilever

Unilever het op 7 Maart stil-stil ’n veldtog aangekondig waarin hy onderneem om meer “inklusiewe” maatstawwe op toiletware se verpakking wêreldwyd te gebruik. Unilever se produkte vir skoonheid en persoonlike sorg sluit ook Lux, Vaseline, Sunsilk en Lifebuoy in.

Unilever het “wêreldwye navorsing” oor mense se belewenis van die skoonheidsbedryf gedoen. Unilever sê baie groepe voel minderwaardig en uitgesluit deur die “onmoontlike standaarde” wat die bedryf in advertensies voorhou.

Meer as 10 000 mense in nege lande, ook Suid-Afrika, het aan die studie deelgeneem.

Meer as twee uit drie Suid-Afrikaners (67%) stem met die stelling saam dat die bedryf sekere mense uitgesluit laat voel. 71% reken die bedryf laat mense voel hulle moet ’n sekere manier lyk, soos met ’n gladde vel, mooi glimlag en ligte gelaatskleur.

Daar is ook druk op vroue om “suiwer en vroulik” voor te kom, meen 60% van mense.

Daar is ook ’n gevoel dat mense met verskillende liggaamsbou, ouderdom, ras en gender nie verteenwoordig word nie, en 71% glo die “nie-inklusiewe” verpakkings en advertensies het ’n negatiewe uitwerking op mense.

Sunny Jain, Unilever se president vir skoonheid en persoonlike sorg, sê luidens ’n verklaring die groep is daartoe verbind om “nadelige norme en stereotipes” teen te werk: “Ons weet net om ‘normaal’ van ons produkte en verpakkings te verwyder sal nie die probleem oplos nie, maar dis ’n belangrike stap vorentoe.”

Unilever het hom ook daartoe verbind om foto’s nie meer digitaal te manipuleer met betrekking tot liggaamsgrootte, liggaamsvorm of velkleur nie. Meer mense van diverse groepe sal ook in advertensies gebruik word.

Meer oor:  Unilever  |  Tresemmé  |  Clicks  |  Apteke  |  Inentings  |  Skoonheid  |  Covid-19  |  Kleinhandelaars  |  Entstowwe  |  Gesondheid  |  Kleinhandel  |  Koronavirus  |  Derde Vlaag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.