Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OM: Moyo is welkom - vir koffie op die grondvloer

Peter Moyo het geen rede om in Old Mutual se gebou te wees nie en hy gaan nié onbegeleid toegelaat word nie.

old mutual
Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual, Vrydag in Sandton op ’n nuuskonferensie oor die afdanking van Peter Moyo as uitvoerende hoof.

’n Duidelik gefrustreerde en moeë Trevor Manuel, voorsitter van die maatskappy se direksie, het Vrydagoggend op ’n nuuskonferensie in die maatskappy se Sandtonse hoofkantoor gesê Moyo is sy voormalige uitvoerende hoof.

“Hy kan koffie op die grondverdieping kom geniet. As hy ’n vergadering met ’n personeellid het, is hy welkom om ’n raadsaal op die eerste verdieping te gebruik.”

Manuel sê egter dis nie ’n unieke situasie vir enige mens of maatskappy nie – geen persoon kan ’n kantoor sonder ’n rede onbegeleid ingaan nie.

Manuel hou vol dat Moyo se tweede afdanking, op 22 Augustus, geldig is.

Manuel sê regter Brian Mashile het in Julie bevind Moyo moet heraangestel word omdat hy op 18 Junie ingevolge verkeerde artikel van sy dienskontrak afgedank is. Die tweede afdanking, op 22 Augustus, is ingevolge die “regte” artikel gedoen, soos deur Mashile uitgelig, en daarom glo Old Mutual die tweede afdanking is wel nou van krag.

Manuel het gesê Old Mutual wou in die hof beland het met Moyo nie en wil ook nie vir ewig in die hof wees nie. Die hofstryd moet êrens tot ’n einde kom.

“Ons aandeelprys moet weer optel. Vertroue moet herstel word.”

Old Mutual se aandeelprys is steeds op die laagste vlak in ’n jaar nadat dit sedert Moyo se skorsing in Mei met 27,5% tot R17,43 getuimel het voordat dit sedert begin September weer effens begin styg het.

Nié Manuel vs. Moyo

Manuel sê die stryd met Moyo is nié ’n geval van Moyo vs. Manuel nie.

Dit gaan oor ’n direksie se stryd om sy werkverhouding met sy uitvoerende hoof, Peter Moyo, te beëindig.

Hy het beklemtoon dat die direksie verenig is en die stryd tot die einde gaan stry.

Old Mutual se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg. Foto: William Horne

Hy het gesê Moyo se bewering dat Manuel die ander direkteure “boelie” om sekere besluite te neem, is verregaande. Old Mutual se direkteure is bekwame en sterk individue. 

Die direksie is “solied, solied, solied” verenig, het Manuel later gesê.

Manuel het ook gesê die verbrokkeling van die werkverhouding met Moyo het nie oornag gebeur nie. Dit het in Desember 2018 begin en was ’n proses waarin albei partye met mekaar gepraat het. Dinge het in Februarie vererger en toe weer in Maart.

Moyo is in Mei ná ’n lang direksievergadering geskors en op 18 Junie afgedank.

Manuel verwys steeds na Moyo as “Peter”. Hy sê die firma het met Moyo gepleit om buite die hof te skik “sodat dit nie ’n negatiewe uitwerking op enige party se toekoms het nie.”

Direksie

Manuel het gesê Moyo het “objektief gesproke” nie ’n “snowball’s chance in hell” om te slaag met sy aansoek dat die hele Old Mutual-direksie tot misdadige direkteure verklaar te word nie.

Manuel het in besonderhede weer die wanbestuur van die belangebotsing uiteengesit wat tot Moyo se afdanking gelei het.

Dit het gegaan oor Moyo se besluit as voorsitter van NMT Capital om ’n gewone dividend te verklaar terwyl voorkeurdividend nog aan Old Mutual betaalbaar was.

Manuel sê die vraagstuk oor sy eie rol en die regskoste wat namens Old Mutual vir hom betaal is, is dinge wat eers op die tafel geplaas is nadat Eric Mabuza Moyo se prokureur geword het en Dali Mpofu sy advokaat.

Manuel sê daar is geen feitelike waarheid in bewerings dat Moyo ’n “fluitjieblaser” oor Manuel se sake was nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.