Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Trevor Manuel ‘jammer’ oor opmerking oor regter

Trevor Manuel het Dinsdag “onvoorwaardelik” om verskoning gevra vir ’n opmerking oor ’n regter wat hy Vrydag op ’n nuuskonferensie gemaak het.

old mutual
Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual, Vrydag in Sandton op ’n nuuskonferensie oor die afdanking van Peter Moyo as uitvoerende hoof.

Manuel, voorsitter van Old Mutual se direksie, het na regter Brian Mashile se uitspraak oor Peter Moyo, die groep se voormalige uitvoerende hoof verwys en gesê: “As jy ’n direksie neem wat besiel is met verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid, en jy kry dat dit omver gewerp word deur ’n enkele individu wat toevallig ’n toga dra, dink ek jy het ’n bietjie van ’n probleem.”

Die opmerking is gemaak in die konteks van Manuel se siening dat Mashile se uitspraak die direksie stroop van sy verantwoordelikhede, onder meer om ’n nuwe uitvoerende hoof aan te wys.

LEES OOK: Old Mutual vs. Moyo: ’n Tydlyn van die chaos

Hy het skerp deurgeloop toe ’n joernalis hom gevra het of hy hom nie met dié opmerking skuldig maak aan minagting van die hof nie. Manuel het gesê hy trek die opmerking terug.

Eric Mabuza, Moyo se prokureur, het egter ook Vrydagmiddag gesê hy beskou dit as minagting.

In die verskoning wat Manuel Dinsdag aangebied het, sê hy: “My onbedagte opmerking, hoewel teruggetrek, het heel verstaanbaar ongemak veroorsaak, waarvoor ek onvoorwaardelik om verskoning vra, aan die agbare regter én aan my mede-Suid-Afrikaners.

“Dit was nooit my bedoeling om oneerbiedig te wees teenoor die geleerde regter of sy uitspraak nie.

peter moyo
Peter Moyo, uitvoerende hoof van Old Mutual, tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: William Horne

“Ek aanvaar dat my taalgebruik heeltemal ontoepaslik was om my verskil met die uitspraak uit te spreek en ek is opreg jammer vir die manier waarop ek dit gedoen het.

“My respek vir die regbank is onwrikbaar en gewortel in ons gesonde regsproses, waarin alle stemme gehoor word, met remedies beskikbaar om verskille in regsposisies op te los.”

Manuel sê hy ondersteun Old Mutual se direksie se pogings om die appèlproses te volg en sy saak voor die Johannesburgse hooggeregshof te stel.

Uitspraak in een van Moyo se talle hofaansoeke teen Old Mutual word Vrydag verwag. Moyo voer hy is onregmatig afgedank.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.