Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Trevor Manuel: OM-baas se skorsing was ‘moeilik’

Die voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual Beperk, Peter Moyo, is geskors weens die “agteruitgang van reeds bestaande belangebotsings”.

Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual, het Vrydag op die maatskappy se jaarvergadering in Sandton bevestig dat Old Mutual bewus en aanvanklik tevrede was met Moyo se “wesenlike belangebotsings”, asook sy bestuur daarvan sedert sy aanstelling in Junie 2017.

old mutual
Trevor Manuel (links), voorsitter van Old Mutual se direksie, Vrydag op die jaarvergadering. Foto: William Horne

Moyo is in 2017 aangestel as hoof van Old Mutual Emerging Markets, die afdeling wat ná Old Mutual plc se ontknoping Old Mutual Beperk geword het. Hy is in Junie 2018 as hoof van Old Mutual Beperk aangestel.

“Daar is geen verrassing hier nie,” sê Manuel.

Hy verduidelik dat die belangebotsings al verskeie kere gepubliseer is en dat die maatskappy sedert dag een bedag was daarop.

“Ons was tevrede met die bestuur van die botsings. Dit is egter nou onbeheerbaar en onhoudbaar. Dus moes ons nou reageer.

“Dit was een van die moeilikste goed wat ons nog moes doen as die direksie, vanweë ons persoonlike verhoudings met Peter, asook sy prestasies,” sê Manuel.

Waaroor gaan dit?

Uit Old Mutual se voornoteringsverklaring is dit duidelik dat die belangebotsing handel oor die beleggingsbeheerfirma NMT. Moyo is ’n stigter en nie-uitvoerende direkteur van NMT Capital en besit aandele in NMT Capital en die groter NMT Group.

Old Mutual Life Insurance het voorheen finansiering aan NMT Group verskaf en het ook finansiering vir die verkryging van voorkeuraandele verskaf aan ’n familietrust van Moyo wat ook ’n belang in NMT Capital besit. Die belegging was R291 miljoen werd.

Moyo ontvang geen vergoeding as direkteur van NMT Capital nie.

Moyo se belange by NMT is gereguleer volgens spesiale protokolle wat soortgelyk is aan die groep se beleid aan belangebotsings. Enige transaksies moet deurgaans verklaar word en direkteure mag nie besluite neem waar ’n belangebotsing ter sprake is nie.

Dit is egter steeds nie duidelik watter van die protokolle Moyo glo oortree het nie.

Goue handdruk?

Manuel het bevestig dat Moyo se pos nou as vakant gesien word.

Nombulelo Moholi, onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van Old Mutual, sê hulle kan nie besonderhede verskaf oor enige vergoeding, “goue handdrukke” of skeidingspakkette nie, aangesien Moyo nog deur die res van die skorsingsproses moet gaan.

“Dit sou onverantwoordelik wees om nou vooruit te praat oor hoe sy skorsing sal uitwerk, aangesien hy nog deur ’n lang proses moet gaan met baie gesprekke.”

Peter Moyo, uitvoerende hoof van Old Mutual.

Old Mutual sal wel verdere besonderhede verskaf sodra die proses afgehandel is.

Manuel het Moyo namens die direksie bedank vir sy bydrae en harde werk.

Die maatskappy het Vrydagoggend vroeg in ’n Sens-verklaring aangekondig dat Moyo geskors is, sonder om ’n rede te verskaf. Dit het egter later uitgelek dat ’n belangebotsing ter sprake is.

Ná die aanvang van die jaarvergadering is ’n meer uitgebreide verklaring op Sens geplaas. Daarin sê Old Mutual die vertrouensbreuk het ontstaan oor hoe belangebotsings met “verwante partye” bestuur is.

Dit gaan oor sakeverhoudinge wat Moyo gehad het reeds voordat hy as Old Mutual se uitvoerende hoof aangestel is.

Ten tyde van sy aanstelling is dit as “bestuurbaar” beskou. Dis deur sy dienskontrak gereguleer en openbaar gemaak in Old Mutual se voornoteringsverklaring en jaarlikse finansiële state.

“Ongelukkig het die direksie en mnr. Moyo wesentlik verskil oor hoe die belangebotsings bestuur is, wat tot ’n ineenstorting van die vereiste wedersydse vertroue gelei het.”

Die maatskappy beklemtoon in die verklaring dat geen finansiële wangedrag met betrekking tot Old Mutual se sake plaasgevind het nie.

Moyo reageer

Moyo het aan Reuters gesê hy het “absoluut niks” verkeerd gedoen nie. Hy en die direksie het bloot verskil oor hoe die belange bestuur moet word.

Oor die aanstelling van Iain Williamson, bedryfshoof, as waarnemende uitvoerende hoof, sê die Sens-verklaring: “Iain is ’n gesoute bestuurslid by Old Mutual en ons is vol vertroue dat hy in dié tyd die toepaslike rentmeesterskap sal verskaf.”

Moyo was voorheen uitvoerende hoof van Alexander Forbes. 

peter moyo, trevor manuel
Die brief wat Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual se direksie, na verneem word aan personeel gestuur het.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.