Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tribunaal gee groenlig vir PepsiCo-oorname

Die Mededingingstribunaal het Vrydag die Amerikaanse voedselreus PepsiCo se oorname van Pioneer Foods met voorwaardes goedgekeur.

PepsiCo
PepsiCo, bekend vir sy gaskoeldranke Pepsi en Mountain Dew, het goedkeuring van die Mededingingstribunaal ontvang om Pioneer Foods oor te neem. Foto: PepsiCo

Die transaksie word beskou as een van die grootste verkrygings wat PepsiCo tot dusver buite Amerika gedoen het.

Dit is ook die eerste groot transaksie waarin die bevordering van ’n groter verspreiding van eienaarskap in ondernemings deur veral werkers en voorheen benadeelde mense ’n sentrale kwessie was, het die tribunaal in ’n verklaring gesê.

Dit is gedoen ingevolge nuwe voorskrifte in die Wysigingswet oor mededinging.

PepsiCo is bekend vir handelsname soos Pepsi, Lays, Doritos en Gatorade, en Pioneer is een van die grootste Suid-Afrikaanse voedselmaatskappye ,met bekende plaaslike handelsname soos Weet-Bix, Ceres, ProNutro, Sasko, Safari, Spekko en White Star.

Voorwaardes:

Van die streng voorwaardes wat die tribunaal neergelê het, sluit in dat PepsiCo R1,6 miljard van sy aandele aan ’n Suid-Afrikaanse werkerstrust moet gee. Ná vyf jaar moet die aandele in ’n regstreekse aandeelhouding van tot 13% in Pioneer omskep word.

PepsiCo mag vir vyf jaar niemand afdank as deel van die oorname nie. PepsiCo het volgens die tribunaal belowe om inderwaarheid sowat R1 miljard te belê om uit te brei en 500 regstreekse en 2 500 onregstreekse nuwe werkgeleenthede in Suid-Afrika te skep. ’n Totale belegging van R5,5 miljard sal oor vyf jaar gemaak word om Pioneer se handelsmerke in die res van Afrika en internasionaal uit te brei, met ’n aanvanklike fokus op Ceres, Safari en rooibos-verwante produkte.

Hy moet die hoofkantoor van die nuwe onderneming in Suid-Afrika hou, en dit sal dien as die nuwe hoofkantoor van PepsiCo se afdeling vir Afrika suid van die Sahara.

Nog voorwaardes sluit in die ontwikkeling van plaaslike voorsieningskettings, die handhaaf van bestaande verkoops- en verspreidingsooreenkomste met voorheen benadeelde mense en kleinsakeondernemings vir minstens twee jaar, en ’n belegging van R600 miljoen in ’n ontwikkelingsfonds. Hiervan moet R300 miljoen bestee word aan opkomende boere, R200 miljoen aan onderwys deur beurse aan voorheen benadeelde studente in landbou, voedselwetenskap en ingenieurswese, en R100 miljoen om plaaslike entrepreneurs as deel van ’n broeikasfonds te ontwikkel.

Meer oor:  Pepsico  |  Mededingingstribunaal  |  Oorname
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.