Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Trump brul oor Harley-Davidson se skuif
Dié argieffoto van 2013 wys ’n motorfietsryer op sy Harley-Davidson-motorfiets op die Sint Pietersplein in Rome. Foto: Reuters

Donald Trump, president van Amerika, beskuldig die Amerikaanse motorfietsvervaardiger Harley-Davidson nou daarvan dat hy die nuwe invoertariewe van die Europese Unie (EU) net as verskoning gebruik vir sy reeds bestaande plan om van sy produksie oorsee te skuif.

Trump dreig Harley-Davidson nou met ’n “groot belasting” as hy van sy motorfietse wat oorsee vervaardig is in Amerika wil verkoop.

Die motorfietsvervaardiger het Maandag aangekondig hy sal van sy vervaardiging oorsee moet skuif in reaksie op die EU se wraak-tariewe op Amerikaanse produkte nadat Trump heffings op ingevoerde staal en aluminium geplaas het.

“Vroeër vanjaar het Harley-Davidson gesê hy gaan heelwat van sy vervaardigingsbedrywighede in Kansas City na Thailand skuif. Dit was lank voordat die tariewe aangekondig is. Die maatskappy gebruik dus die tariewe en handelsoorlog as ’n verskoning. Dit wys hoe ongebalanseerd en onregverdig handel is, maar ons sal dit regstel,” het Trump Dinsdag in ’n Twitter-boodskap gesê.

Hy het die twiet opgevolg deur te waarsku dat Harley-Davidson belas kan word as hy goedere oorsee vervaardig wat hy dan weer na Amerika invoer.

Matt Levatich, uitvoerende hoof van Harley-Davidson, het in April gesê die fabriek in Thailand is ’n “Plan B” wat die maatskappy gebruik nadat Amerika hom onttrek het aan die Trans-Pasifiese Vennootskap se vryhandelsooreenkoms. Levatich het toe gesê die belegging in die fabriek is nodig om toegang tot ’n belangrike mark te behou.

Die maatskappy gebruik dus die tariewe en handelsoorlog as ’n verskoning. Dit wys hoe ongebalanseerd en onregverdig handel is, maar ons sal dit regstel.
Donald Trump

Volgens Harley-Davidson se verklaring Maandag sal die tariewe wat die EU Vrydag teen onder meer Amerikaanse motorfietsinvoer ingestel het die vervaardiger se koste met soveel as $100 miljoen per jaar verhoog.

Daarom het Harley-Davidson besluit om die vervaardiging van motorfietse vir die Europese mark van Amerika na sy fabrieke elders in die wêreld te skuif om die tarief te kan vermy.

Trump het Maandag reeds gesê hy is verras om te sien die vervaardiger is “die eerste een wat die wit vlag waai”.

“Ek het hard vir hulle baklei en uiteindelik sal hulle nie die tariewe betaal om na die EU uit te voer nie,” het hy getwiet, opgevolg met ’n boodskap wat lui Amerika kry dit reg om ander lande te dwing om bestaande tariewe te verlaag wat jare in plek was weens swak ooreenkomste. “Ons maak geslote markte oop en brei ons voetspoor uit. Hulle moet regverdig wees of hulle sal tariewe betaal!”

Harley-Davidson se aandeelprys op die New Yorkse aandeelbeurs het Dinsdag met 6% geval tot sy laagste vlak in byna vyf maande.

Die vervaardiger het gesê hy gaan sy fabriek in Kansas City, Missouri, sluit en produksie in York, Pennsilvanië, konsolideer. Dit het sowat 260 werkers hul werk gekos.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.