Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Truworths laagste in nege jaar na wins duik

Die genoteerde Truworths-groep se wins het in die afgelope boekjaar tot einde Junie skerp met 74% geduik van R2,6 miljard in die vorige boekjaar tot R691 miljoen.

Michael Mark, jarelange uitvoerende hoof van Truworths.

Dit word toegeskryf aan die baie swak toestande in Brittanje met die Office-skoenwinkelgroep waarin Truworths ’n belang hou en wie se winsgewendheid erg geknou is.

Die impak op die winsgewendheid van Office het meegebring dat die drawaarde van dié bates hersien is. Dit het ’n afskrywingskoste (van sowat R1,8 miljard) meegebring wat die wins afgetrek het.

Die totale verkope van die groep, ingesluit Office, het met 3,7% tot R18,6 miljard gestyg.

Verkope in Brittanje in pond het met 0,9% gedaal, maar in randterme met 5% tot R5,1 miljard gestyg.

Verkope van Truworths in Suid-Afrika was ook flouerig en het met net 3% tot R13,5 miljard gestyg.

Michael Mark, uitvoerende hoof, sê die handelstoestande plaaslik is benadeel deur die hoë werkloosheidskoers en petrolpryse wat verbruikersvertroue en besteding geknou het.

Só het die verskillende afdelings se verkope vertoon:

  • Vroueklere, wat die grootste bydrae tot Truworths se verkope in Suid-Afrika lewer, het met 0,3% tot R5,1 miljard gestyg. Dit sluit in die vroueklere by Daniel Hechter, Ginger Mary, Glamour, LTD en Earthaddict.
  • Truworths se mansklere, wat insluit Uzzi, Daniel Hecter Men en LTD Men, het met 0,3% tot R3,6 miljard gestyg.
  • Identity se verkope het met 3,2% tot R2,1 miljard gestyg.
  • Die Truworths-winkelafdeling vir kinders, wat LTD Kids, Earthchild en Naartjie insluit, se verkope het met 18,6% tot meer as R1 miljard gespring.

Aanlyn laat wiel

Die groep verwag sy totale verkope sal aangehelp word deur sy aanlyn verkope omdat dit sterker styg as sy verkope in winkels.

Aanlyn verkope het in die boekjaar tot 9,6% van die groep se totale verkope gestyg.

Truworths se aanlyn verkope het in 2018 begin en het reeds in die eerste jaar winsgewendheid bereik.

Die omset van dié aanlyn verkope is reeds gelykstaande aan ’n medium tot groot Truworths-winkel.

Dit maak 34% van Office se verkope uit en verkope aanlyn daar het met 10% gestyg.

Meer winkels is in die tydperk gesluit as wat geopen is. Einde van die boekjaar het die groep 945 winkels gehad, vergeleke met 969 die vorige jaar. In Suid-Afrika het die groep 23 winkels geopen terwyl 30 gesluit is. In Brittanje is 17 winkels deur Office gesluit waarvan die meeste winkels binne winkels was. 

Meer winkelrekeninge

Die winkelgroep het in die boekjaar ’n rekord van 2,8 miljoen nuwe aansoeke gekry om rekeninge te open.

Die meeste van die aansoekers is onder 30 jaar oud.

Sowat ’n derde van die aansoeke word goedgekeur.

Die rekeninge waarop mense aktief koop het met 2,6% tot 2,7 miljoen gestyg.

Terwyl kontantverkope in Suid-Afrika met 0,1% gedaal het, het verkope op rekeninge met 4,5% gestyg.

Die verkope op rekeninge in Suid-Afrika verteenwoordig 70% van sy verkope.

Die uitstaande skuld op sy skuldboek (wat Truworths, Identity en YDE insluit) het R5,9 miljard beloop (2018: R5,6 miljard).

Die groep sê hy gebruik rekeninge om verkope aan te moedig aan sy kliënte in die hoofstroom middelinkomstemark in teenstelling met van sy mededingers wat ’n finansiëledienste-onderneming bedryf. Geen koste word op die rekeninge gehef soos aanvangskoste, klub- en tydskrifgelde en invorderingsgelde nie, behalwe vir ’n rekeningdienskoste van R32 per jaar.

Skuldlas

Truworths het voorheen sy beleggers verwittig dat die moeilike handelstoestande in Brittanje meegebring het dat Office met adviseurs en sy leners in gesprek getree het om moontlik sy skuld daar te herstruktureer.

“Die handelstoestande en verbruikersvertroue bly onder intense druk voor die einde Oktober-sperdatum vir Brexit, en na verwagting sal die kleinhandelsektor in die mediumtermyn beperkte groei sien.”

Die groep sê ’n ontleding van die adviseurs toon egter ’n groot finansiële herstrukturering van Office is nie in hierdie stadium nodig nie.

Die groep het R2,7 miljard se kontant uit bedrywighede geskep wat aangewend is om dividende te betaal, vir kapitaalbesteding, aandele wat teruggekoop is en om lenings te betaal.

’n Finale dividend van 135c per aandeel is verklaar (2018: 159c).

Truworths se aandeelprys is op R53,57 na dit Vrydag met 7% geval het. Dit is die laagste sedert Junie 2010.

Meer oor:  Office  |  Identity  |  Truworths  |  Michael Mark  |  Verkope  |  Winkelgroep  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.