Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Truworths skerm ná slegte nuus uit Brittanje

Truworths het Dinsdagoggend vure probeer doodslaan nadat Sky News berig het sy Britse skoenwinkelgroep Office is op die rand van ’n vrywillige sakereddingsproses.

Truworths het in die eerste helfte van die boekjaar bitter hoë produkinflasie van 16% gehad. Dit sou in die tweede helfte steeds skerp maar nie met 'n dubbelsyfer gestyg het nie.

Sky News het onder meer berig dat Office raadgewers aangestel het “om opsies vir herstrukturering te oorweeg”.

In ’n Sens-verklaring sê Truworths Office het wel raadgewers aangestel spesifiek om met krediteure te onderhandel vir die uitstel van skuld wat eers in Desember 2020 betaalbaar word. Die raadgewers is Alvarez & Marsal Europe en Deloitte.

Office het nagenoeg £45 miljoen se skuld. Die meeste daarvan moet in Desember 2020 as ’n enkelbedrag terugbetaal word.

“In die lig van die bedrukte kleinhandelomgewing wat op die oomblik in Brittanje ervaar word, het Office gesprekke aangeknoop met die relevante leners vir potensiële opsies vir skuldherstrukturering.”

Truworths sê hy verwag dat die moeilike handelsomgewing op mediumtermyn in Brittanje sal voortduur.

Die groep sê hy glo nie die herstruktureringsproses by Office sal ’n uitwerking hê op sy bedrywighede in Suid-Afrika en die res van Afrika nie.

Truworths het Office in 2015 vir nagenoeg £250 miljoen gekoop. Die skoenwinkel het sowat 100 winkels, die meeste van hulle in Brittanje.

Office se inkomste in pond het in die ses maande tot Desember met 3% tot £157 miljoen gedaal, hoewel dit in rand ’n styging van 0,8% tot R2,9 miljoen op Truworths se boeke meegebring het. Dis vergeleke met dieselfde ses maande van 2017.

Office se verkope beweeg, soos dié van baie klerekleinhandelaars, al hoe meer aanlyn. Aanlyn verkope verteenwoordig nou ’n derde van Office se verkope en het met 7,2% gestyg. Die groep het in die ses maande ’n netto van ses winkels toegemaak.

Truworths is een van verskeie Suid-Afrikaanse maatskappye wat hul vingers in Brittanje verbrand het.

Die beleggingsbeheerfirma Brait het in Januarie sy laaste aandele in die klerewinkels New Look aan krediteure gegee as deel van ’n skuldherstruktureringsproses. Die transaksie het New Look se langtermynskuld van £1,35 miljard tot £350 miljoen verminder.

Die restaurantgroep Famous Brands, wat onder meer Steers, Mugg & Bean en Wimpy besit, het in 2016 R2,1 miljard vir Gourmet Burger Kitchen (GBK) betaal. Dié burgerrestaurante is in sakeredding en het in die boekjaar tot einde Februarie ’n verlies van £4,6 miljoen gely ná 2018 se verlies van £3,6 miljoen.

’n Oënskynlike suksesverhaal is dié van TFG, die klerewinkelgroep wat onder meer Foschini, Duesouth, Totalsports en Donna besit. Dié winkelgroep se Britse filiaal het in die boekjaar tot Maart ’n styging van 31,3% in sy omset tot £408,3 miljoen behaal. Die groep maak ook steeds winkels oop – ’n netto van 36 winkels is in die boekjaar geopen.

Meer oor:  Truworths  |  Deloitte  |  Office  |  Brittanje  |  Kleinhandel  |  Sakeredding  |  Klerewinkel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.