Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tugstappe teen 10 hoës van Prasa ingestel

Die hoof van strategie, die vorige verkrygingshoof, vorige finansiële hoof en vorige maatskappysekretaris van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) is van die amptenare by die staat se passasierspoordiens wat aangekla word oor bewerings van staatskaping en korrupsie.

’n Voorbeeld van ’n oorvol trein van Metrorail, filiaal van Prasa. Die foto is bewerig weens die fotograaf se haas om sy selfoon weer weg te steek weens vrees vir sakkerollers en grypdiewe op stasies en in oorvol treine. Foto: Fransois Williams

Die burgerlike organisasie #UniteBehind het Vrydag die name van agt van die tien huidige en voormalige Prasa-amptenare bekend gemaak.

Dit kom nadat dr. Blade Nzimande, minister van vervoer, verlede maand al gesê het Prasa sal binnekort begin optree teen senior amptenare wat betrek is by bewerings van wanbestuur en korrupsie.

#UniteBehind het Prasa se optrede verwelkom, maar het die Valke en die nasionale vervolgingsgesag terselfdertyd gevra om te sê wat hulle al uitgerig het rakende strafsake wat reeds teen van die amptenare ingedien is, asook klagte teen mense soos die voormalige uitvoerende hoof, Lucky Montana.

Die kultuur van korporatiewe misdaad by Prasa, soos blyk uit forensiese ondersoeke in opdrag van die nasionale tesourie, die ouditeur-generaal, asook die Derailed-verslag van die voormalige openbare beskermer, het grootskaalse lyding veroorsaak vir spoorwegpendelaars oor Suid-Afrika heen, het #UniteBehind in ’n verklaring gesê.

Die amptenare teen wie Prasa tugstappe doen, sluit in:

  • Dr. Sipho Sithole, hoof van strategie;
  • Chris Mbatha, vorige verkrygingshoof;
  • Tumi Mohube, vorige maatskappysekretaris;
  • David Kekana, vorige finansiële hoof;
  • Kabelo Mantsane, veiligheidshoof;
  • Tara Ngubane, hoof van Prasa Corporate Real Estate Solutions;
  • Chris Moloi; en
  • Matshidiso Mosholi, senior bestuurder: verkryging en tenders by Prasa.

Khanyisile Kweyama, voorsitter van die Prasa-direksie, het Donderdag bevestig Prasa het met tugstappe teen die amptenare begin.

Sibusiso Sithole, waarnemende uitvoerende hoof van Prasa, sê Prasa is nie net ’n “gebreekte organisasie nie, maar een wat in die waakeenheid is”.

“Ons is ’n organisasie wat sukkel om te oorleef.”

Volgens Sithole sal die tugverhore teen tien amptenare wat by ondersoeke van die ouditeur-generaal en die openbare beskermer betrek is, in Oktober begin. Van die amptenare het al bedank, maar Prasa werk ook saam met die polisie se Valke-ondersoekeenheid om mense te vervolg.

Finansies

Prasa het uiteindelik sy jaarstate vir die 2016-’17-boekjaar aan Nzimande oorhandig, en dit wys ’n verlies van R928 miljoen, het Kweyama gesê. Sy inkomste het met 12% tot R2,9 miljard gedaal, met inkomste uit treinkaartjies wat van R2,7 miljard tot R2,3 miljard gedaal het.

“Die finansies toon ’n onderneming wat aan die bloei is, ’n organisasie wat stukkend is en onmiddellike ingryping nodig het.”

Bedryfsuitgawes het met 15% tot R10,6 miljard gestyg.

Volgens Kweyama het Prasa ook ’n leierskapskrisis. Die uitvoerende hoof neem waar, en byna 50% van die uitvoerende bestuurslede is in ’n waarnemende posisie.

Volgens Sithole word Prasa se bedryfsmodel hersien. Die probleme is grootliks weens swak korporatiewe bestuur en interne beheermaatreëls wat gebrekkig is.

Meer oor:  Prasa  |  #Unitebehind  |  Staatsondernemings  |  Spoorweë
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.