Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Twis in swart sakeraad: ‘BBC behoort aan sakelui’
Danisa Baloyi, geskorste president van die Black Business Council (BBC).

Binnegevegte skep ernstige tweespalt in die Black Business Council (BBC). Die spanning loop so hoog dat daar selfs sprake van doodsdreigemente is.

Lede van die BBC wat beskou word as lojaal aan Danisa Baloyi, die geskorste president van die sakeorganisasie, is in ’n stryd met die BBC se nasionale ampsdraers gewikkel, veral met die sekretaris-generaal, George Sebulela, en die voorsitter, Sello Rasethaba. Dit volg ná ’n aantal Baloyi-lojaliste na bewering met skorsing gedreig is.

Baloyi se skorsing hou verband met ’n skenking van R5,7 miljoen wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens aan die BBC gemaak het. Die geld het egter nooit by die BBC uitgekom nie.

Tydens ’n geskeduleerde jaarvergadering Vrydag wat op die laaste nippertjie gekanselleer is, het die lede wat dit wel bygewoon het ’n besluit geneem om die huidige leierskap te herroep en dadelik ’n vroeë verkiesing te hou in plaas daarvan om tot September te wag.

Die kwessie het reeds soveel spanning veroorsaak dat minstens tien organisasies wat lede van die BBC is in beginsel ingestem het om te ontbind.

Die BBC het in 2003 met Business SA saamgesmelt om Business Unity SA (Busa) te vorm. Maar in 2012 het die BBC weer sy bande met Busa verbreek sodat hy die belange van swart sakelui beter kan dien.

Churchill Mrasi, president van die National African Federated Chamber of Commerce and Industry (Nafcoc) het Vrydag aan City Press gesê alhoewel die organisasie en nege van sy geaffillieerde lede nog nie formeel besluit het om weg te breek nie, het hulle in beginsel ingestem om te verdeel. Die swart sakeorganisasies sal dan oorbly en die ander komponente sal hul posisies prysgee.

“Ons het die kwessie bespreek en in beginsel saamgestem die BBC behoort aan die sakelui, die res moet hul eie koers gaan,” sê Mrasi.

Hy sê die algemene siening onder afgevaardigdes is as die tweespalt nie opgelos word nie is dit onvermydelik dat die BBC sal skeur.

’n Besluit is Vrydag geneem om met ander sakeorganisasies binne die BBC te vergader om maniere te vind om die organisasie vir die sakelui “terug te eis” en ontslae te raak van liggame wat die belange van professionele lui dien.

Rasethaba en Sebulela, wat daarvan beskuldig word dat hulle aan die voorpunt van die skoonmaakaksies is om van sekere lede ontslae te raak, het ’n prokureursbrief aan Volchere Kgekwane, uitvoerende hoof van die National Black Business Caucus (NBBC) gestuur. Dit is die organisasie waaraan Baloyi behoort. In die brief eis die twee bestuurslui dat Kgekwane ophou om hulle te dreig.

In e-posse aan BBC-lede wat City Press onder oë gehad het, sê Kgekwane hy het ’n klag van intimidasie teen Rasethaba en Sebulela by die polisie gelê.

Kgekwane spreek ook sy kommer uit oor die wyse waarop Sebulela in Eskom se direksie aangestel is. Hy sê BBC-organisasies het net vier uur voor die aankondiging dat Sebulela as direksielid aangestel is, kennis gekry om ’n lid vir die Eskom-direksie te benoem.

Kgekwane ontken dat hy Sebulela en Rasethaba gedreig het.

Sebulela en Rasethaba word ook daarvan beskuldig dat hulle borgskappe namens die BBC gewerf het sonder die organisasie se mandaat of kennis – dieselfde beskuldiging as wat aan Baloyi gerig word.

Die twee se vliegkaartjies na die Wêreld- Ekonomiese Forum se vergadering in Davos, Switserland in Januarie is na deur Absa betaal. Absa het by navraag gesê hy het vir die kaartjies betaal na 'n versoek deur die BBC. 

Dít het Sebulela en Rasebatha die toorn van die organisasie se stoere swart stigterslede op die hals gehaal wat glo beweer hulle “bedel in die BBC se naam geld by witmonopoliekapitaal.”

https://www.fin24.com/Economy/allegations-push-black-business-council-to-the-brink-20180304

Meer oor:  Busa  |  Bbc  |  Black Business Council  |  Danisa Baloyi  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.