Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Tyd vir sjampanje’, Steinhoff voltooi skuldplan

Steinhoff International se finansiële herstrukturering is in werking gestel nadat die finale stappe om dit moontlik te maak, afgehandel is.

Die maatskappy het verlede Vrydag die sperdatum vir die inwerkingstelling tot eerskomende Maandag uitgestel, maar hy het Woensdag gesê dit kon vroeër gebeur omdat al die uitstaande stappe gedoen is. 

Louis du Preez, Reuters-foto
Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff, Dinsdag by die eerste aanbieding van die groep aan aandeelhouers sedert sy aandeelprys ineen gestort het. Foto: Reuters

Louis du Preez, uitvoerende hoof, het Dinsdag op ’n voorlegging aan beleggers gesê dit het 20 maande geduur om die groep finansieel te herstruktureer en dit was “hoogs kompleks en veeleisend”.

As sy kinders vra waarmee hy die afgelope paar maande so besig is, was sy verduideliking dat dit is soos “om ’n bord spaghetti te ontrafel”.

Die herstrukturering van sy twee filiale wat voorheen ingespan is om finansiering in die mark te kry, Steinhoff Europe AG (SEAG) en Steinhoff Finance Holding GmbH (SFHG), vind ingevolge ’n reëlingskema met hul krediteure kragtens Britse insolvensiewetgewing plaas.

LEES OOK: Steinhoff se skuldplan hik (hopelik) laaste keer

Die herstrukturering bring onder meer ook veranderinge aan die groep se maatskappystruktuur in Europa mee.

“Die maande se harde werk aan die finansiële herstrukturering het vandag (Woensdag) werklikheid geword. Die inwerkingstelling van die herstrukturering is ’n groot mylpaal op ons pad na herstel omdat dit stabiliteit meebring wat ons sal toelaat om daarop te fokus om waarde uit die bedryfsmaatskappye te verhoog,” sê Du Preez.

“Dit is werklik goeie nuus. Dit is in Londen deur die adviseurs beskryf as die mees komplekse skuldherstrukturering wat al daar onderneem is. Baie mense het gesê dit kan nie gedoen word nie,” het ’n woordvoerder van die groep per e-pos gesê. “Laat die sjampanje-prop klap.”

Steinhoff se aandeelprys op die JSE, wat Dinsdag ná die aanbieding in Suid-Afrika amper 4% laer gesluit het, het ná die aankondiging oor die herstrukturering met 1,6% gestyg.

Die flou markreaksie is waarskynlik omdat daar nog soveel onsekerheid oor die groep se toekoms is.

Du Preez het Dinsdag gesê die fokus gaan nou wees om ’n skikking te bereik in die regsgedinge teen die groep en om sy skuld te verminder voordat die skuldooreenkomste einde 2021 tot ’n einde loop en alle uitstaande skuld terugbetaal moet word.

LEES OOK: Steinhoff se plan met skuld wat sy wins verdwerg

Meer oor:  Steinhoff  |  Sfhg  |  Seag  |  Herstrukturering Skuldlas  |  Insolvensiewetgewing  |  Reëlingskema  |  Skuldplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.