Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Uber reken hy gaan dalk nóóit wins maak

Uber se finansiële data is uiteindelik openbaar nadat die laaste van sy noteringsdokumente ingekry is, maar nou sien beleggers ook vir die eerste keer werklik hoe ver weg diée app-gegronde taxidiens is van wins maak.

Uber wil in Mei noteer.

Uber wil in Mei op die New Yorkse aandelebeurs noteer en het omvattende finansiële resultate by die Securities and Exchange Commission (SEC), die waghond oor Amerikaanse aandelebeurse, ingedien.

Uber het tot dusver nog sy resultate dig gehou.

Al het die taxi-diens wêreldwyd 91 miljoen gebruikers wat in 2018 $50 miljard se taxi-besprekings gedoen het, het die maatskappy Vrydagoggend in sy brief aan die SEC en beleggers gesê hy maak nog nie wins nie en dit sal dalk nog lank so bly.

“Die maatskappy sal dalk nooit wins maak nie,” sê Uber.

Al hoe meer mededingers, ’n reeks skandale by Uber en sy enorme besteding van voertuie van die toekoms wat hulself bestuur en ander wat vlieg, vererger die probleem.

In 2018 het Uber $11,4 miljard verdien. Maar weens sy aggressiewe uitbreidingstrategie en die gepaardgaande hoër bedryfskoste het die maatskappy ’n verlies van $3,03 miljard gely.

Vir beleggers is dié resultaat op sigself nie die einde van die wêreld nie. Solank die maatskappy groei, volg Uber steeds ’n grootliks verwagte sakemodel van die meeste tegnologiese beginnerondernemings wat op uitbreiding eerder as winste fokus.

Maar die maatskappy groei nie meer so vinnig as wat aanvanklik verwag is nie.

In 2017 het gebruikers van Uber met 51% op jaargrondslag toegeneem, terwyl groei in 2018 net op 33,8% gestaan het.

Dit is juis die vrees van stagnasie wat Uber wel aanspoor om sy reeks dienste so aggressief uit te brei. Van die UberEats, die app vir kosaflewering, tot sy baanbrekende navorsing vir die voertuie van die toekoms.

Maar hy is nog ver weg van inkomste genereer uit sulke futuristiese dienste en hy vrees dat ander maatskappye met dié soort navorsing as hoofdoelwit, hom dalk kan verbysteek, berig TechCrunch.

Die maatskappy het in 2018 $457 miljoen aan dié projekte bestee, ’n derde van sy totale begroting vir navorsing en ontwikkeling.

Uber sê in die brief hy beoog om dié bedrag te verhoog, maar terselfdertyd gaan sy algemene bedryfskoste weens sy enorme uitbreiding oor die afgelope drie jaar klaar merkwaardig groei in die nabye toekoms.

Uber het nog die grootte van sy notering aangekondig nie, maar die verwagting is dat daar minstens $10 miljard se aandele beskikbaar gestel sal word.

Dié beraming aanvaar ’n waardasie van die maatskappy van tussen $90 miljard en $100 miljard, hoewel beleggingsbankiers vantevore gesê het die maatskappy is waarskynlik $120 miljard werd.

Selfs teen $10 miljard se aandele sal Uber steeds een van die tien grootste noterings nóg ter wêreld wees.

Meer oor:  Uber  |  Uber Eats  |  Apps  |  Taxidiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.