Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Uitgewers konkel glo met boeke se pryse

Die uitgewersbedryf in Suid-Afrika word daarvan beskuldig dat hy onderling konkel om die pryse van skoolhandboeke vas te stel, so ver terug as die 1980’s.

Uitgewers, boekinvoerders, boekverkopers aan die regering en onderwysinstellings en kleinhandelaars gaan ondersoek word vir die vasstelling van pryse van boeke, wat ’n oortreding van die Mededingingswet is. Foto: Argief

Die Mededingingskommissie het Woensdag aangekondig ’n ondersoek is begin na ’n klag teen die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (Pasa) en sy meer as 91 lede oor die prysvasstelling van boeke.

Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die Mededingingskommissie, sê hy het inligting ontvang wat dui op die moontlike betrokkenheid van uitgewers, boekinvoerders, boekverkopers aan die regering en onderwysinstellings en kleinhandelaars by die vasstelling van pryse van boeke, wat ’n oortreding van die Mededingingswet is.

Die boeke wat geraak word, sluit in:

  • Boeke vir van voorskoolse tot gr. 12-leerlinge, asook die gepaardgaande onderwysershandleidings en steunmateriaal;
  • Studentehandboeke, leermateriaal, die verwante onderriggidse en steunmateriaal vir tegniese en beroepsonderwys- en opleidingskolleges (TVET);
  • Handboeke en ander publikasies vir studie by tersiêre onderwysinstellings soos kolleges en universiteite;
  • Handboeke vir die bedryf (wat aan die algemene publiek te koop is); en
  • Die elektroniese weergawes van al bogenoemde boeke.

“Gegewe hoe wydverspreid die praktyk is en die belangrikheid van die produkte, verwag ons die deelnemers sal saamwerk in die ondersoek deur onmiddellik hul kartelbedrywighede te staak en die Mededingingskommissie te nader,” het Bonakele in ’n verklaring gewaarsku.

Volgens hom blyk dit ’n historiese praktyk te wees in die bedryf, en spruit dit so ver terug as die 1980’s.

Dit blyk die Internasionale Uitgewersvereniging steun prysvasstelling vir boeke omdat hulle meen dit maak juis die speelveld gelyk vir die boekbedryf en verhoed dat enkele handelaars oorheers. Daar is selfs wetgewing vir vasgestelde boekpryse in Frankryk, Argentinië, Duitsland, Griekeland, Israel, Japan, Italië, Oostenryk, Nederland, Noorweë, Portugal, Spanje, Suid-Korea en Slowenië.

In lande sonder dié wetgewing is prysvasstelling op boeke dus onwettig, met die gevolglike hofsake soos die een in 2012 in Amerika teen Apple en vyf uitgewers wat na bewering die prys van e-boeke vasgestel het in aanloop tot die bekendstelling van die iPad in 2010.

Pasa het nie Woensdag op navrae gereageer nie, behalwe deur ’n outomatiese e-posboodskap wat lui dat Pasa tans sy jaarvergadering hou en eers Donderdag beskikbaar sal wees.

Pasa-lede sluit onder meer in Bargain Books, Cambridge University Press se Afrika-tak, Caxton Books, Heinemann, Human & Rousseau, Jonathan Ball Publishers, Juta & Co, Kwela Books, Lapa-uitgewers, Macmillan SA, NB Uitgewers, Oxford University Press Suider-Afrika, Pearson Africa, Penguin Random House, Pharos Dictionaries, Shuter & Shooter, Tafelberg, UCT Press, Unisa Press, Via Afrika en Wits University Press.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.