Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Uitspraak gelewer in Solidariteit se hofaansoek
Lede van die vakbond Solidariteit staak voor Sasol se aanleg in Secunda.

Die hooggeregshof in Johannesburg het die nasionale ekonomiese ontwikkelings-en-arbeidsraad (Nedlac) beveel om wéér Solidariteit se aansoek vir ’n landwye staking van al die vakbond se lede te oorweeg.

Regter Leicester Adams het Vrydag in die vakbond se guns met koste beslis.

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregdienste van Solidariteit, het bevestig dat die vakbond Nedlac volgende week gaan nader om sy aansoek te hersien.

Solidariteit wil hê al 180 000 lede moet die reg hê om in solidariteit met wit Sasol-werknemers, wat tans besig is met ’n sloerstaking by Sasol oor die petrochemiese reus se nuwe aandeleskema, Khanyisa, te staak.

Solidariteit se lede het op 3 September met ’n sloerstaking in Sasol se aanlegte begin.

Wit werknemers kan net beperkte voordeel uit Khanyisa trek.

Solidariteit het in Augustus ingevolge art. 77 van die Wet op Arbeidsverhoudinge by Nedlac aansoek om ’n beskermde staking gedoen, maar die aansoek is van die hand gewys.

Art. 77 handel oor werkers se reg om te staak om maatskaplik-ekonomiese belange te bevorder of te verdedig. Dit is dus ’n breër gronde vir ’n staking as net salarisverhogings of dispute by ’n spesifieke onderneming.

Adv. Relleng Masipa, SC, het namens Nedlac geargumenteer dat personeelaandeleskemas reeds in 2015 die lig gesien het. Volgens hom het Solidariteit dus reeds jare gehad om daarteen beswaar te maak.

Adv. Corné Goosen, SC, wat Solidariteit verteenwoordig, het aangevoer hulle het geen beswaar teen personeelaandeleskemas nie, maar wel hoe dit toegepas word.

Instandhouding by Secunda

Sasol het by navraag gesê sy instandhoudingswerk verloop volgens plan.

Verslae wat aandui wat die huidige stand van sake by Sasol se aanleg in Secunda is en wat aan Netwerk24 gestuur is, wys egter die werk was Woensdag reeds sowat 48 uur agter.

Solidariteit het voorheen gesê sy sloerstaking in Sasol se aanlegte kos dié petrochemiese reus waarskynlik reeds miljoene rande.

Deon Reyneke, adjunk-hoofsekretaris van Solidariteit, sê Sasol het reeds op 26 Augustus met instandhouding begin.

Luidens Sasol se program moet die instandhouding teen 20 September afgehandel wees.


Meer oor:  Sasol  |  Leicester Adams  |  Secunda  |  Khanyisa  |  Staking  |  Solidariteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.