SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Maatskappye
Vroue-base trek steeds aan die kortste ent

Vroue in uitvoerende poste by Suid-Afrika se grootste maatskappye verdien tussen 5% en 10% minder as hul manlike eweknieë.

Dis onder die bevindings in PwC se  jongste PwC-verslag oor uitvoerende direkteurs se vergoeding.

Die verslag sê ook in die lig van korporatiewe skandale in private en openbare maatskappye in Suid-Afrika moet daar ’n beginselbesluit geneem word om individue verantwoordbaar te hou vir wanvoorstellings oor die maatskappy se geldsake, sê Gerald Seegers, PwC se hoof van mense en organisasie. 

“As ’n mens kyk na ’n geval soos Steinhoff, kon beleggers in die maatskappy se Nederlandse bedrywighede wel in ’n mate terugveg, maar dit is nie die geval in Suid-Afrika nie,” sê Seegers.

“Die vraag wat ons moet beantwoord, is watter uitwerking ’n oortreding van fidusiêre pligte of wangedrag op die vergoeding van uitvoerende hoofde sal hê en of maatskappye die aansporings kan terugkry wat aan uitvoerende hoofde betaal is wat misdrywe gepleeg het.” 

Hy was een van die opstellers van die jongste PwC-verslag oor uitvoerende direkteurs se vergoeding. Uit die verslag blyk dit die gemiddelde vergoeding van ’n uitvoerende hoof van een van Suid-Afrika se tien grootste genoteerde maatskappye was R24,9 miljoen per jaar in 2017.

Dié bedrag is net 1,3% hoër as in die vorige jaar – ’n aanduiding dat aansporingsteikens in ’n stram ekonomie dalk nie behaal is nie.

Finansiële hoofde van die tien grotes verdien gemiddeld R15,1 miljoen per jaar in totale vergoeding, en ander topbestuurders se totale vergoeding is R8,7 miljoen.

Die bedrae verwys na die totale gewaarborgde pakkette vir die hoofde van die voorste tien genoteerde maatskappye op die JSE soos op 30 April vanjaar. Luidens die verslag is hierdie maatskappye verantwoordelik vir 60% van die markwaarde van die beurs, na raming R8 700 miljard.

Die maatskappye is Anheuser Busch InBev, British American Tobacco, Naspers, Glencore, Richemont, BHP, Anglo American, FirstRand, Standard Bank en Sasol.

Profiel van ’n uitvoerende direkteur
Op 30 April 2018 was daar 1 144 uitvoerende direkteurs by aktiewe JSE-genoteerde maatskappye aangestel. Dis ’n daling van 2,5% teenoor 2017 se syfer. Die getal uitvoerende hoofde het ook verminder: van 355 in 2017 tot 342 in 2018. Die mediaan-ouderdom van ’n uitvoerende direkteur is 54 en hulle dien gemiddeld 4,6 jaar in die maatskappye se direksie. Uitvoerende hoofde en finansiële hoofde beklee hul ampte gemiddeld 4,1 jaar.

Die betalingsverhouding per maatskappy, dus die verhouding tussen die vergoeding van ’n maatskappyhoof en die gemiddelde vergoeding van al die ander werknemers van die maatskappy, wissel tussen 12,7:1 vir die laagste verhouding en 64,7:1 vir die hoogste verhouding. In 2017 het dit gewissel van 12,8:1 tot 61,8:1.

Die Gini-koëffisiënt, wat inkomsteongelykheid meet, vir werkende Suid-Afrikaners het effens gedaal – van 0,431 in 2017 tot 0,429 in 2018. Die land se algehele Gini-koëffisiënt was in 2017 heelwat hoër op 0,67.

“Maatskappye word al hoe meer verantwoordbaar gehou vir hul bydraes tot maatskaplike opheffing te midde van hierdie hardnekkige ongelykheid, sê Seegers.

Hy sê maatskappye is in die algemeen meer bewus van hul verantwoordelikheid om deursigtig oor vergoeding te rapporteer, veral omdat dit vertroue onder alle belanghebbendes bou.

“Dit bly ’n goeie strategie vir maatskappye om te fokus op die finansiële welstand van sy junior werknemers en om ten minste ’n menswaardige loon te betaal.”

In Suid-Afrika is die verhouding tussen mans en vroue in uitvoerende rolle steeds baie ongelyk, hoewel vordering gemaak is.

Die verslag het bevind dat daar in geen van die sektore wat gemeet is, meer as 30% vroue in senior leiersposte is nie en dat daar ook ’n betalingsgaping is wat daartoe lei dat vroue in uitvoerende poste tussen 5% en 10% minder betaal word as hul manlike eweknieë.

Meer oor:  Pwc  |  Vergoeding  |  Uitvoerende Hoofde  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.