Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ultimatum oor sigarette se tyd breek stil-stil aan

Die regering moes Maandag om 10:00 op British American Tobacco (Batsa) se ultimatum gereageer het om die vlak 4-inperking se regulasies te verander om die verkoop van wettige sigarette toe te laat.

BAT vervaardig ook sigarette in Suid-Afrika maar kon dit nie tydens die inperking doen tot dusver nie omdat dit nie 'n noodsaaklike bedryf is nie. Foto: Suzanne Plunkett, Bloomberg

Die tyd het gekom en gegaan.

Batsa het gedreig as dit nie gebeur nie, gaan ’n dringende aansoek in die hof gebring word om die verbod op sigarette te laat ophef.

'n Navraag is na 10:00 na die groep gestuur om uit te vind of 'n antwoord ontvang is. Batsa het laat weet hy gaan nie nou kommentaar lewer nie. 

Waarvoor is gevra?

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, is Vrydag in ’n sterk bewoorde verklaring gevra om die jongste weergawe van die regulasies wat ingevolge die Wet op Rampbestuur op 29 April uitgevaardig is te wysig. Batsa het gevra dat par. 27 van dié regulasies wat die verkoop van tabakprodukte verbied, verwyder moet word en dat tabakprodukte onder die lys van toegelate produkte ingesluit moet word.

Batsa verkoop onder meer Peter Stuyvesant-sigarette in Suid-Afrika.

Die groep het Vrydag in die verklaring gesê hy soek dringend duidelikheid oor die besluitnemingsproses wat daartoe gelei het dat die regering ’n verbod vir ’n onbepaalde tyd op die wettige verkoop van tabakprodukte opgelê het.

“Vóór pres. Cyril Ramaphosa se openbare toespraak op 24 April het die regering kommentaar en voorleggings oorweeg wat deur politieke partye, vakbonde, ondernemings, bedryfsverenigings en ander belanghebbendes gemaak is. In sy toespraak het die president sonder kwalifikasie die opheffing van die verbod op tabakprodukte vanaf 1 Mei aangekondig,” lui die verklaring.

“Die president het verder aangekondig dat die ministers van die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) die regulasies en voorskrifte sal uiteensit vir die vlak 4-inperking, wat die wettige verkoop van tabakprodukte insluit. In plaas daarvan het minister Dlamini-Zuma ’n openbare raadplegingsproses aangekondig, onder meer om die toelaatbaarheid van tabakprodukte onder vlak 4 te bepaal. Die benadering was inkonsekwent met die president se aankondiging, wat bereik is op grond van vasgestelde kriteria en Batsa het reeds reggemaak vir die hervatting van verkope.”

Bisar en hoogs onreëlmatig

Dlamini-Zuma het erken 70 000 voorleggings is ontvang oor verskeie onderwerpe. Die grootste hoeveelheid, volgens die minister (meer as 20 000) was oor oefening. Volgens die minister was 2 000 voorleggings oor tabakprodukte.

“Ten spyte daarvan was die enigste voorheen aangekondigde besluit wat as gevolg van die voorleggings omgekeer is dié oor die verkoop van sigarette. Die minister het na die 2 000 individuele voorleggings as ’n rede vir die stap verwys. Dit is op sigself bisar en hoogs onreëlmatig, hoofsaaklik omdat sy nie die tabakbedryf, kleinhandelaars, tabakverbruikers en ander wat die opheffing van die verbod ondersteun, die geleentheid gegee het om die herinstelling van die verbod teen te staan nie. Dit is baie onbillik en onwettig,” sê Batsa.

“Binne 24 uur van die minister se verklaring was daar ’n openbare versoekskrif wat die opheffing van die verbod op die verkoop van wettige sigarette versoek het. Die versoekskrif het 400 000 mense se ondersteuning gekry – ver meer as die 2 000 wat blykbaar voorleggings gemaak het.”

Die groep glo dis onmoontlik om nie tot die gevolgtrekking te kom dat die haastige aankondiging deur Dlamini-Zuma ’n “ad hoc- tweede konsultasie” was wat só ontwerp is om ’n bepaalde uitkoms te gee en om dit net te laat lyk asof dit die rede vir die omkeer in die besluit is nie.

Die beperkinge op ondernemings en mense onder die vlak 4-inperking is bedoel om die verspreiding van Covid-19 in die gemeenskap te voorkom, sê Batsa.

Wat van eetgerei wat gedeel word?

“Die redes wat Dlamini-Zuma aanvoer vir die omkeer van pres. Ramaphosa se besluit, is sowel verkeerd in die wet as in die wetenskap. Benewens die getal voorleggings, het die minister daaroor gegis dat arm mense sigarette deel en dat dit dus makliker die virus versprei. Dit ignoreer doelbewus die feit dat die deel van sigarette met iemand buite jou eie huishouding onmoontlik is indien die regering se eie riglyne vir sosiale distansiëring nagekom word,” lui die verklaring.

“Boonop, ’n verbod wat daarop gegrond is dat iemand iets met ’n ander persoon kan deel, moet dan logies van toepassing wees op feitlik enige voedsel of eetgerei, of hande skud. Niks hiervan word gereguleer nie. Dit is praktyke wat korrek met opvoeding aangespreek moet word.”

Batsa sê voorts die regering se eie navorsing wat twee weke gelede deur die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) uitgereik is, het getoon dat onwettige sigarette wyd beskikbaar was gedurende vlak 5 van inperking – veral in die armer gebiede.

“Die sigarette word verkoop teen baie meer as die normale wettige kleinhandelprys en ontneem die regering van broodnodige belasting, ondermyn tabakbeheerregulasies en moedig misdaad aan. En dit gaan net daartoe lei dat mense wel sigarette deel omdat dit so duur is.”

Die groep sê daar is wyd erkende gevare wat met rook verband hou, maar daar is geen bewyse dat rook jou kanse verhoog om Covid-19 te kry nie.

Baie belasting verloor

In 2019 het Batsa R13 miljard se aksyns en ander belasting soos maatskappy- en persoonlike belasting ingesamel en aan die regering oorbetaal. Die maatskappy skep werk vir 10 000 mense in die land en koop 90% van sy tabakblare in Suid-Afrika van boere in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

“Die tesourie verloor R36 miljoen broodnodige inkomste in aksynsbelasting elke dag wat die verbod op sigaretverkope voortduur,” sê Batsa.

“Dit verduidelik hoekom Tito Mboweni, minister van finansies, in die openbaar gesê het hy ondersteun Ramaphosa se aankondiging dat die wettige verkoop van sigarette onder vlak 4 hervat moet word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.