Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vaarwel, SABMiller!

’n Naam met ’n baie trotse Suid-Afrikaanse geskiedenis gaan vanaf Woensdag in die vergetelheid begin verdwyn.

Jy sal nog ’n Castle kan drink, maar SABMiller sal nie meer op die bottel staan nie. Foto: Jason Alden, OneRedEye

SABMiller sal op 10 Oktober heeltemal ophou bestaan nadat aandeelhouers van dié bierreus gestem het vir die maatskappy se verkryging deur die wêreld se grootste biermaatskappy, Anheuser-Busch InBev (AB InBev).

Altesame 97,23% van die stemme op die aandeelhouersvergadering was ten gunste van die samesmelting. By die Britse hof waar skema-aandeelhouers gestem het en wat uiteindelik die finale stempersentasie verteenwoordig, was 95,46% van die stemgeregtigde stemme ten gunste van die samesmelting. Dit sluit dié batebestuursfirmas in wat die volmag van aandeelhouers gehad het om te stem. 

SABMiller se twee grootste aandeelhouers, Altria en BevCo, wat altesame meer as 40% van SABMiller besit, het nie nodig gehad om te stem nie omdat hulle hulle reeds tot die samesmelting verbind is en as ’n afsonderlike klas aandeelhouers geklassifiseer is.

AB InBev het vroeër die oggend aangekondig die nuwe bierreus sal die naam AB InBev behou, sonder enige knik in die rigting van die Suid-Afrikaanse nalatenskap.

Met vorige verkrygings, in 2004 en 2008, het die maatskappy wat as Interbrew in België begin het, sy naam verander.

Die “nuwe” AB InBev noteer op 11 Oktober op die Euronext-beurs in Brussel, België, met  sekondêre notering op die JSE en in Mexiko. Amerikaanse depositobewyse, wat die ekwivalent van aandele is, word ook in New York genoteer.

SABMiller is meer as 120 jaar gelede, in 1895, as Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) deur Charles Glass gestig om goudmynwerkers van Johannesburg se dors te les. Dit was in 1897 die eerste nywerheidsmaatskappye wat op die JSE genoteer het.

Die maatskappy het op 1 Maart 1999 op die Londense Aandelebeurs genoteer.

Sy naam het in 2002 in SABMiller verander ná ’n ooreenkoms met die Amerikaanse brouery Miller.

Die maatskappy het byna 70 000 werknemers in meer as 80 lande. SABMiller raam dat 140 000 SABMiller-biere elke minuut van elke dag verkoop word.

Op 29 September vanjaar sal SABMiller-aandele vir die laaste keer op die JSE verhandel. Die maatskappy word op 5 Oktober in Johannesburg en Londen gedenoteer en smelt amptelik op 10 Oktober met AB InBev saam.

Net een senior bestuurder van SABMiller word deel van die nuwe, groter firma se direksie. Dit is Mauricio Leyva, tans besturende direkteur van Suid-Afrikaanse Brouerye by SABMiller. Hy word bevorder tot president vir Sentraal-Amerika. Leyva is van Colombia.

Jabu Mabuza, wat nie tans bande met SABMiller het nie, word voorsitter van die AB InBev Afrika-direksie .

Alan Clark, uitvoerende hoof van SABMiller, Domenic de Lorenzo, finansiële hoof, en Jan du Plessis, voorsitter van die direksie, is onder die tientalle hoëkoppe wat, uiteraard met groot goud handdrukke, uit die bierfamilie geskop word.

AB InBev se hoof vir Mexiko, die Brasiliaan Ricardo Tadeu, word die president van die nuwe firma se sake in Afrika. ’n Suid-Afrikaner met bykans 15 jaar ondervinding by SABMiller, Yokesh Maharaj, word wel bevorder tot president vir Suid-Afrika.

’n Aantal prominente bestuurslede van SABMiller het ingestem om minstens ses maande lank nog vir die groter groep te bly om te help met “integrasie, die behoud van talent en die bestuur van belanghebbendes”. Hulle is John Davidson, SABMiller se regsverteenwoordiger en hoof van korporatiewe sake, Johann Nel, groephoof van menslike hulpbronne, en Mark Bowman, besturende direkteur van SABMiller Afrika.

Dié vier mense sal in SABMiller se kantoor in Woking, buite Londen, aanbly. Die kantoor gaan ná die “oorgangstydperk” sy deure toemaak. Die kleiner kantoor in Sentraal-Londen word toegemaak.

AB InBev het aangedui nagenoeg 5 500 poste word vanweë die samesmelting besnoei, maar ingevolge voorwaardes van Suid-Afrika se Mededingingstribunaal mag geen Suid-Afrikaanse werknemer in die drie jaar ná die transaksie onvrywillig afgelê word nie.

Meer oor:  Ab Inbev  |  Sabmiller  |  Anheuser-Busch Inbev  |  Bier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.