’n Vakbond wat werkers van die SAUK verteenwoordig, het Woensdag bloedneus in die hof gekry in sy dringende aansoek om die afleggingsproses by die openbare uitsaaier te keer.

Die SAUK se hoofkantoor in Auclandpark, Johannesburg.
Die SAUK het die beslissing teen die vakbond Bemawu (Broadcast, Electronic, Media and Allied Workers Union) verwelkom.
Bemawu se aansoek is in die arbeidshof met koste van die hand gewys.
Die SAUK het verlede maand begin met ’n omstrede afleggingsproses van nagenoeg 400 van sy werknemers.
Dit word gedoen weens ’n ernstige tekort aan inkomste, het die SAUK vroeër gesê.
Die proses het egter groot ontevredenheid onder werknemers ontketen wat sê hulle is geensins by die onderhandelingsproses betrek voordat hulle art. 189-briewe ontvang het nie.
Ná heftige teenkanting en dreigende stakings is die afleggingsproses vir eers tot vroeg in die nuwe jaar gestaak.
Hannes du Buisson, president van Bemawu, het ná die hofuitspraak aan die SAUK se nuuskanaal gesê die vakbond gaan die uitslag bestudeer en op volgende stappe besluit.
Die SAUK het die uitspraak in ’n verklaring verwelkom en gesê dit verleen geldigheid aan die art. 189-proses wat tot dusver “insake prosedure, regverdig” en ná “behoorlike gesprekvoering tussen al die partye” van stapel gestuur is.
“Die SAUK het sestien konsultasies oor vier maande met verskeie rolspelers gevoer, waarvan sewe deur verteenwoordigers van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gelei is.
“Dit oorskry die wetlike vereiste van minstens twee vergaderings gehou oor twee maande.”
Intussen oorweeg die regering dit om die prys van TV-lisensies te verhoog as deel van sy plan om die SAUK se beroerde geldsake te beredder.
Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologieë, het Dinsdag in ’n parlementêre debat gesê die regering oorweeg dit om ingevolge die Wet op die Openbare Uitsaaier die prys van TV-lisensies van die bestaande R265 per jaar te verhoog. Geen bedrag is genoem nie.
Die SAUK sukkel wel om lisensiegelde van lisensiehouers in te vorder. Tans samel die SAUK net sowat ’n kwart van alle lisensiegelde in wat hom toekom.