Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vakbonde: Dit is nié ons wat SAL ten gronde dryf
Vakbonde en die departement van openbare ondernemings beskuldig mekaar oor en weer oor wié ’n besluit oor die SAL vertraag. Foto: Twitter

Drie vakbonde en die departement van openbare ondernemings is behoorlik in ’n bekgeveg vasgevang oor wie die skuld moet kry dat daar steeds geen finale besluit oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is nie.

Numsa, die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) en die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa), vaar behoorlik uit teen die departement in ’n verklaring nadat dié Sondagmiddag aangekondig het dat hy homself van die raadplegende leierskapsforum oor die SAL onttrek.

Die departement sê dié forum, wat in April deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, geskep is, dien nie meer sy doel nie. Dit blyk uit die departement se verklaring dat die besluit Donderdag om die vergadering met krediteure uit te stel die rede is hoekom hy hom nou van die forum onttrek. Daar sou op dié vergadering besluit word oor of die sakereddingsplan aanvaar word of nie.

Die drie vakbonde en SA Airlink – as krediteur – het aansoeke gebring dat die vergadering uitgestel moet word. Die vergadering gaan nou eers op 14 Julie gehou word.

LEES OOK: Pravin se forum oor SAL van die baan

Die vakbonde sê in hul verklaring dat hulle “glad nie verbaas is” dat die departement homself van die forum onttrek het nie.

“Om die waarheid te sê, dié besluit bevestig wat ons in die onlangse verlede gesê het dat die departement en Gordhan manipulerend en oneerlik was in sy betrokkenheid,” lui die vakbonde se verklaring.

Wat minister Gordhan en die huidige sakeredders vir die land gaan gee, is duidelik slegs iets wat as Kaapstad Lugdiens gedefinieer kan word.
Numsa, Sacca en Saapa

“Numsa, Sacca en Saapa het gewaarsku dat hulle dink hulle kan die hele land flous deur voor te gee dat hulle ernstig is om ’n nuwe lugdiens te skep, terwyl hulle in werklikheid besig is om die lugdiens te vernietig.”

Hulle sê wat gaan oorbly van die SAL gaan nie ’n lewende en suksesvolle lugdiens wees nie, maar ’n skaduwee van die lugdiens soos ons dit ken.

“Wat minister Gordhan en die huidige sakeredders vir die land gaan gee, is duidelik slegs iets wat as Kaapstad Lugdiens gedefinieer kan word,” vaar hulle verder uit.

Die vakbonde sê die departement se besluit om uit die forum te onttrek wys dat arbeid nié gekonsulteer moet word oor ’n reddingsplan vir die lugdiens soos wat die maatskappyewet vereis nie.

Hulle sê dit is eienaardig dat die staat, as aandeelhouer in die SAL, wil onttrek van ’n poging om die lugdiens te red.

“Die enigste gevolgtrekking wat ons hieruit kan maak, is dat die departement besef ons het hul voornemens om vakbonde in die forum te bestuur blootgestel en dat hy nie te goeder trou deelgeneem het nie.”

Die vakbonde beskuldig Gordhan daarvan dat hy “goedkoop propaganda” gebruik om agter die Covid-19-pandemie te skuil as ’n rede vir hoekom die staat nie die lugdiens wil kapitaliseer nie. Die vakbonde gee dan ’n lys van voorstelle wat hulle gemaak het om die lugdiens te red.

Vlugte

Die vakbonde sê dat hulle het herhaaldelik gevra dat die SAL – net soos ander lugdienste – weer van Julie af moet vlieg. Die sakeredders en die departement hou egter vol dat vlugte eers in 2021 hervat sal word.

Die vakbonde sê deur nié die lugdiens weer in bedryf te stel nie, sal ander lugdienste die SAL se markaandeel oorneem.

Die vakbonde sê ook die sakeredders se voorstel dat net ’n paar binnelandse roetes behou word en ander gekanselleer word, is “onverantwoordelik”.

LEES OOK: SAL: Só lyk die plan van R26,7 mjd.

Hulle waarsku dat veral SA Airlink roetes sal uitbuit waaruit die SAL ’n wins kon maak.

Instandhouding en brandstof

Die vakbonde sê hulle het van die oomblik toe die SAL in Desember in sakeredding geplaas is ’n voorlegging aan die sakeredders gemaak waarin hulle wys dat deur bloot op die koste van instandhouding, brandstof, huur en finansiering te fokus die lugdiens gered kon word.

“Dié plan is deur die departement én die sakeredders geïgnoreer. Inteendeel, die sakeredders en die departement fokus net op een aspek: arbeid,” sê hulle.

“Die versuim van die departement en die sakeredders om na dié koste te kyk en hoekom hulle slegs op arbeidskoste konsentreer, bly verwarrend. Hulle is opvallend stil oor die koste van instandhouding, brandstof, huur en finansiering.”

Arbeid

Die vakbonde sê hul voorstel was dat die lugdiens se arbeidsmag van 4 700 na 3 200 verminder word. Die sakeredders se plan stel voor dat dit tot net 1 000 verminder word.

Die vakbonde sê hulle het voorgestel dat net ’n klein aantal van die 3 200 aanvanklik moet help om die lugdiens weer op die been te bring en dat die res dan mettertyd weer kan begin werk.

Hul voorstel was dat werknemers gedurende die wagtyd steeds 75% van hul salaris moet ontvang, terwyl hulle ook verdere opleiding kry.

Geen plan

Die vakbonde sê dit is nou baie duidelik dat daar geen omkeerplan vir die SAL is nie, maar “net ’n plan om werkers uit diens te stel”.

“Trouens, ondanks die belofte aan die publiek dat daar ’n verbintenis is om ’n lewensvatbare ommekeer by die SAL te verseker sien ons absoluut geen lig aan die einde van die tonnel nie, net die feit dat ons sal eindig met die likwidasie van ’n nasionale lugdiens.”

Oor hul aansoek om die besluit oor die sakereddingsplan tot 14 Julie uit te stel, sê die vakbonde sou hulle dit nié doen nie, sou krediteure die plan waarskynlik van die hand wys.

“Van die krediteure het 69% ten gunste van ’n verdaging gestem, wat net kan beteken dat hulle ook ’n probleem met die plan het soos wat dit voorgelê is. Anders sou hulle, in die onwaarskynlike geval dat hulle wel vir die plan sou stem, vir ’n lugdiens van slegs 1 000 werknemers stem volgens ’n beuselagtige plan wat op lang termyn sou misluk,” sê hulle.

“Ons het geen ander opsie gehad as om ’n verdaging en dus die stemming uit te stel om die plan te wysig nie aangesien albei hierdie moontlikhede rampspoedig vir die lugdiens en sy werkers sou wees.”

Die vakbonde herhaal hul beroep op Gordhan om die plan te laat vaar om 3 700 werknemers uit diens te stel. Hulle wil ook hê hy moet bekend maak watter beleggers in die SAL belangstel. Hulle vra ook weer die staat om die nodige kapitaal beskikbaar te stel om die lugdiens te red.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.